Estimated reading time: 6 minutes
Noord-Kapenaars se gemoedere loop hoog nadat die Departement van Waterwese en Sanitasie (DWS) planne bekend gemaak het waarin Gautengse inwoners se waterbehoeftes bo dié van landbouers in die provinsie, laer af in die Vaalriviersisteem, gestel word.
Kortom is DWS se voorstel dat die Benede-Oranjerivier na ’n Klas 3-waterhulpbronklas afgegradeer moet word. Dít sluit alles in van waar die Vaalrivier met die Oranjerivier by Douglas saamvloei, tot by die riviermonding by Alexanderbaai. Volgens Gariep Watch, ’n nieregeringsorganisasie wat hom beywer vir die verbetering van dié rivierstelsel se watergehalte, word dit aan die voltooiing van fase 2 van die Lesotho Hoogland-waterprojek teen 2028 gekoppel.
Wessel Lemmer, die uitvoerende hoof van Raisins SA, sê dié planne bedreig die streek se hoofwaterbron en hou ernstige risiko’s vir watertekorte, verhoogde besoedeling, en negatiewe impakte op landbou en lewensbestaan in. “Gauteng se swak waterbestuur mag nie tot ons nadeel wees nie. Die regering moet hul omgewingsassesserings bywerk, wetstoepassing teen besoedeling en watervermorsing in Gauteng verhoog, en alternatiewe oorweeg. Die Noord-Kaap se enigste grootmaat waterbron kan nie opgeoffer word om aan Gauteng se stygende waterbehoeftes te voldoen nie.”

Voedselsekerheid bedreig
Wiaan van Rensburg, visepresident van Agri Noord-Kaap en self ook ’n besproeiingsboer, het sy kommer oor die saak uitgespreek, omdat die Noord-Kaap ’n enorme bydrae tot voedselsekerheid in Suid-Afrika lewer.
“As daar minder water in die Oranjerivier gelaat word, gaan dit beteken dat die chemiese inhoud in die rivier nog hoër gaan wees en dit gaan ’n groot invloed om gewasverbouing hê. Dit gaan nie net die landbou in die Noord-Kaap groot skade berokken nie, maar ook voedselsekerheid in die land bedreig.
Volgens die nuutste oesvooruitskatting van die Nasionale Departement van Landbou gaan die Noord-Kaap in 2025 na verwagting 18 750 ton witmielies, 651 000 ton geelmielies, 2 300 ton sonneblomsaad, en 7 000 ton sojabone produseer, om maar ’n paar van die gewasse wat in die provinsie langs die Oranjerivier verbou word, te noem. Verder is tafeldruiwe ter waarde van sowat R240 miljoen uitgevoer en ‘n beduidende sitrusoes word ook verwag. Rosyntjies uit die Noord-Kaap vorm 80% van die land se rosyntjieproduksie.

Pligversuim?
Fritz Bekker, stigter van Gariep Watch, sê volgens die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) het die regering die algemene verantwoordelikheid vir en gesag oor die bestuur van watervoorrade tot die voordeel van die publiek. Dit vereis ook dat die land se watervoorrade beskerm, gebruik, ontwikkel, bewaar, bestuur, en beheer word op ’n regverdige, doeltreffende, en volhoubare wyse.
Indien die DWS hierdie afgradering gaan doen, trek hulle ’n streep deur hul verantwoordelikheid as toesighouer van hierdie belangrike hulpbron, sê Bekker.

Afgraderingsgevolge
Volgens Bekker sal minder beskerming vir ekosisteme en watergebruikers soos huishoudings en die landbou bestaan indien hierdie afgradering realiseer. Daar gaan ook ’n tekort aan water vir besproeiing en die ekologiese behoeftes van akwatiese ekosisteme wees.
“Laer riviervloei sal tot ’n verhoging in die konsentrasie van besoedelingsstowwe lei wat deur ongesuiwerde riool, landboudreineringswater, en ander puntbronne van besoedeling veroorsaak word. Hierdie besoedelingstowwe sluit onder meer swaarmetale soos mangaan in, wat neurotoksies vir mense is en mikrobiese kontaminasie wat virusse, bakterieë, fungi, en parasiete insluit. ’n Verhoging in soutkonsentrasie en plantvoedingstowwe in die rivier sal ook waterverbruikers nadelig beïnvloed, wat landbou en verskeie bedreigde en endemiese visspesies in die rivier insluit,” sê Bekker.
Besoedelingskrisis
Bekker het die afgelope vier jaar lank navorsing saam met die Departement Landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch gedoen en volgens hul bevindings is hierdie besoedeling van die rivier baie groter as wat op die oog af lyk.
“ ‘n Verskeidenheid toksiese besoedeling, wat hoofsaaklik van plaaslike disfunksionele rioolsuiweringswerke en Gauteng tydens hoogvloeitydperke af kom, word in die sediment van die rivier vasgelê. As daar nóg minder water in die rivier is, gaan dit beteken dat hierdie chemiese stowwe en samestellings in die rivier nog hoër en meer beskikbaar vir verbruikers gaan wees.”
Bekker meen een van die grootste redes vir die probleem is ‘n verlies aan institusionele kennis as gevolg van aanstellingsbeleide wat nie noodwendig lei tot die aanstelling van die beste kundigheid nie. Volgens hom is hierdie nie ’n probleem wat van gister en eergister af kom nie. “Die probleem het begin toe die departement institusionele kennis verloor het as gevolg van aanstellingsbeleide wat teen kundigheid diskrimineer,” sê Bekker. “Dieselfde het in munisipaliteite gebeur, en die vermoë om rioolwerke in stand te hou het ook oor tyd verlore geraak. Die gevolg is dat al hoe meer riool in die varswaterbronne beland het.”
Die departement het ook geen tersaaklike inligting oor die rivier nie, omdat hul water- en biologiese moniteringsprogramme reeds in 2014 gestaak is, en daar sedertdien nog nie weer nuwe inligting ingewin is nie, verduidelik Bekker verder.
“Vir die departement en hul konsultante om nou wetenskaplike verslae te skryf om hierdie afgradering van die rivier te motiveer, is soos om ’n koek sonder bestanddele te bak.”
Oplossing vir DWS se probleem
Bekker sê DWS volg nie hul eie strategie van vermindering, hergebruik en herwinning nie.
Eerstens moet die riool vanaf munisipaliteite in die suidelike gedeelte van Gauteng wat na die Vaalrivier dreineer, asook in die Noord-Kaap, behoorlik gesuiwer en hergebruik word, sê Bekker. “Nog ’n manier om die waterprobleem op te los, is om die suurmynwater wat na die bo-Vaalrivier vloei te suiwer en dit te hergebruik. In die Vaalrivier self moet daar dan nog ’n dam gebou word of die Bloemhofdam kan vergroot word, sodat dit gebruik kan word om besoedelingstowwe op te vang en dit tydens periodes van hoogvloei weg te spoel. Hierdie dam sal dan ook die impak van vloede kan beperk.” – Koos du Pisanie, Plaas Media







