Estimated reading time: 4 minutes
Vakansies is my gunsteling tyd van die jaar, want dit is wanneer familie op die plaas bymekaarkom en die huis gevul is met ‘n gelag en gesels, en die trekkerskuur vol nefies en niggies is. Hulle kuier daar deels om van die grootmense af weg te kom en deels in die hoop om afdraand met die trekker te ry om die gaste wat vasgeval het te gaan uitsleep.
Laas Desember was die jongspan egter baie teleurgesteld. Almal het met hulle sportnutsvoertuie daar aangekom. Hulle voertuie is uitgevat met gly- en vastrapbeheerstelsels wat hulle in staat gestel het om sommer maklik teen die glibberige skuinste genaamd ‘Bel vir hulp-bult’ uit te ry.
Net een van die ooms het vasgeval nadat hy stadig in die leivoor ingegly het as gevolg van ’n kombinasie van sy swaargelaaide RAV4 se slim voertuigstabiliteitsbeheer, vastrapbeheer en elektroniese remkragverspreiding wat die stryd teen ’n baie nat, modderige helling te midde van ’n swaar reënbui verloor het.
Lees meer oor nuwe planne vir ou vyande.
Modderbande werk in modder
Nadat die nefies hom uiteindelik ingesleep het en almal op die een of ander manier van kop tot tone met modder bedek was, het die gesprek na bande gedraai. Die oom moes hoor dat hy die bult met modderbande sou kon uitry.
“Miskien ja,” het hy geantwoord, “maar net as die swaar modderbande nie my brandstof laat opraak het nog lank voor ek die plaas gehaal het nie. In elk geval, as ek net ’n bietjie gewag het dat die pad droog word, sou ek die bult soos blits met my fabrieksbande uitgery het soos laas keer.”
Die oom het gemeen ’n veeldoelige band wat vir enige terrein gemaak is, presteer uiteindelik beter op enige plek wat nie modderig is nie, en dit is die meeste plekke. “Die veeldoelige bande ry verder op elke liter, klou beter aan die teer en hou langer op gruis.”
Lees meer oor Goedkoop invoere is ’n risiko vir ons plaaslike bedryf.
Dikker wande is swaarder
“Dit is omdat modderbande swaarder is, wat meer slytasie op alles beteken. Die dikker wande kan hulle 2,5 tot 7kg swaarder maak as die bande wat in die fabriek opgesit is.”
“Daai 2,5kg is niks nie!” stry ’n neef toe.
“Wag, hou my waterbottel vas,” het die oom gesê terwyl hy ’n meter baaltou aan die bottel se nek vasbind. Hy sê toe die knaap moet die bottel so vinnig as wat hy kan, 100 keer om sy kop swaai. Die kêreltjie het nie 40 keer gehaal voordat hy gekla het sy skouer gaan afval nie. Die les, het die oom vir hom gesê, is dat dit harde werk is om massa te swaai.
“Die belangrike ding om te onthou is dat elke kilogram gewig wat op die wiel gedraai moet word, gelyk is aan vier keer die rolgewig binne die voertuig. Dit beteken vier ligte rubberbande wat saam ‘net’ 10kg op die asse byvoeg, is gelyk aan ’n tas van 40kg in die voertuig. Modderbande is net goed in modder en miskien oor sagte rots wat maklik verkrummel. Op alle ander plekke onderpresteer hulle egter.”
Kry maar die ‘Marie biscuits’
Moenie sommer vir die dun ‘Marie biscuit’-bande onder ’n groot 4×4 lag nie. Kies smaller bande wat ‘n hoër sywand het, het die oom bygevoeg.
“Hulle kos minder as modderbande, stuur ligter teen stadige snelhede, plaas minder spanning op die vering, lewer beter brandstofverbruik, en die hoër profiel buig beter wanneer dit afgeblaas word, wat weer ’n groter voetspoor bied vir beter veldry-vastrap. Op teer het smaller bande ook ’n laer rolweerstand, wat slytasie verminder en brandstof bespaar.”
“Maar wat van die vastrapbeheer?” vra een van die niggies. “Dis daai klein knoppie wat my gehelp het om die wegtrektoets teen die opdraande te slaag. Hoekom het oom nie die vastrapknoppie teen ‘Bel vir hulp-bult’ gebruik nie?”
“Want, as jy stilgehou het op modder wat selfs te glad is om op te loop, kan net ’n wen-as kabel aan ’n baie sterk ankerpunt keer dat jy gly.”