Estimated reading time: 4 minutes
- Die herfsmaande is voor ons deur en dit is nou nodig om aan herfsaanvulling vir jou beeste te dink.
- Die herfsveld voldoen nie noodwendig meer aan die behoeftes van ’n hoog-produserende koei wat jaarliks moet kalf nie.
- Faktore soos voervloei, oesreste en jou produksiestelsel kan die aanvullingsprogram beïnvloed.
- Spoormineraalaanvullings is net so belangrik.
- Produsente moet nie te laat met winteraanvullings begin nie.
Die son is aan die draai en die dae sal binnekort korter raak. Al is dit nog baie warm, is die herfsmaande voor ons deur en dit is nou nodig om aan herfsaanvulling vir jou beeste te dink.
Johan Mouton, tegniese bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Molatek, verduidelik dat die proteïenwaarde van plante in die veld in hierdie tyd reeds begin afneem en nie noodwendig meer aan vee se behoefte voldoen nie.
In die meeste beesproduksiestelsels is koeie in die herfsmaande dragtig en bereik dan die einde van laktasie. Hulle voedingsbehoeftes is dus groot, maar die herfsveld voldoen nie noodwendig meer aan die behoeftes van ’n hoog-produserende koei wat jaarliks moet kalf nie.
Diere se voedingsbehoeftes wissel op grond van hul produksiesiklus. Volgens Mouton benodig ’n droë koei van 400kg sowat 4kg energie en 0,6kg proteïen om haar te onderhou. Dieselfde koei se energiebehoefte verhoog ná kalwing met sowat 25%, terwyl haar proteïenbehoefte bykans verdubbel.
Wat bied die veld?
Gedurende die herfs neem plante se proteïenvlakke af en kan tot ’n proteïentekort in die winter lei. Daarom moet diere reeds gedurende die herfs aanvullings ontvang.
In goed-bestuurde veld waar dele van die plaas tydens die groeiseisoen gerus het om veldherstel te bevorder en genoeg droëmateriaal vir die wintermaande beskikbaar te hê, sal die diere nie noodwendig ’n energietekort ervaar nie. Tekorte ontstaan as goeie gehalte veld opgevreet is en net swakker veld oorbly.
Mouton sê dit is belangrik om nie net op proteïentekorte te fokus nie, maar ook op fosfaatbehoeftes wat ewe belangrik is in die herfsmaande. “ ’n Koei wat die winter in swak kondisie binnegaan, loop die risiko om die volgende seisoen oor te slaan.”
Voedingsbehoeftes
Die vraag is dikwels hoe die produsent kan bepaal wat die beeste nodig het en hoeveel daarvan hulle moet ontvang. Volgens Mouton speel weidingsgehalte ’n belangrike rol in hierdie besluit. Die teorie leer ons dat die balans tussen die dier se behoefte en wat die veld beskikbaar stel, aangevul moet word. In die praktyk is dit egter ’n moeilike bepaling om te maak. Hy het uit ervaring geleer dat faktore soos veldbestuur, veldtoestand en algemene weidingsbestuur die uiteindelike keuse bepaal.
Beeste het ‘n uitstekende vermoë om grasspesies met hoë voedingswaarde te selekteer. “Hierdie eienskap is veral nuttig in die winter, aangesien vee die vermoë het om tot 9% proteïen uit die veld te selekteer, selfs wanneer ’n snymonsterontleding slegs 5% proteïen toon. Dit verminder ook jou aanvullingskoste, veral as die veld gesond is.”
Standaard-aanvullingsprogram
Faktore soos voervloei, oesreste en jou produksiestelsel kan die aanvullingsprogram beïnvloed. Die meerderheid produsente bestuur ’n lentekalfstelsel en met dit as vertrekpunt, beveel Mouton hierdie standaardaanvullingsprogram aan:
- Somer: Sowat 10 tot 15g fosfaat per koei/dag
- Herfs: Sowat 100g proteïen en minstens 10g fosfor per koei/dag.
- Winter: Sowat 5g fosfor en minstens 200g proteïen per koei/dag.
- Lente: Tydens kalftyd; 250 tot 300g proteïen, 15g fosfor en energie.
Produsente moet egter daarop let dat hierdie aanvullingsprogram net lys wat aangevul moet word – die weiding voorsien die balans.
Hy beklemtoon ook dat ’n onderskeid getref moet word tussen ’n produksielek en ’n proteïenaanvulling. ’n Goeie proteïenlek voorsien hoofsaaklik proteïen en ’n klein hoeveelheid energie vir mikrobegebruik – hierdie lek word gewoonlik vir droë koeie aangewend. ’n Produksielek voorsien proteïen vir beide produksie én energie wat direk vir die dier beskikbaar is. So ‘n lek word hoofsaaklik aangewend vir lakterende diere en om verse uit te groei.
Tydige aanvulling
Dit is ’n nare waarheid dat die foute wat jy vandag maak, jou eers oor ’n paar maande duur te staan sal kom. Mouton se raad is om seker te maak waar jou advies vandaan kom. “Wat vir ’n ander produsent werk, is nie noodwendig die oplossing vir jou plaas nie. Juis wanneer dit die goedkoopste aanvulling is moet jy weet dat jy kry waarvoor jy betaal.”
Spoormineraalaanvullings is net so belangrik. ’n Relatief goedkoop aanvulling met proteïen, energie en fosfaat mag dalk op papier betroubaar lyk, maar daar is dikwels spoormineraaltekorte wat swak veeprestasie meebring.
Hy waarsku ook dat produsente nie te laat met winteraanvullings moet begin nie. “Dit is baie moeilik om ’n dier wat haar kondisie gedurende die winter verloor het, weer in goeie kondisie te kry. In die meeste gevalle is dit onekonomies, en sy sal waarskynlik nie ná die winter dragtig raak nie.” – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel Johan Mouton by 083 278 7746.




