Sunday, March 9, 2025
HomeMagazinesWurms in skape: Ken die vyand

Wurms in skape: Ken die vyand

Estimated reading time: 4 minutes

  • Produsente moet nie die impak van wurms op ’n kudde onderskat nie.
  • Voeding, genetika, wurmbeheermiddels en goeie bestuurspraktyke is sleutelareas om wurms doeltreffend te bestry.
  • Goeie voeding lei tot goeie weerstand teen wurms en verminder die behoefte aan ontwurming.
  • In elke trop dra 20% van die diere 80% van die wurms—dis belangrik om dié draers te identifiseer en te verwyder.
  • Strategiese dosering en aanpassing van veldbestuur volgens seisoenale parasietaktiwiteit is noodsaaklik.

Produsente moet nie die impak van wurms op ’n kudde onderskat nie. “Hierdie parasiete suig baie bloed en maak jou kudde swak,” sê dr Ariena Shepherd, ’n spesialis skaapveearts van Bergville in KwaZulu-Natal. Produsente moet op vier dinge fokus om wurms doeltreffend te bestry, sê sy. Dit is voeding, genetika, wurmbeheermiddels en goeie bestuurspraktyke.

Voeding bou weerstand

Baie produsente staak byvoeding in die somer en gee slegs ’n fosfaatlek. Hulle moet egter regdeur die somer ’n proteïenlek aan jong diere gee.

Goeie voeding lei tot goeie weerstand teen wurms en saam met goeie seleksie sal dit uiteindelik net nodig wees om dragtige ooie drie weke voor lamtyd te ontwurm. Nie-dragtige diere het dan geen ontwurming nodig nie.

Selekteer die taxi’s uit

Dr Shepherd sê dis belangrik om van parasiet-taxi’s ontslae te raak. “In elke trop dra 20% van die diere 80% van die wurms en dis belangrik om van daardie draers ontslae te raak. ’n Goeie manier om dit vas te stel, is met die Famacha-metode. Dis veral vroeg in die seisoen doeltreffend, en het uiteindelik ’n positiewe invloed op alle parasiete op die plaas. Ander siektes word ook sommer minder.”

Die individuele eiertelling in diere is ook baie belangrik, want daar kan ’n groot verskeidenheid voorkom. Individuele tellings is handig by ramseleksie. “Dit neem gewoonlik so drie jaar om alle taxi’s te identifiseer, maar daarna kan jy duidelik sien hoe die parasietsituasie verander.”

Wurmmiddels wat werk

Dr Shepherd sê dis belangrik dat produsente hulle vergewis oor hoe die verskillende wurmmiddels werk en watter middel by hulle sal werk. “Zolvix werk byvoorbeeld onmiddellik as dit met die parasiet kontak maak, maar het geen nawerking nie. Ivermektien het 12 tot 16 ure nodig om te werk en ’n dier moet ’n sekere hoeveelheid vet hê om dié middel te kan hanteer. Die dosis moet presies reg wees, anders kan die dier maklik vrek.”

Daar is net tien wurmmiddels op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar. As ’n produsent weet hoe elkeen van dié middels werk, is die stryd halfpad gewonne (Tabel 1 en 2).

Tabel 1: Groepe middels wat help vir spesifieke wurms. (Bron: Dr Ariena Shepherd)

Groep 1RondewurmsLewerslakLintwurms
1JaNeeNee
2JaJaJa
3JaNeeNee
4JaJaNee
5JaJaNee
6NeeJaNee
7JaNeeNee
8NeeNeeJa
9JaNeeNee
10JaNeeNee

Tabel 2: Ontleding van verskillende wurmmiddels op die mark. (Bron: Dr Ariena Shepherd)

Groep 1Aktiewe bestanddeelAksieNawerkingToksisiteit (Hoe belangrik is dosis-presisie?)Toediening: Inspuit of oraal
1Makrosikliese laktoneSistemiesJaGevaarlikBeide
2BensimidisoolSistemiesNeeMinder gevaarlikOraal
3ImidatiosoolSistemiesNeeMinder gevaarlikOraal
4Halogeneerde salisoniedSistemiesJaGevaarlikBeide
5NitrofenoolSistemiesJaGevaarlikInspuit
6SulfonamiedSistemiesNeeMinder gevaarlikBeide
7OrganofosfaatSistemiesNeeGevaarlikOraal
8IsokwiniloonLae-vlak sistemiesNeeMinder gevaarlikOraal
9SpiroindoolDirek  NeeMinder gevaarlikOraal
10Amino-asetroniel derivatiefSistemiesNeeGevaarlikOraal

Strategiese dosering werk goed. “Kyk na die reënval en temperature op die plaas. Haarwurm steek kop uit so 21 dae nadat die nagtemperature sowat 10°C bereik en die eerste reën geval het.” Produsente moet ook nie verkeerdelik dink dat hul veld skoon is nie. Haarwurm kan deur die winter binne die diere hiberneer en uitbroei sodra die eerste reën val.

Bestuur jou veld

Ouer diere het gewoonlik beter weerstand teen parasiete en daarom is dit belangrik om veldbestuur daarby aan te pas. Dit beteken jonger diere moet in die skoonste kampe geplaas word. “Produsente moet hulself afvra watter diere laaste in ’n kamp was en hoeveel wurms daar na raming is.”

Dis ’n goeie idee om die weiding in ’n kamp effens te laat uitgroei en dan deur ander diere, soos beeste, te laat bewei. Beeste word nie deur skaap-haarwurm geraak nie en kan eers die gras gaan opvreet en van die parasiete ontslae raak. Dan kan die skape ingestuur word.

Hoewel dit duur is, is inenting teen wurms ’n goeie idee. “Ons span dit gereeld in op ’n plaas met aangeplante weiding, omdat haarwurms baie van aangeplante weidings hou.” – Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Ariena Shepherd by 082 497 0655.

Must Read

RSG Landbou: 6 Maart 2025 – geborg deur Pioneer

Die slaglamkompetisie by die Williston Skou was weereens ‘n groot sukses. In vanoggend se RSG Landbou hoor ons by DeWitt Hodgsen wie was vanjaar...