Estimated reading time: 4 minutes

  • ‘n Voerkraal se hoofdoel is om vinnige en konstante gewigstoename in skape te verseker deur goed-gebalanseerde diëte.
  • ’n Ongebalanseerde dieet kan skape se gesondheid, welsyn en immuniteit benadeel, wat winsgewendheid verlaag.
  • Toepaslike hoeveelhede vesel voorkom spysverteringsprobleme soos asidose en bevorder rumengesondheid.
  • Voeromsetdoeltreffendheid verbeter met gebalanseerde rantsoene, wat voerkoste verminder en groei maksimeer.
  • ‘n Wetenskaplik-geformuleerde dieet verhoog produktiwiteit, verbeter dieregesondheid en verminder omgewingsimpak.

Die borge van hierdie jaar se UP Agric-voerkraaluitdaging was: Kyron Agri, Molatek, Vet 2 Farm, Octavoscene, RMIS, Cavalier, DataMars en Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm).

Een van die hoekstene van ’n suksesvolle voerkraal is ’n wetenskaplik geformuleerde dieet. In hierdie artikel ondersoek die Ram-bo Rangers, ’n span finalejaarstudente van die Departement Veekunde by die Universiteit van Pretoria, waarom die korrekte dieet noodsaaklik is en hoe dit groei, gesondheid en winsgewendheid in ‘n skaapvoerkraal beïnvloed. Hulle het aan die departement se jaarlikse voerkraaluitdaging deelgeneem.

Carl Niebuhr, lid van die Ram-bo Rangers-span.

‘n Voerkraal se hoofdoel is om vinnige en konstante gewigstoename in skape te verseker. Om dit te bereik, moet die dieet goed gebalanseer wees om groei te bevorder. Die rantsoen moet genoeg proteïen en energie vir groei en spiermetamolisme, en ander belangrike liggaamsfunksies voorsien. Indien skape nie genoeg energie en proteïen ontvang nie, sal hulle nie genoeg gewig aansit nie en sal die voerkraal nie winsgewend wees nie.

Elemente van ’n voerkraaldieet

’n Ongebalanseerde dieet kan nadelige gevolge vir die gesondheid en welsyn van die diere in ’n voerkraal inhou. ’n Dieet waarin noodsaaklike vitamiene en minerale ontbreek, sal die skape se immunstelsels in gevaar stel. Spoorminerale soos sink, koper en selenium speel in hierdie opsig ‘n baie belangrike rol. Hou in gedagte dat koper in uiters lae dosisse (5mg/kg) verskaf moet word, aangesien skape vatbaar is vir kopervergiftiging.

Toepaslike hoeveelhede vesel is ook belangrik. Lae veselvlakke kan spysverteringsprobleme soos asidose veroorsaak. Dit gebeur wanneer die rumen te suur raak. Asidose kan laer voerinname, siekte, en in uiterste gevalle, selfs die dood veroorsaak. Ruvoer in die vorm van hooi of kuilvoer help om hierdie spysverteringsprobleme te voorkom deur rumengesondheid in stand te hou. ‘n Siek skaap se groeitempo neem gewoonlik af en die duur behandelings wat dan nodig is, verlaag die winsgewendheid van die voerkraal.

Dit is belangrik dat die lammers ’n hoë-gehalte, gebalanseerde dieet ontvang.

Voerdoeltreffendheid

Voeromsetdoeltreffenheid (die hoeveelheid voer verskaf gedeel deur gewigstoename) is ‘n uiters belangrike aspek van voerkraalvoeding. In skape wat ’n goed-gebalanseerde dieet ontvang, verhoog die doeltreffendheid van voerbenutting wat weer groeitempo verhoog. Goed-gebalanseerde voerrantsoene help om voeromsetdoeltreffendheid te maksimeer, wat die hoeveelheid voer nodig om gewigstoename te verhoog, verminder. Verkeerd-geformuleerde diëte lei tot meer voervermorsing, swak groei en groter uitgawes.

‘n Voerkraal kan ‘n stresvolle omgewing vir skape wees weens beperkte spasie, hantering en sosiale aspekte soos dominansie by voerkrippe. ’n Gebalanseerde dieet kan mededinging tussen diere verminder deurdat dit die drang om vir voer mee te ding verminder. Die gevolg is ’n kalmer omgewing en beter algemene welsyn. Vetsure, vitamiene, aminosure en ander voerbymiddels verlig boonop oksidatiewe en hittestres by vee.

Lees meer oor die bestuur van stres in ’n skaapvoerkraal.

Voer is ’n voerkraal se grootste uitgawe. Die heel beste dieet beteken egter maksimum opbrengs. Te min of te veel van spesifieke voedingstowwe, veral proteïen, kan die produsent duur te staan kom. Ondervoeding veroorsaak laer groeitempo’s en verleng die tyd wat dit neem om skape gereed te kry vir die mark. Oorvoeding behels weer ‘n kostevermorsing en kan gesondheidsprobleme veroorsaak. ’n Goeie dieet moet voedingswaarde en koste balanseer. 

Omdat goeie gehalte voer doeltreffender benut word, word minder ‘afval’ per eenheid vleis geproduseer. Voedingstofwanbalanse kan tot hoër metaanproduksie of oormatige koolstof-uitskeiding lei. Die omgewingsimpak van kweekhuisgasvrystellings kan deur ’n wetenskaplik geformuleerde dieet in toom gehou word.

Lees meer oor die bestuur van gesondheid in ’n voerkraal.

Gevolgtrekking

‘n Wetenskaplik-geformuleerde dieet in ‘n skaapvoerkraal verhoog nie net produktiwiteit nie, maar het ook ‘n positiewe uitwerking op dieregesondheid en -welsyn. Dit skep ‘n wen-wen-situasie vir die produsent en sy diere. ’n Belegging in behoorlike voeding ontsluit die volle potensiaal van skaapvoerkraalstelsels, en verseker ’n volhoubare en winsgewende toekoms vir die bedryf.

Vir meer inligting, kontak dr Lindeque du Toit, by epos linde.dutoit@up.ac.za.

– Carl Niebuhr (Foto’s: Hannah Gross-fotografie)