Cees Legemaat: Melkbedryf verloor ’n groot gees

Estimated reading time: 4 minutes

‘n Groot boom in die melkbedryf het geval. Cees Legemaat, bekende melkprodusent van Rayton in Gauteng, is op 17 Februarie 2024 op die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Oom Cees, soos hy alom bekendstaan, was ’n uitstekende melkprodusent. Sestien keer is hy as Meestersuiwelprodusent in die Noord-streek van die Melkprodusente-organisasie (MPO) aangewys, en hy was twee keer Nasionale Meestersuiwelprodusent. Hy het ook vir baie jare op die direksie van die MPO gedien en was vir baie jare lid van SA Stamboek, die Taurus Veeverbeteringskoöperasie, sowel as die TLU.

Hy en sy vrou, Nellie, en hulle sewe kinders (vyf seuns en twee dogters) het in 1973 Suid-Afrika toe geïmmigreer nadat ’n snelweg reg deur hulle melkplaas in Nederland gebou is. Na sowat 18 maande as melkerybestuurder op ’n plaas in die Delmas-omgewing het hulle die plaas Kaalfontein by Rayton naby Pretoria gehuur en hulle eie melkery daar staangemaak. Hier het hy vir 43 jaar gewoon.

Sy tyd vooruit

Oom Cees het van die begin af hoofsaaklik van kunsmatige inseminasie gebruik gemaak, in ’n tyd toe dié tegnologie nog nie wyd aanvaar is nie, en hy het vir baie lank uitsluitlik van Suid-Afrikaanse bulle gebruik gemaak wat hy deur Taurus verkry het. Later het hy ook ingevoerde Hollandse semen gebruik, ook deur Taurus verkry, maar hy het sterk in die plaaslike genetika geglo.

Sy seun, Job, het later jare by sy pa se boerdery aangesluit en vir amper 20 jaar vir hom gewerk voor hy sy eie melkery begin het. In 2008, toe oom Cees afgetree het, het Job sy pa se melkery ook oorgeneem. 

“Ek onthou my pa as ’n baie gedissiplineerde produsent wat noukeurige aandag aan detail gegee het. In dié opsig was my ma ’n baie groot hulp in die kantoor. Melkboerdery het in sy bloed gevloei want sý pa was ook ’n melkprodusent.”

Leer oor die gebruik van chemikalieë op melkplase hier.

‘n Melkprodusent in murg en been

Willie Fourie, die laaste voorsitter van die Melkraad, beaam hierdie stelling. “Ons het baie lank saam op die MPO se direksie gedien, en Cees kon nooit verstaan waarom daar so ’n swak verhouding tussen die melkprodusente en die verwerkers was nie. Toe ek hom op ’n keer vra waarom hy nie maar die melkery los en iets anders begin nie, het hy baie ferm geantwoord dat as hy nie melk nie, dan is hy niks nie. Hy sal maar ’n melkprodusent bly.”

“Cees,” sê hy verder, “was ’n eerlike en betroubare mens, en hy het sy deel as voorsitter van die Rayton-tak van die MPO met ’n passie hanteer.” 

Volgens Suretha Francis van SA Stamboek het hy sy Holstein/Fries stoet in 1976 by SA Stamboek en die Holstein-telersgenootskap geregistreer. Hy het geglo dat ’n melkery fyn bestuur verg. Elke koei moet individueel gemeet en aangeteken word om wins te verseker.

“Hierdie benadering het daartoe gelei dat sy kudde menigmale die destydse Meester Suiwelprodusent-kompetisie gewen het. Oom Cees het ook die destydse Taurus nageslagstoetsprogram ondersteun en daar was gereeld boeredae op sy plaas gehou waar die toetsdogters besigtig is. Sy gebruik van toetsbulle het ’n groot bydrae tot die bedryf gelewer. Hy het geglo dat die welslae van sy kudde van streng seleksie afhang.

’n Man vir detail

Oom Cees was baie lief vir sy Hollandse Frieskoeie wat sterk was met goeie uiers en bene en goeie langlewendheid. Melkaantekeninge het ’n groot rol in sy teelprogram gespeel. Dié hulpmiddel het hom in staat gestel om sy kudde fyn te bestuur. Hy het ’n fyn aanvoeling vir sy melkkoeie gehad en ’n bydrae tot elkeen se lewe gemaak met wie hy in aanraking was.”

As werkgewer, sê Job, was sy pa nie altyd maklik nie. “Hy was baie puntenerig, maar dit was vir my ’n baie goeie leerskool wat vir my baie waardevol was in my eie ontwikkeling as melkprodusent. Mens moet ook onthou dat hy ’n gesin van ’n vrou en sewe kinders uit Nederland gebring het en hy moes vir hulle sorg. Daar was nie ruimte vir foute nie.”

Hulle was die eerste melkprodusente wat destyds ‘n self-aangedrewe voerkar ingevoer het om die voerproses van die koeie te optimaliseer.

“Ek onthou my skoonpa,” sê sy skoondogter Geraldine, “as iemand wat baie van mense gehou het en omgegee het. Hy het altyd probeer help waar hy kan. Hy het graag konferensies bygewoon omdat hy van die sosiale element daarvan gehou het. Dis ongelooflik om te dink dat hy en my skoonma 66 jaar lank getroud was.”

Oom Cees word oorleef deur sy vrou Nellie, sewe kinders, 31 kleinkinders en 31 agterkleinkinders. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Must read

Dairy industry benefits from research at Outeniqua Research Farm

Estimated reading time: 2 minutes Western Cape minister of Agriculture, Dr Ivan Meyer, recently visited the Western Cape Department of Agriculture’s Outeniqua Research Farm, outside of George. The research farm is known for its...

Katoen-verwysingsprys: Week van 8 April tot 12 April 2024

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...
So ’n span gesonde kalwers op goeie groenweiding bied die beste potensiaal vir sukses.

Strategieë vir die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys na ’n fase in die beesvleisproduksieproses waar jong beeste, tipies pas-gespeende kalwers, in ’n voerprogram geplaas word wat daarop gemik is om hulle...

Ekonomiese oorsig vir Maart: Landboumarkte wissel

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het ‘n goeie maand ervaar tydens Maart en het deurlopend teenoor die dollar versterk en ‘n redelike stabiele maand teenoor die euro ervaar. Die rand het die...
grootveeproduksiestelsels

Veediefstal: Omgewingskriminologie en misdaadanalise

Estimated reading time: 5 minutes Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge is. Boba omskryf misdaadontleding as “die sistematiese studie van misdaad- en wanordeprobleme, asook ander polisieverwante kwessies – insluitend sosiodemografiese, ruimtelike...