’n Nóg kleiner rosyntjie-oes verwag

Estimated reading time: 3 minutes

Die derde Suid-Afrikaanse rosyntjie-oesskatting vir die 2025/26-seisoen wat op 13 Februarie gepubliseer is, is aansienlik laer as die vorige twee skattings. Die verwagte oesskatting is tans 86 500 ton – 14% laer as die vorige skatting.

Stefan Jordaan, algemene bestuurder van Vine Academy and Model Farm in Kakamas, was betrokke by die oesskatting en voorspel dat die reën wat die Noord-Kaap in Februarie ontvang het, saam met die moontlikheid van verdere reën kan veroorsaak dat die finale oesskatting aansienlik laer gaan wees as wat aanvanklik verwag is.

Redes vir laer oesskatting

Met die eerste oesskatting is daar gehoop dat Suid-Afrika vanjaar deur die 100 000 ton sal breek. As gevolg van ongunstige klimaatsomstandighede het die oesskatting egter elke keer verlaag.

Volgens ’n persverklaring van Raisins SA is die swakker verwagte oes die gevolg van die erge donsskimmel wat in sekere omgewings voorgekom het, aanhoudende hittegolwe wat die Noord-Kaap in Januarie getreiter het, vroeë kultivars wat nie goed gevorm het nie en die reën in Februarie.

Jordaan sê dit is veral omgewings rondom Upington wat die ergste onder donsskimmel deurgeloop het. Areas suid van Kakamas en die Wes-Kaap lyk egter goed.

Verwagte opbrengs uit verskillende streke

Volgens die derde oesskatting sal die Noord-Kaap sowat 66 442 ton oplewer. Dit is 76,8% van die land se opbrengs. Die Wes-Kaap behoort 15 058 ton (17,4%) by te dra en Namibië kan 2 000 ton (2,3%) oplewer. Die ander 3,5% is tafeldruiwe en eksperimentele kultivars wat uit 2 300 ton uit die Noord-Kaap en ’n verdere 700 ton uit die Wes-Kaap bestaan.

Jaarlikse rosyntjie-oes van 1996 tot 2024. (Bron: Vine Academy and Model Farm)

Impak van laer oes

Alhoewel die derde produksieskatting laer is, is die kwaliteit van uitvoerrosyne steeds op standaard.

Die laer oes sal beslis ’n uitdagende seisoen meebring, veral in die areas waar produsente direk geraak is. Hoewel baie produsente se inkomste minder sal wees as waarop hulle gehoop het, bly Jordaan positief dat die bedryf oor die langer termyn steeds op ’n gesonde en volhoubare grondslag staan. Volgens hom het ronsyntjieprodusente die afgelope twee jaar besonder sterk oeste behaal toe die prys en produksie baie gunstig was. Jonger, hoër produserende wingerde en nuwe kultivars met meer konstante produksies kan die bedryf deurdruk.

Hy sê die verwagte laer oes gaan steeds bo gemiddeld wees as dit met die afgelope dekade se rosyntjie-oes vergelyk word.

Die vierde oesskatting word op 13 Maart bekend gemaak en die finale rekonsiliasie op 30 Junie. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting skakel gerus met Wessel Lemmer by 071 354 2948 of met Stefan Jordaan by 082 305 1555.

Popular stories