Estimated reading time: 5 minutes
Die Swartlandse dorp Moorreesburg het van 3 tot 6 September behoorlik uit sy nate gebars met die 91ste Swartlandskou –’n tentoontoonstelling van die landboubedryf se voorste tegnologie, diere, en implemente. ’n Rekordgetal van sowat 21 000 besoekers het dié skou oor vier dae besoek.
Nuutste tegnologie eerste hier te sien
Daar is jaarliks gesonde mededinging onder die Swartlandskou se uitstallers om een van die skou se gesogte pryse in die afdelings vir onderskeidelik masjinerie-, motor-, en landbounywerheid-uitstallings op te raap.
Die landboumaatskappy AFGRI, een van die Swartlandskou se ankerborge, het vanjaar die nuwe John Deere T6700-stroper by die skou bekend gestel – ’n eerste in Suid-Afrika. Hierdie tentoonstelling het die AFGRI-span die Nulandis-wisseltrofee vir die beste uitstalling in die kategorie vir implemente bo R15 miljoen besorg, sowel as vir die beste verkoopspersoon vir implemente bo R15 miljoen.

Interraskampioenskap herskryf die geskiedenisboeke
Hierdie gesogte beesskou lok elke jaar van die land se voorste telers sowel as talle skougangers wat die gehalte-diere wil kom aanskou. Die kampioenskap het vanjaar gasheer gespeel vir altesaam sewe verskillende beesrasse, naamlik Swart Angus, Rooi Angus, Hereford, Simmentales, die Santa Gertrudis-beesras, sowel as Romagnola.
Daarbenewens het dit ook vanjaar op ’n geskiedkundige noot afgesluit toe die Angusstoet, De Panne, die titels vir opperste kampioenbul, sowel as opperste kampioenkoei verower het. Volgens die skou-organiseerders is dit die eerste keer in die geskiedenis van die Swartlandskou dat ’n teler met beide titels wegstap.
Agtspan-wagperde sorg vir skouspel
Perde is oor al die jare heen een van die spilpunte waarom die Swartlandskou draai, en vanjaar was dit nie anders nie. Die nasionale Vlaamperdkampioenskappe, sowel as die Wes-Kaapse Saalperd-streekskampioenskappe is by die 2025-skou aangebied, met ruiters wat in verskillende klasse deelgeneem het. Die wagspanne van agt is elke jaar ’n groot hoogtepunt en vanjaar het Martin Eksteen as die kampioenwagspan vir 2025 weggestap.
Skaapramme en -skeerders wys hul staal
Altesaam 73 SA Vleismerino’s van ses telers het vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Super 10-vleismerinokampioenskappe deelgeneem. Jannie du Toit, van die stoetery Vlakkerug Vleismerino’s in Riekbeek-Wes, was die ontvanger van die Victor Ludorumtrofee. Daarmee saam het Johan Kotzé, van Korhaansrug Merino’s op Moorreesburg, die Merino-grootkampioenram vir 2025 opgelewer, terwyl Eben Schellink, van die stoetery Swartland Merino’s van Malmesbury, die trofee vir die reserwe grootkampioenram gewen het.
Die land se skaapskeerders het ook die geleentheid gehad om hul staal by die Swartlandskou te wys. Die Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskappe is vanjaar in samewerking met die Suid-Afrikaanse Skaapskeer-federasie en dr Jasper Cloete, van die landboukollege Elsenburg, aangebied. Skaapskeerders kon gedurende die kampioenskappe meeding om vir die 2026 nasionale kampioenskappe te kwalifiseer. In die ope-skeerafdeling het Hans Van Schalkwyk die eerste plek, Zakobane Qamakhana die tweede plek, Dumisani Xhasa die derde plek, en Willie Vusumzi die vierde plek behaal.
Toonaangewende besprekings
Die Swartlandskou is nie net ’n vertoonvenster vir die beste wat die landboubedryf het om te bied nie, maar het ook vanjaar as ’n platform gedien vir ’n reeks invloedryke paneelbesprekings en seminare. Hierdie sessies is in samewerking met sleutelvennote aangebied en het ten doel gehad om werklike uitdagings en geleenthede in die landboubedryf te belig.

Een van die kernfokuspunte van só ’n sessie was Suid-Afrika se uitvoergereedheid. Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, tesame met die verteenwoordigers van verskeie ambassades soos Kanada, Italië, Nederland, en Namibië het hul insigte oor internasionale markgeleenthede en handelsbetrekkinge gedeel.
Daarmee saam was die Swartlandskou se produsenteseminaar ook vanjaar ’n groot trekpleister, met voorste sprekers soos die ekonoom Theo Vorster, prof Johan Fourie, ’n dosent in Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, en die politieke ontleder JP Landman wat opgetree het. Hul waardevolle perspektiewe oor die ekonomie, volhoubare ontwikkeling, en die toekoms van die landbousektor op eie bodem was blywend gewees.
’n Verdere insiggewende aanbieding was die Inteligro Intellect Solutions-dag – ’n aanbieding wat gefokus het op praktiese landboukennis en werkbare oplossings wat regstreeks tot volhoubare boerdery bydra.
Die Swartlandskou het met hierdie uiteenlopende program net weer bevestig dat dit nie bloot net ’n uitstalgeleentheid is nie, maar ook ’n platform vir intellektuele en strategiese gesprekke waar rolspelers uit die landbou, akademie, regering, en die privaat sektor byeenkom om die pad vorentoe vir die bedryf te help vorm.
Volhoubare sukses
Jacques Bester, die voorsitter van die Swartlandskou, het sy dank teenoor alle vertoners, uitstallers, vennote, en borge uitgespreek vir hul betekenisvolle rol in die sukses van vanjaar se skou. Hy het beklemtoon dat die ekonomiese uitwerking van die skou beduidend is en ’n wye reikwydte het.
“Die hele gemeenskap pluk die vrugte daarvan – van die kleinste tot die grootste ondernemings. Die groot getalle besoekers en die positiewe beeld wat hul verder uitdra, bevestig dat die Swartlandskou ’n belangrike vertoonvenster vir die Wes-Kaap is.”
Bester het verder sy waardering uitgespreek teenoor die plaaslike gemeenskap, bestuurslede, vrywillige werkers, die Swartland-munisipaliteit, en die Weskus-distriksmunisipaliteit vir hul toegewyde samewerking. “Die kern en hartklop van die Swartlandskou is die mense van Moorreesburg wat hande vat om ’n skou van gehalte aan te bied waar die landboubedryf en gemeenskap sentraal staan,” het hy gesê. – Swartlandskou persverklaring verwerk deur Plaas Media
(Redaksionele nota: ‘n Volledige terugvoerartikel deur Plaas Media sal binnekort op AgriOrbit gepubliseer word.)




