Estimated reading time: 5 minutes
Die sesde NAMPO Kaap-ekspo het op ’n hoogtepunt afgesluit en ’n rekordgetal van 49 326 besoekers van 10 tot 13 September by Bredasdorp Park gelok. Die geleentheid het homself as ’n toonaangewende platform vir landbou in die Wes-Kaap gevestig en het produsente, landboubesighede, beleidmakers en die breër gemeenskap bymekaar gebring in ’n atmosfeer wat innovasie sowel as tradisie gevier het.
Sedert sy ontstaan in 2018, toe 16 000 mense die eerste ekspo bygewoon het, toon NAMPO Kaap bestendige groei. Vanjaar se bywoning het die 45 894 van verlede jaar ver oortref. Uitstallers het hul tevredenheid uitgespreek oor die gehalte van gesprekke en terugvoer gegee dat daar sterk besigheid gedurende die vier dae van die skou gedoen is. “Gesprekke het vinnig in besigheid verander – dit is presies die waarde wat NAMPO Kaap bied,” het een uitsteller gesê en beklemtoon dat die ekspo beide ’n ontmoetingsplek en ’n mark vir landbou in die streek is.
Innovasie-gedrewe
Getrou aan die 2025-tema, “Slim tegnologie vir doeltreffende hulpbronbestuur”, het NAMPO Kaap ’n groot verskeidenheid innovasies vertoon wat produsente help om meer te produseer met minder hulpbronne. Van outonome trekkers en hommeltuie tot presisie-besproeiing, hernubare energie-oplossings en vee-sensors, het die demonstrasies en uitstallings praktiese insig in die toekoms van boerdery gebied. Produsente het positief gereageer en beklemtoon dat slim tegnologie nie meer ’n luukse is nie, maar ’n voorvereiste vir volhoubaarheid in ’n omgewing wat deur klimaatsverandering, stygende insetkoste, en toenemende druk op natuurlike hulpbronne gekenmerk word.
Politieke trekpleister
NAMPO Kaap 2025 was ook ’n trekpleister vir adjunkpresident, Paul Mashatile, wat die ekspo op Vrydag 12 September besoek het. Sy program het met ’n inligtingsessie begin waaraan dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Jeremia Mathebula, voorsitter van Graan SA se landbou-ontwikkelingafdeling, Phahama Grain Phakama (PGP), deelgeneem het. Daarna het ’n interaktiewe sessie met rolspelers in die sektor gevolg, insluitend Graan SA, Agri SA, Absa, Land Bank, die Landbounavorsingsraad (LNR), SA Wyn, SA Olyf, Syngenta, en die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut (Sabi).
Die adjunkpresident het die gehoor toegespreek voordat hy ’n wandeling deur die uitstallings geneem het, waar hy direk met produsente, landboubesighede, en uitstallers in gesprek getree het. In sy opmerkings het hy die belangrikheid van samewerking en vennootskappe binne die waardeketting beklemtoon en die behoefte aan volgehoue samewerking om voedselsekerheid te versterk.
Sektore vergader
Die ekspo het ook ’n platform gebied vir belangrike sektor-spesifieke gesprekke, onder meer ’n gefokusde paneelbespreking oor die toekoms van die garsbedryf in Suid-Afrika wat deur Graan SA aangebied is. Die gesprek het die huidige ekonomiese uitdagings vir produsente belig, maar het ook op nuwe geleenthede vir groei gewys.
Soufflet het sy R2 miljard-belegging in ’n nuwe moutery in Sedibeng bevestig, wat vanaf 2027 jaarliks 100 000 ton sal produseer. Die Suid-Afrikaanse Garstelersinstituut (Sabbi) het die aanstelling van Willem Botes as nuwe hoofbestuurder aangekondig om plaaslike teelprojekte te versterk. Produsente en opbergingsverteenwoordigers het ook standaarde, risiko’s, en geleenthede vir groter stabiliteit in die garsbedryf bespreek. “Hierdie gesprek wys dat gars werklike geleenthede vir diversifikasie en volhoubare groei bied,” het Graan SA se uitvoerende hoof, dr Tobias Doyer, gesê.
Kommer oor weer
NAMPO Kaap 2025 het ook ’n besondere rol as ’n platform van hoop gespeel tydens ’n tyd van ongunstige weertoestande in die winterreënval-produksiestreke. Baie produsente gaan tans deur ’n moeilike tyd en wag dringend op reën, maar NAMPO Kaap het hulle die geleentheid gegee om weer inspirasie en moed te kry. Vir baie het die skou ’n plek geword waar hulle met medeprodusente kon gesels, weer kon glimlag, en kon onthou dat landbou deel van ’n groter gemeenskap en toekoms is.
Volgens dr Dirk Strydom, NAMPO se besturende direkteur, het die week weereens getoon wat ’n belangrike rol NAMPO Kaap speel om ’n ruimte te skep waar produsente toegang tot die nuutste kennis en tegnologie kan kry sonder om ver van hul plase af te reis. “Die groei van NAMPO Kaap wys net hoe relevant en noodsaaklik hierdie platform vir produsente in die wintergraangebiede is. Dit is ’n plek waar idees uitgeruil word, uitdagings aangespreek word, en oplossings uitgestal word wat werklik verandering op plase kan dryf,” het dr Strydom gesê.
Ekonomiese inspuiting
Buiten die landboufokus het NAMPO Kaap weereens sy impak op die plaaslike ekonomie en gemeenskap bevestig. Bredasdorp en omliggende dorpe het vol bespreekte gastehuise, besige restaurante, en die skepping van seisoenale werksgeleenthede gedurende die week van die ekspo gerapporteer.
Die geleentheid het gesinne en gemeenskapslede gelok, met hoogtepunte soos die Boerboel-kampioenskappe, die BKB Merino Classic, en pensteek wat kulturele kleur by die tegnologie-vertoning gevoeg het. “NAMPO Kaap is nie net ’n platform vir boere nie, maar ook ’n gemeenskapsfees,” het Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park NPC-raad gesê, wat die ekspo saam met Graan SA aanbied.
By die terugblik op die sukses van NAMPO Kaap 2025, het dr Doyer die week in een woord opgesom: Inspirerend. “NAMPO Kaap het ’n gevestigde instelling geword. Die sukses daarvan is die gevolg van sterk vennootskappe, toegewyde uitstallers, lojale produsente, en die trotse ondersteuning van die Overberg-gemeenskap. Hierdie jaar se geleentheid het landbou se veerkragtigheid, vindingrykheid, en vasberadenheid om te floreer, getoon.” – Graan SA-persverklaring verwerk deur Plaas Media