Estimated reading time: 1 minute
Die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, het in Desember verlede jaar voorgestelde regulasies ingevolge die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998), vir die beskerming en bestuur van grondwater, gepubliseer vir kommentaar. Alle boorgate op veeplase word hierby betrek.
Die doel van hierdie regulasies is:
- Om sekere aktiwiteite wat met die boor van boorgate verband hou te identifiseer en te beheer ter beskerming van grondwaterbronne.
- Om vereistes, praktyke en standaarde vir boorwerk en die bestuur van waterdraers en boorgate vas te stel.
- Om die grondwaterbestuur, boorwerk en pomptoetsing met SANS-standaarde te belyn.
- Om te verseker dat grondwater op volhoubare wyse bestuur word.
- Om data- en inligtingsbestuur te verbeter ten einde grondwaterbronne beter te bestuur deur:
- Die registrasie van boorgate vir alle bestaande en nuwe grondwatergebruik.
- Die registrasie van boorkontrakteurs en pompinstalleerders.
- Die vaslegging van inligting oor die boorproses en van die voltooide boorgat.
- Die vaslegging van geohidrologiese inligting en verslae.
Agri SA het hierdie saak onder die loep geneem en kommentaar gelewer oor die gebrek aan uitvoerbaarheid van meeste van hierdie regulasies.
Registrasie en verifikasie eerste
Een van die eerste kommentare wat Agri SA gelewer het, is dat die departement eers die verifikasie- en validasieproses van boorgate en damme wat vir besproeiing gebruik word, moet voltooi.
Hierdie proses is reeds jare aan die gang. Die Nasionale Waterwet vereis dat alle watergebruik geregistreer moet wees met die uitsondering van bylaag een-watergebruik.
Boorgate wat vir besproeiing gebruik word, moet geregistreer wees, en wettige gebruik kan slegs plaasvind indien daar bestaande wettige gebruik, algemene magtiging of ’n waterlisensie toegeken is.
Verifikasie en validasie is van toepassing op bestaande wettige gebruik en algemene magtiging. Die departement moet verseker dat die geregistreerde volumes en oppervlaktes ooreenstem met die sertifikaat wat uitgereik is. Hierdie proses duur reeds ’n geruime tyd, maar is nog nie voltooi nie. Dit moet eers voltooi word om ’n duidelike beeld van grondwaterverbruik te kry.
Die voorgestelde regulasies sluit nou boorgate wat vir diere en menslike gebruik aangewend word in. Dit beteken dat die departement nou ook bylaag een-watergebruik wil registreer.
Om alle boorgate oor dieselfde kam te skeer, is egter onprakties, aangesien waterlewering by veesuipings in sommige gebiede swak is en die gehalte soms minder goed is – maar dit is dikwels die enigste beskikbare bron.
Registrasie en data-inwinning
Een van die regulasies is dat alle boorgate op plase binne 12 maande nadat die wysigings van krag is, geregistreer moet wees. Volgens die kommentaar van Agri SA is dit onprakties en behoort die tyd tot minstens 36 maande verleng te word.
Nog ’n regulasie wat Agri SA bekommer, is dat boorgate nie binne vyf kilometer van enige varswaterbron of een kilometer vanaf strategiese infrastruktuur gesink mag word nie. Agri SA meen dat hidrogeologiese studies eerder gebruik moet word om te bepaal waar boorgate geboor kan word, in plaas daarvan om ’n algemene afstand voor te skryf. Die term ‘strategiese infrastruktuur’ sal ook beter gedefinieer moet word.
Ontwikkeling en beskerming van grondwaterbronne
Die nuwe regulasies bepaal ook dat munisipaliteite binne vyf jaar ’n grondwaterbeskermingsskema moet ontwikkel. Dit is egter onprakties, aangesien die meeste munisipaliteite nie oor die kapasiteit of hulpbronne beskik om sulke skemas doeltreffend te implementeer nie. In sommige Karoo-gebiede is dit reeds die munisipaliteite wat die grondwater onoordeelkundig gebruik.
Agri SA stel voor dat vennootskappe met landbou-organisasies en waterverbruikersverenigings eerder aangegaan word. Dit sal help om te verseker dat daar met rolspelers in die landbou onderhandel word voordat beskermingsones verklaar word.
Boorgat standaarde en toetsing van waterkwaliteit
Die regulasies vereis dat die identifisering van boorgatterreine, sowel as die konstruksie en afsluiting daarvan volgens die SANS-standaarde moet geskied. Volgens Agri SA sal baie boere dit egter nie kan bekostig nie.
Dieselfde geld vir die toetsing van die kwaliteit en kwantiteit van die water. Hoewel dit in beginsel sinvol is om seker te maak dat die water wat vir diere en menslike gebruik aangewend word van ’n hoë gehalte is, bly dit vir die meeste boere, veral kleinboere, ’n onbekostigbare projek.
Die regulasies bepaal verder dat alle boorgate van meters voorsien moet word. Dit is onprakties, aangesien windpompe en sonpompe nie ’n konstante, aaneenlopende vloei van water lewer nie. Daarbenewens hou dit addisionele koste in vir boere om ’n watermeter by elke boorgat te installeer.
Die regulasies stel voor dat nie-nakoming tot strawwe boetes kan lei. Dit bly egter onseker hoe hierdie bepalings toegepas sal word.
Hierdie regulasies is tans nog slegs ’n voorstel. Die departement moet eers alle kommentaar oorweeg, en daar word gehoop dat hulle die insette ter harte sal neem.
Agri SA het die versekering gegee dat hulle in belang van boere sal optree om hierdie bepalings so prakties moontlik te maak en sodoende die volhoubaarheid van landbou te verseker. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel gerus met Hannes de Wet, Visevoorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne, se dagbestuur by 082 926 3406.


