Estimated reading time: 6 minutes
- Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar te boer. Sou hy hierdie doelwit wil bereik, moet sy diere gesond wees.
- Presisievoeding verseker dat die produsent akkuraat aan die diere se behoeftes voldoen.
- Die proses van presisievoeding begin by die ontleding van weiding en, indien nodig, die grond en water om te bepaal watter voedingstowwe ontbreek.
- Hoewel presisievoeding dikwels met intensiewe stelsels soos voerkrale geassosieer word, is dit net so belangrik in ekstensiewe veeboerderye.
- Swak melkproduksie, ‘n lae liggaamskondisietelling, besettingsyfers, kalwingsprobleme, haarkleed en dies meer is aanduidings van voedingstekorte.
Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar te boer. Sou hy hierdie doelwit wil bereik, moet sy diere gesond wees. Daarom is presisievoeding ’n belangrike aspek in enige boerderyplan. Volgens Ashley Grimsell, ’n voedingkundige en tegniese bestuurder by Voermol, is voeding en gesondheid die twee belangrikste steunpilare in enige veeboerdery. As die diere nie die nodige inentings of die regte voeding volgens die produksiestadium waarin hulle is ontvang nie, is die kanse goed dat die produsent nie sy doelwitte gaan bereik nie.
Presisievoeding verseker dat die produsent akkuraat aan die diere se behoeftes voldoen, en boonop baie spaar aangesien voedingstowwe optimaal benut word. Dit wil sê, minder van die voedingstowwe wat nie opgeneem is nie, word in die mis en urine uitgeskei. Produsente moet wel daarop let dat die byvoeding wat gegee word in ooreenstemming met die basiese voedingsprogram moet wees.
Presisievoeding in veeboerderye
Presisievoeding word hoofsaaklik in voerkrale gebruik, maar dr Conrad Coetzer, produksie- en tegniese hoof by Westbury Supplement Feeds, poog om die beginsels van presisievoeding eerder in praktyk om te sit. Dit behels ’n wetenskaplike en streekspesifieke benadering wat gebruik maak van tegnologie, streekspesifieke formulerings en ’n goeie begrip van die produsent se unieke uitdagings.
“Presisievoeding is die afgelope dekade toenemend in die kollig. Dit is ’n bestuurstrategie wat daarop gemik is om diere op ‘n geskikte tyd en plek van die nodige voeding in die regte hoeveelhede te voorsien. Hierdie benadering kombineer wetenskaplike analise, moderne tegnologie en praktiese landbou-omstandighede om optimale produksie en gesondheid te bevorder wat uiteindelik winsgewendheid verhoog,” verduidelik hy.
Vir beide hierdie kenners kan presisievoeding gedefinieer word as die doelgerigte aanvulling van voedingstowwe wat nie voldoende in natuurlike weiding of plaaslik beskikbare grondstowwe voorkom nie. “Dit behels om die diere presies te voer wat hulle nodig het, niks meer en niks minder nie. Dit is noodsaaklik om die regte hoeveelheid te voer, omdat voedingstoftekorte direk diere se gesondheid, reproduksie en groei kan benadeel.”
Die begin van presisievoeding
Die proses van presisievoeding begin by die ontleding van weiding en, indien nodig, die grond en water om te bepaal watter voedingstowwe ontbreek. Die vraag wat dikwels by produsente opduik is hoe om te bepaal watter grondstowwe addisioneel benodig en hoeveel daarvan aan die diere toegedien moet word. Volgens dr Coetzer neem sommige veevoermaatskappye namens die produsente monsters van die weiding om te ontleed en akkuraat vas te stel of daar ’n tekort aan minerale en ander voedingstowwe is. Hierdie inligting word gebruik om ’n unieke voedingsprogram saam te stel wat verseker dat die diere presies kry wat hulle benodig.
Die databasis het oor die jare ontwikkel, en dikwels is genoeg data vir ’n spesifieke omgewing ingesamel wat onmiddellike aanbevelings bied sonder dat dit nodig is om vir die ontledingsresultate te wag.
Daar is egter ander faktore wat ’n beduidende rol speel. “Die klimaat, grondtipe, produksiestelsel, plaaslike habitat en selfs die ras waarmee geboer word, dra tot die formulering van ’n voedingsplan by. Geen produsent kan van ’n gestandaardiseerde plan gebruik maak nie en moet dit eerder by die unieke omstandighede op die plaas aanpas,” sê dr Coetzer.
Hy voeg by dat goeie bestuur ook ’n vereiste vir suksesvolle presisievoeding is. Produsente moet gereeld die diere se voerinname monitor en kondisies evalueer om sodoende die aanvulling as deel van ’n holistiese produksiebestuurstrategie toe te pas. Geen plaas is identies nie en daarom moet elke presisievoedingsplan by die plaas se unieke produksiestelsel aangepas word. Dit sluit in die ras waarmee geboer word, die omgewingsklimaat, weiding en bestuurspraktyke. Sy raad is dat kundige spesialiste genader word om ’n pasmaak-oplossing vir die plaas te ontwikkel.
Volgens Grimsell is klimaat, weiding, voeding, gesondheid en spanning van die belangrikste faktore wat ’n dier se produktiwiteit kan beïnvloed. Met goeie bestuur kan hierdie probleme egter oorbrug word.
Voedingstekorte in weiding
Hoewel presisievoeding dikwels met intensiewe stelsels soos voerkrale geassosieer word, is dit net so belangrik in ekstensiewe veeboerderye. Omdat weiding in Suid-Afrika dikwels arm is aan sekere mikro- en makrominerale, moet diere bykomende aanvullings kry. Die voedingstofsamestelling van grondstowwe wissel. Daarom is ontledings belangrik om voedingkundiges in staat te stel om goed-gebalanseerde voere te formuleer.
Tekorte is nie altyd sigbaar nie en kan dus nie op waarneming alleen bepaal word nie. Die doel is nie om blindelings te voer nie, maar eerder presies te voer wat die diere in daardie stadium benodig. Grimsell meen presisievoeding word die beste in intensiewe omstandighede toegepas, omdat die produsent beheer het oor wat die diere inneem. Dit is moeilik om elke dier se tekortkominge in ’n ekstensiewe boerdery te bepaal.
“Hoewel die weiding in elke kamp wissel, is daar tog tekens en simptome wat uit tekorte voortspruit, waarna die produsent kan oplet. Soms kan die dier se mis ook antwoorde bied. Swak melkproduksie, ‘n lae liggaamskondisietelling, besettingsyfers, kalwingsprobleme, haarkleed en dies meer is aanduidings van voedingstekorte,” verduidelik sy.
Algemene simptome van ’n voedingstekort sluit in:
- Kalsium: Vertraagde groei by jong diere en osteoporose.
- Fosfor: Swak voerinname, gedempte eetlus, pika, lusteloosheid, verminderde groeitempo, gewigsverlies, verlaagde melkproduksie.
- Magnesium: Prikkelbaarheid, bewerasies, skuim om die mond, hipertensie, gebrekkige spierkoördinasie, stuiptrekkings en skielike vrektes.
- Swael: Verminderde voerinname, gewigsverlies.
- Natrium: Gedempte eetlus, verlaagde melkproduksie, neiging om te lek, droë borselhaarbedekking.
- Chloor: Hittestres.
- Kalium: Vermindering van voer- en waterinname, verlaagde liggaamsgewig en melkproduksie, verlies aan haarglans, swakheid, vrektes.
Hoë hoeveelhede van makro- of spoorminerale kan ook tot tekorte lei. Aanvullings met ’n hoë swaelinhoud kan byvoorbeeld ’n seleniumtekort veroorsaak, terwyl ’n hoë ysterinhoud – soos in sekere waterbronne in Suid-Afrika – weer tot ’n tekort aan sink kan lei. Grimsell se raad is om die hulp van ’n voedingkundige in te roep om die nodige byvoedingsbehoefte te bepaal.
“Voeding en ’n goeie gesondheidsprogram is die spil waarom ’n goeie veeboerdery draai. Kyk na die volledige voedingsprogram in ’n ekstensiewe boerdery. Neem die diere genoeg energie en proteïene vanaf die weiding en deur aanvullings in? Wat behels die gehalte en opbrengs van die weiding? Eers dan kan die makrominerale, en daarna die spoorminerale wat moontlik tekortskiet, in aanmerking geneem word.”
Prys versus wins
Dr Coetzer meen baie produsente kyk onmiddellik na die prys van voer en werk hul begroting daarvolgens uit, maar met presisievoeding moet jy eerder die hoogste wins per eenheid oorweeg, hetsy dit ‘n vleis-, melk- of wolproduksie-eenheid is. Verder moet die totale hoeveelheid wat geproduseer word teenoor die grootte van die produksie-area bepaal word deur voerdoeltreffendheid, groeitempo, melkproduksie en reproduksiesukses te monitor. Al hierdie faktore word deur korrekte voeding beïnvloed.
Hoewel presisievoeding oënskynlik duur mag voorkom, is die wins wat oor die lang termyn gegenereer word soveel groter. Om winsgewend te boer behoort produsente altyd die bestuursfaktor in gedagte te hou. “Selfs die beste aanvullings kan nie opmaak vir swak bestuur nie. Presisievoeding vereis dat produsente hul vee se voerinname monitor, weidings reg bestuur en kondisie dophou. “Goeie bestuur verseker dat aanvullings nie vermors word nie en dat vee die volle voordeel daarvan geniet.” – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel dr Conrad Coetzer by 082 450 6196 of Ashley Grimsell by 083 296 8368.