Estimated reading time: 5 minutes
Tendense in die plaaslike en internasionale wynbedryf asook strategiese denkwyses, is onlangs onder die vergrootglas geplaas tydens Vinpro se produsentedag by die ATKV Goudini Spa in die Slanghoekvallei by Rawsonville in die Wes-Kaap.
Tendense in die wynbedryf
‘n Onderwerp wat die afgelope paar jaar toenemend in landboukringe aandag geniet, is veranderende weerstoestande en hoe dit boerderye toenemend beïnvloed. In die wynbedryf is dit veral noodsaaklik om oplossings te vind vir vloedskade en, te midde van toenemende hittetoestande, die uitbreking van wegholbrande en probleme soos hitteskade en strestoestande in wingerde. ‘n Proaktiewe stap wat Vinpro in die lig hiervan geneem het, is om op ‘n weeklikse basis weervoorspellings met handige bestuurswenke aan sy lede te stuur.
Stygende insetkoste noodsaak verbeterde en kostebesparende tegnologie. In die wynbedryf word daar onder andere op die volgende gefokus:
- Hitteterapie-navorsing wat plante virusvry kan maak.
- Datagedrewe en digitale kommunikasie-tegnologie.
- Wingerdrobotte wat wingerde byvoorbeeld kan spuit sonder enige menslike inspanning.
- Robotte wat die publiek bedien, soos by ‘n wynproegeleentheid.
- Sensors wat veranderinge in die chemiese samestelling van water of grond kan aanwys.
Ongelukkig hou sekere regulasies nie tred met al die nuwe tegnologie nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Suid-Afrika se hibriede wynkultivars (kruisvariëteite) wat weerstandig is teen siektes soos donsskimmel en witroes. Wynprodusente wat die kultivars plant, kan dus nog nie gesertifiseerde wyn daarvan maak nie, omdat die kultivars eers regulatoriese goedkeuring moet kry.
Die toename in peste, plae en siektes soos donsskimmel en rolbladvirus is ook ‘n aanduiding dat oplossings gevind moet word. Een van die hekkies wat oorkom moet word, is dat net 25% van die totale Suid-Afrikaanse wingerdbedryf een spesifieke onderstokkultivar plant, ten spyte daarvan dat meer as 19 verskillende onderstokkultivars beskikbaar is. Wynprodusente word dus aangemoedig om van die res van die ander beskikbare onderstokke gebruik te maak.
Wynbedryf wêreldwyd onder druk
Dr Jan Greyling van die Departement Landbou-ekonomie by Stellenbosch Universiteit, het die gehoor toegespreek oor belangrike tegnologiese tendense ten opsigte van die wêreldwye wynlandskap.
Al lewer die wêreldwynmark tans meer as 200 miljoen hektoliter (hL) of 20 miljard liter per jaar, is die toekomsprentjie tans nie glashelder nie. Volgens dr Greyling is daar redelike groot uitdagings en onderlinge internasionale kompetisie wat Suid-Afrika noodsaak om alles moontlik te doen om sy markaandeel te behou.
Wynverbruik is besig om wêreldwyd af te neem, onder meer in die VSA (die wêreld se grootste wynverbruiker) en China waar ‘n 19% afname aangeteken is. “Die vraag wat ‘n mens op grond hiervan moet vra, is of dit ‘n kort- of langtermyntendens is,” sê dr Greyling. “ ‘n Grafiek oor wynverbruik vanaf 1860 tot 2024, toon dat dit waarskynlik ‘n langtermyntendens is. Wynverbruik het in die middel-1980s ‘n piek bereik, gevolg deur ‘n geleidelike afname en ‘n meer onlangse versnelde afname.”
Hy glo van die redes vir die afname kan toegeskryf word aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se veldtog wat lui dat geen alkohol die enigste veilige hoeveelheid alkohol is. Hierdie stelling word deur verskeie sosiale media-platforms ondersteun. Daar is ook bevind dat persone tussen die ouderdomme van 14 en 29 die helfte minder wyn drink as die generasie voor hulle. Die verbruik van bier was tot dusver konstant, terwyl kits- of voorafgemengde alkoholiese drankies (ready-to-drink) die enigste kategorie wat marginaal groei.
Gedeelde kennis is dubbele krag
Martin Jansen, die hoof van inligtingstegnologie by ZZ2, was deur Vinpro genooi om hul produsentedag by te woon. Jansen het gesê hy beskou dit as ‘n wonderlike geleentheid waar hy kon sien hoe twee verskillende bedrywe met soortgelyke uitdagings te make kry. “Ek dink dit is ‘n uitstekende inisiatief om mense van reg oor die land en wêreld byeen te bring om saam te gesels en idees te klankbord. Dit is juis ZZ2 se beleid om netwerke te bou waar kennis gedeel kan word.”
Hy het Plaas Media meegedeel dat dit vir hom as verteenwoordiger van ZZ2, baie beteken om te sien dat almal in dieselfde bootjie is en dieselfde doelwitte voor oë het, naamlik om produsente te ondersteun en Suid-Afrika se landboubedryf verder uit te brei. “Dit is wonderlik om te sien hoe die wynbedryf die toets van tyd deurstaan het en steeds relevant bly met nuwe tegnologie, inisiatiewe en geleenthede.” – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Riana Ras, Vinpro-kommunikasiebeampte, by 021 276 0481 of riana@vinpro.co.za