Thursday, December 12, 2024

Weerstoestande wek kommer

Estimated reading time: 3 minutes

Stormweer met baie sterk winde is tipies van die droë toestande wat tans oor groot dele van die land voorkom volgens die onafhanklike weerkundige, Johan van den Berg. Die hittetoestande veroorsaak mini-tornado’s, gepaardgaande met wolke wat soms ligte reënbuie meebring.

“Kyk mens na die afgelope week se weerspatrone, is baie hoë dagtemperature, tesame met baie lae nagtemperature kenmerkend,” sê hy. “Saterdagoggend het daar byvoorbeeld reeds ligte ryp in die Suid-Vrystaat voorgekom, wat ongehoord is vir Februarie.”

Hy beskik, sê hy, oor ’n baie goeie weer-datastel vir Prieska in die Noord-Kaap wat van 1960 strek, en daar was die temperatuur Saterdagoggend net onder 3°C. Dit is die laagste temperatuur vir Februarie en Maart wat sedert 1960 in daardie deel gemeet is.

“Die rede vir die groot temperatuurskommelinge in ’n ariede deel soos Prieska, waar die dagtemperature baie hoog en die nagtemperature baie laag is, is natuurlik die feit dat die lug baie droog is, met baie straling wat bedags inkom en snags weer van die aarde af uitgestraal word.”

Kry Johan van den Berg se weeklikse weerverslag hier.

Teen die einde van die maand, sê hy, is daar nog ’n koue front op pad, maar dit sal waarskynlik nie so sterk wees nie.

Reënvalvooruitsigte vir die grootste deel van die land lyk bra ongunstig tot einde Feruarie. “In die eerste week van Maart lyk dit asof reënvooruitsigte oor die oostelike helfte van die land, insluitende Gauteng, die oostelike dele van Noord-Wes, die noord-oostelike Vrystaat, Mpumalanga en Kwazulu-Natal kan verbeter, maar in die westelike dele van die land is daar nie aanduidings van goeie reën vir ten minste die volgende twee weke nie. Ons kan wel baie hoë temperature verwag.

In die week waarin ons tans is sien ons temperature van tussen 33 en 38°C in Bothaville, en Standerton en Bethlehem ervaar eweneens geweldige hoë temperature. Bethlehem het selfs 35°C aangeteken.”

Somergrane kry swaar

Hierdie toestande, sê hy, veroorsaak baie groot skade aan somergraanoeste. “Die hoë temperature, gepaardgaande met droë toestande en hoë grondtemperature, kan oesverliese op mielies soveel as 5% per dag veroorsaak. Dit beteken dat mens ’n totale mielie-oes binne drie weke kan verloor as hierdie toestande voortduur.”

Die stormtoestande wat deur hierdie weerpatroon veroorsaak word, veroorsaak dat enkele dele wel reënverligting kan kry, maar oor die algemeen kan droë en warm toestande ten minste tot die einde van Februarie verwag word.

Wat die Wes-Kaap betref word ook baie min reën vir die volgende twee weke voorspel. Daar is wel koue fronte wat begin deurkom, maar dit lyk nog nie belowend vir reën nie. “Van ongeveer 26 Februarie tot in die eerste week van Maart lyk dit asof temperature in gebiede soos by Paarl, Worcester, Vredendal en Beaufort-Wes by 40°C kan draai.”

Die Oos-Kaap ervaar ook baie hoë temperature en toestande het baie verswak. Temperature by plekke soos Jansenville en Cradock draai ook rondom die 40°C, terwyl bitter min reën gedurende die afgelope ses weke in hierdie dele geval het.

“Veral weidingstoestande in die Oos-Kaap is tans baie ongunstig, terwyl vrugteprodusente in die vrugteproduserende dele ook skade kry as gevolg van die warm en droë toestande.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Popular stories