Gemengde gevoelens ná reën, hael en sterk wind in Noordwes

Estimated reading time: 4 minutes

Goeie reën wat die afgelope naweek kol-kol in dele van Noordwes voorgekom het, was vir baie boere ’n welkome gesig, terwyl ander weer aansienlike skade gely het weens haelbuie en sterk wind.

Skade aan infrastruktuur

Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê groot gedeeltes van die provinsie het goeie reën ontvang, wat baie positief is. In Lichtenburg het tussen 50 en 60mm reën geval, maar sterk wind het veral in die dorp aansienlike skade aan bome en infrastruktuur aangerig. Die grootste uitdaging in hierdie stadium is die skade aan Eskom-kragpale, wat daartoe gelei het dat sekere gebiede – nie net in Lichtenburg nie – tans sonder elektrisiteit is.

Beduidende skade is ook in Zeerust se dorpsgebied aangeteken. Pierre van der Walt, voorsitter van AfriForum se Zeerust-buurtwag, sê ’n haelstorm het Saterdag skade in die dorp veroorsaak. “Twee haelbuie het voorgekom. Die eerste bui het klein haelkorrels opgelewer, maar is opgevolg deur ’n tweede bui wat aansienlike skade veroorsaak het.” Swaar reën, gepaard met sterk wind, het Sondag gevolg. Strate, sowel as sommige huise en sakepersele, het waterskade opgedoen.

Riaan Lewis, ’n beesprodusent en sakeman wat net buite Zeerust boer, sê hy het oor die naweek 80mm reën op sy plaas gemeet. Geen skade is daar aangeteken nie en die reën is ’n welkome hupstoot vir veldgroei.

Tienie Mostert se jong mielies wat deurgeloop het onder ‘n haelstorm. (Foto: Tienie Mostert)

Skade aan oeste

De Wet Marx, bestuurder van die Delareyville-boerevereniging, sê haelskade is Sondagmiddag op sekere plase in die gebied aangemeld. Hyself het genadiglik geen haelskade op sy plaas ondervind nie en het 35mm reën oor die naweek gemeet.

Tienie Mostert, ’n boer in die Baberspan-gebied, ook in die Delareyville-distrik, sê hy wil nie die skade wat sy sojaboon- en mielie-oes opgedoen het aan ’n groot klok hang nie, aangesien hy nie die enigste boer is wat skade gely het nie. Hy bevestig egter dat ’n groot gedeelte van sy oes haelskade opgedoen het. Hy het met boere van Schweizer-Reneke gesels wat ook onder die haelstreep deurgeloop het.

“In die meer as 30 jaar wat ons hier boer, is dit die meeste hael wat ons nog ooit beleef het. Dit is ook vir ons vreemd, aangesien dit nie aan die begin van die seisoen is wanneer hael gewoonlik meer aggressief voorkom nie,” sê hy. Mostert voeg by dat hy min aan die situasie kan doen, maar dat die kanse op herstel redelik goed lyk. “Ons mielies is gelukkig nog jonk. Ongeveer die helfte van die mielie-oes is in ’n jong stadium, terwyl die ander helfte nader aan die gevaarstadium is. Oor twee weke sal ons ’n beter aanduiding hê,” sê hy.

Mostert se sojaboon-oes het groot skade opgedoen, maar hy sê kenners meen dat die kanse op herstel steeds goed is. “ ’n Mens kan tussen 40 en 50% skade verwag by plante wat baie swaar getref is.” Mostert sê hy het Sondag 34mm reën by sy huis gemeet, terwyl dit in gebiede waar die hael die ergste was, tot 65mm gereën het.

Reën word verwelkom

In die Palmietfontein-gebied tussen Klerksdorp en Ventersdorp het dit kol-kol gereën, met neerslae van tussen 28 en 44mm wat op plase gemeet is. ’n Haelstorm het Sondag skade aan jong mielies op ‘n plaas aangerig, terwyl dieselfde boer se grootskaalse groente-aanplantings ook in die slag gebly het.

In die suidelike gebiede buite Potchefstroom in die rigting van Viljoenskroon en Orkney, is 18mm reën gemeet wat vroeg Sondagoggend en weer Sondagmiddag geval het. Vir hierdie boere het die reën verligting gebring na die baie warm en droë toestande wat gedurende die laaste week van Desember 2025 geheers het. CF Grundlingh, voorsitter van die Derby-boerevereniging, sê tussen 19 en 25mm reën is Saterdag en Sondag in die gebied aangeteken. Saaiboere is grootliks klaar met die meeste van hul aanplantings en verwelkom die reën vir jong plante. Hy sê geen haelstorms is oor die naweek in dié gebied aangeteken nie. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar...

Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutesLantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by...

RPO Vrystaat-kongres: Winsgewendheid, BEK en leierskap

Estimated reading time: 3 minutes’n Besigheid moet winsgewend wees om volhoubaar te funksioneer.Die Rooivleisprodusente-organisasie...

Die geur, kleur en eer van Merino-ramveilings

Estimated reading time: 6 minutesHy het vir hom ’n geel Jaguar met ’n bedrag...