Estimated reading time: 7 minutes
Die 46ste Agri Noord-Kaap (Agri NK)-kongres is op 20 en 21 Augustus in Kimberley aangebied en die geleentheid het met baie vrolikheid en soms ook trane gepaardgegaan.
Een van die hartseer oomblikke was toe lede van Marian van der Westhuizen afskeid moes neem. Sy was vir 40 jaar tot ’n groot mate die spil waarom georganiseerde landbou in die provinsie gedraai het. Hoewel sy die finansiële hoof van die organisasie was, het sy talle ander take op haar skouers geneem en gesorg dat Agri NK op geoliede wiele loop.
Bedryfsorganisasies is noodsaaklik
In sy jaarverslag het Willem Symington, president van Agri NK, beklemtoon dat landbou nie ’n eiland is nie en dat produsente nie alleen kan funksioneer nie. Omdat daar soveel skakeling is wat gedoen moet word, speel Agri NK ’n groot rol in die volhoubaarheid van landbou en die bou van ’n suksesvolle toekoms.
Een van die sprekers by die kongres was Jaco Minnaar, president van Agri SA. Hy het aan teenwoordiges verduidelik waarom dit noodsaaklik is dat ’n organisasie soos Agri SA vir die produsent moet intree terwyl dié moet sorg dat voedsel produseer word.
Voor 1994 het die regering baie beheer uitgeoefen oor landboubedrywe, maar dit het intussen weggeval en daarom is meer bedryfsorganisasies nodig om landbou volhoubaar te hou en selfregulerend te wees. Talle bedryfsorganisasies werk ook hard aan volhoubare voedselsekerheid, wat uit vier elemente bestaan naamlik beskikbaarheid, bekostigbaarheid, gehalte (veiligheid) en volhoubaarheid. Minnaar sê in die Suid-Afrikaanse landbou is die eerste drie elemente nie ’n probleem nie, maar om landbou in Suid-Afrika volhoubaar te hou kan ’n probleem raak aangesien produsente baie houe van oral kry sonder dat iemand vir hulle instaan. Dis juis hier waar die georganiseerde landbou moet intree.
Tariefverhogings uit die VSA
Ander sprekers was dr Johnny van der Merwe en Theo Vorster. Beide het oor die toekoms van landbou gesels en na markverwikkelinge verwys. Vorster het gesels oor die Amerikaanse tariefverhogings wat almal warm onder die kraag het. Hy meen die Amerikaanse buitelandse beleid is eintlik heel eenvoudig. President Trump het drie punte wat hy beklemtoon as dit by buitelandse verhoudings kom: Maak dit die VSA sterker, veiliger en meer voorspoedig?
Vorster sê hierdie heffings is nie teen Suid-Afrika as sulks gemik nie. Dit is op alle buitelandse entiteite gerig en Trump is altyd oop vir oortuiging. As Suid-Afrikaners hul kaarte reg speel, behoort die wa deur hierdie drif te kom. Hy het gesê die Suid-Afrikaanse landbou speel ’n baie belangrike rol in die land se toekoms en dit moet nooit onderskat word nie. Landbou hou die platteland op sy voete en sorg dat die volk elke dag iets het om te eet.
Werksaamhede van Agri Noord-Kaap
Tydens die kongres was dit duidelik dat die bestuur van Agri NK nie met gevoude hande sit nie. In sy jaarverslag het Symington verslag gedoen oor die verskillende terreine waarop hulle aktief was om die Noord-Kaapse landbouer se saak te ondersteun.
Omgewingsake
Wat omgewingsake betref word baie moeite gedoen om die staatsowerhede by te staan om sekere aspekte te bestuur. Mynbou is byvoorbeeld ’n groot faktor in die Noord-Kaap en die georganiseerde landbou word as ’n belangrike rolspeler deur omgewingskonsultante beskou, veral wanneer aansoeke vir omgewingsgoedkeuring deur voornemende mynmaatskappye ingedien word.
Agri NK is ook ’n belangrike rolspeler, in samewerking met Agri SA, wat betref die wysiging van die Konsepwysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne, 2025 asook prosesse rakende eksplorasie vir gas en petroleumprodukte.
In 2025 het Agri NK ook baie gedoen om plae soos sprinkane, kommandowurm en muggies te help bestry. In die proses het hulle die departement se hand verstewig.
‘n Groot probleem in die provinsie is indringer- en probleemplante. Die regering is nie in hierdie opsig van hulp nie en Agri NK doen baie moeite om, met behulp van die privaatsektor, alternatiewe te soek om hierdie probleem aan te spreek. Daar is goeie samewerking met die omgewingsdepartemente van Namibië en Botswana.
Watersake
Watertariewe is ’n swaard wat al ‘n geruime tyd oor die koppe van besproeiingsboere hang. Aangesien die tariefbeleid reeds verander het, maar nog nie geïmplementeer is nie, is Agri NK reeds in gesprek met die Departement van Water en Sanitasie oor die implementering daarvan en die implikasies vir landbouwatergebruikers.
Verder is Noord-Kaapse landbouers bekommerd oor hernude aandag aan die ontginning van skaliegas deur middel van hidrobreking. “Agri NK en Agri SA is gekant teen die ontginning van skaliegas, omdat ons bekommerd is oor die moontlike besoedeling van ons waterbronne en die beskikbaarheid van genoegsame water om hidrobreking te doen. Die afgelope jaar is planne reeds in plek gesit om dit teen te staan,” het Symington gesê.
Agri NK doen ook baie werk om die Departement van Water en Sanitasie te help om die validasie-en-verifikasieproses af te handel. Verder bied Agri NK sy steun aan Gariep Watch, wat kapsie maak teen die feit dat die Benede-Oranjerivier as ’n klas 3-rivier geklassifiseer gaan word. Dit sal beteken dat die gehalte van die water sowel as die hoeveelheid water in die rivier, drasties sal afneem.
Grondsake
Volgens Symington het Agri NK aan al die openbare verhore rakende die omstrede Onteieningswetsontwerp deelgeneem. Hy spreek voortdurend sy kommer uit oor die definisie van onteiening en die bepalings rakende nul-vergoeding. Symington sê hulle het telkens met produsente op die grond gekonsulteer om hulle gevoel te toets en om seker te maak dat die regte inligting deurgegee word.
Arbeid
Die minimumloon bly vir landbouprodusent ’n probleem aangesien talle plase in die provinsie van arbeidsintensiewe boerderypraktyke en seisoenale werkers gebruik maak. Symington sê hulle het baie moeite gedoen om betrokke te raak by die nasionale prosesse en openbare verhore, en het ook uitgebreide konsultasie met lede gevoer om grondvlakmenings te verkry.
Na vele vergaderings en samesprekings is besluit op ‘n spesifieke bedrag wat georganiseerde landbou as ’n billike loon kon aanvaar.
Wat die Wet op Gelyke Indiensneming betref, het Agri NK tesame met Agri SA, ook sy stem dik gemaak en kommer uitgespreek oor die onrealistiese en onuitvoerbare wetgewing, gegewe die arbeidsmarkdinamika van die landboubedryf, veral in die Noord-Kaap.
Veiligheid
Agri NK se veiligheidskomitee het hard gewerk om by te dra tot ’n veilige en volhoubare landbou-omgewing in die Noord-Kaap.
“Met vee- en infrastruktuurdiefstal en ander misdaadverwante voorvalle wat toeneem, het die komitee gefokus op die versterking van plaasveiligheidsnetwerke, samewerking met die SA Polisiediens en ander wetstoepassers, bewusmaking van veiligheidsrisiko’s onder lede, en hulp met die instandhouding van hul kommunikasiekanale.
Die kongres het baie stof tot nadenke opgelewer en elkeen wat daar was, is dit eens dat ’n boer met trots kan sê hy is lid van ’n organisasie wat omgee vir sy lede. – Koos du Pisanie, Plaas Media