Monday, December 15, 2025

Waterbehoeftes in intensiewe en ekstensiewe veeproduksiestelsels

Estimated reading time: 6 minutes

  • Geen fisiologiese funksie in die dierlike liggaam kan sonder water plaasvind nie.
  • Die daaglikse waterinname van skape in beide ekstensiewe en intensiewe produksiestelsels, word grotendeels bepaal deur hul droëmateriaal (DM)-inname.
  • Net soos by skape, word beeste se waterinname sterk beïnvloed deur hul DM-inname, terwyl sekere produksiegroepe aansienlik meer water inneem.
  • Waterinname by skape en beeste word deur talle interafhanklike faktore beïnvloed.
  • Wanneer diere nie toegang het tot drinkwater nie, of as die water besmet of te warm is, daal hul waterinname.

Die wêreldwye watervoorraad word op ongeveer 1 386 miljoen km³ beraam. Hiervan is slegs 2,5% varswater, waarvan die oorgrote meerderheid van sowat 68,7% in ys- en sneeuformasies in Antarktika, die Arktiese gebied en bergagtige streke voorkom. Daarvan bestaan ongeveer 29,9% uit vars grondwater, terwyl slegs 0,26% as oppervlaktewater in mere, damme en rivierstelsels voorkom. Die oorblywende fraksie kom in grond, moerasse en permanente ysgrond (permafrost) voor. Hoewel water dus ’n noodsaaklike element vir alle lewe is, is dit ’n uiters beperkte hulpbron.

Dr Ockert Einkamerer, ‘n senior lektor aan die Departement Veekunde by die Universiteit van die Vrystaat, sê van die vyf basiese voedingstowwe, naamlik energie, proteïene, minerale, vitamiene en water, is water waarskynlik die belangrikste vir vee.

Water in moedersmelk

‘n Dier se melk bestaan gemiddeld uit 85 tot 87% water, terwyl die liggaam minstens 65% water bevat. Geen fisiologiese funksie in die dierlike liggaam kan sonder water plaasvind nie, aangesien dit die medium is waarbinne voedingstowwe deur die bloed vervoer word. Dit, verduidelik hy, is omdat water basies chemies neutraal is en die ionisering van verskeie stowwe maklik daarin plaasvind.

Verder dien water as die medium waarin die meeste chemiese reaksies in die liggaam plaasvind. Dit help om die osmotiese balans in die liggaam te reguleer en dra by tot normale en gesonde rumenfunksie, wat ’n belangrike aspek van herkouers se vertering is. Die mikroörganismes in die rumen moet vrylik tussen voedingstowwe kan beweeg en voldoende waterbeskikbaarheid maak dit moontlik, verduidelik hy. “In hierdie verband is dit interessant dat die kapasiteit van die rumen by beeste tussen 70 en 180ℓ liter is, terwyl dit by skape tussen 20 en 25ℓ wissel, afhangend van die dier se ouderdom en grootte.”

Water is ook onontbeerlik vir die uitskeiding van afvalstowwe soos urine, mis, sweet en selfs melk. Dit speel ook ’n sleutelrol in termiese regulasie. Water help om die dier se liggaamstemperatuur te reguleer en af te koel deur middel van verdamping via die longe, bek en sweetkliere op die vel. Aangesien water ’n hoë latente hitte van verdamping het, is dit besonder doeltreffend om diere onder warm en vogtige toestande af te koel. Die beskikbaarheid van skoon, koel water onder sulke omstandighede is belangrik in beide ekstensiewe en intensiewe produksiestelsels.

Skape versus beeste

Die daaglikse waterinname van skape in beide ekstensiewe en intensiewe produksiestelsels, word grotendeels bepaal deur hul droëmateriaal (DM)-inname. Oor die algemeen drink volwasse skape en beeste gemiddeld tussen 2 en 3ℓ water/kg DM-inname. Tabel 1 bevat ‘n basiese riglyn vir skape se daaglikse waterverbruik.

Tabel 1: Riglyn vir skape se daaglikse waterverbruik. (Bron: Dr O Einkamerer)

Kategorie/groepDaaglikse waterinname
Lammers400mℓ tot 1ℓ
Voerkraalskape3 tot 6ℓ
Lakterende ooie7 tot 12ℓ

Dr Einkamerer sê skape se waterverbruik verminder effens wanneer hulle natter voere soos jong, groen gras of kuilvoer inneem, aangesien vog ook via die voer ingeneem word. Net soos by skape, word beeste se waterinname sterk beïnvloed deur hul DM-inname, terwyl sekere produksiegroepe aansienlik meer water inneem. Melkbeeste kan selfs tussen 5 en 7ℓ water/kg DM-inname drink. Melkkalwers drink sowat 4ℓ water/1kg DM-inname. Die gemiddelde waterinname by Jerseys is 60ℓ/dag.

Melkbeeste drink byvoorbeeld tussen 3,5 tot 4ℓ water/1ℓ melk geproduseer. In die geval van Holsteins word tussen 90 tot selfs 140ℓ water/dag ingeneem. Waterinname by melkbeeste word ook deur omgewingstemperatuur en stadium van laktasie beïnvloed. Die waterinname van melkbeeste is die hoogste direk ná melking. Hierdie diere moet dus eers water drink voordat hulle begin vreet, aangesien dit voordelig is vir optimale melkproduksie.

Faktore wat waterinname beïnvloed

Waterinname by skape en beeste word deur talle interafhanklike faktore beïnvloed word:

  • Omgewingstemperatuur en humiditeit: By temperature onder 20°C drink beeste gemiddeld 4 tot 5ℓ water/kg DM-inname. Bo 30°C kan waterinname tot tussen 10 tot 12ℓ/kg DM-inname styg. Daarteenoor verlaag hoë humiditeit die dier se DM-inname, wat beteken hul waterbehoefte en -inname neem ook af. Diere sweet meer onder sulke omstandighede.
  • Produksiestelsels (intensief/ekstensief): In intensiewe stelsels soos ‘n voerkraal suip diere meer water, want hulle vreet meer. Tog bly die verhouding tussen water- en voerinname redelik konstant tussen ekstensiewe en intensiewe stelsels.
  • Tipe voer: Nat voere soos jong gras en kuilvoer bevat baie vog wat gedeeltelik in die dier se waterbehoeftes voldoen. Waterinname verlaag dus wanneer meer van hierdie voere verskaf word. By melkbeeste verhoog nat voere egter die totale voerinname, wat waterinname indirek laat toeneem, soms selfs 10 tot 15% van hul totale waterbehoefte.
  • Metaboliese prosesse: Tydens die afbreek en oksidasie van voedingstowwe in die liggaam, word water as ‘n neweproduk vrygestel. Hierdie interne produksie voorsien ongeveer 15% van die dier se waterbehoefte.
  • Fisiologiese stadium: Diere in laktasie (byvoorbeeld ooie of koeie wat melk produseer) het ‘n veel hoër waterbehoefte as dié wat byvoorbeeld net dragtig is. Indien ‘n ooi of koei lakteer, is haar waterbehoefte baie meer as byvoorbeeld wanneer sy vroegdragtig is weens verhoogde melkproduksie – waterinname is ook direk gekorreleer met melkproduksie.
  • Watergehalte, -suiwerheid en -beskikbaarheid: Al hierdie faktore sal ‘n invloed hê op waterinname, veral wanneer die dier ver moet loop om by water uit te kom.
  • Watertemperatuur: Diere verkies koeler water en sal meer drink wanneer water se temperatuur aangenaam is, hoewel temperature onder 15°C nie ‘n beduidende invloed op inname het nie.
  • Vloei in die waterkrip: Stadige of beperkte vloei in drinkkrippe kan vrywillige waterinname benadeel, veral in groepe waar mededinging voorkom.
  • Sout- en sulfaatinhoud, natriuminhoud, pH en teenwoordigheid van toksiese stowwe soos arseen, sianied, lood, kwik, blougroen alge, organochloriede en organofosfate in water beïnvloed ook vrywillige waterinname.
  • Sosiale interaksies en omgewingsfatore soos sosiale rangorde en groepsgedrag beïnvloed hoeveel en wanneer individuele diere water drink.
  • Ander eksterne faktore soos windspoed kan ook ‘n geringe invloed op diere se drinkgedrag hê.

Watergehalte en produksie

Wanneer diere nie toegang het tot drinkwater nie, of as die water besmet of te warm is, daal hul waterinname. Dit lei tot ‘n afname in voerinname en verlaagde produksie. Dr Einkamerer beveel aan dat wanneer diere swak produseer, die beskikbaarheid en gehalte van water eerste ondersoek moet word. Die belangrikste vraag is of die water skoon, koel en maklik toeganklik is. Hy sê ‘n algemene fout wat dikwels voorkom, is dat hanslammers of kalfies wat nog aan hul moeders suip, nie altyd van vars drinkwater voorsien word nie. Selfs jong diere moet te alle tye toegang tot vars water hê.

Verskeie faktore het ’n invloed op die gehalte van vee se drinkwater. Dit sluit in organoleptiese faktore soos reuk en smaak wat diere se bereidwilligheid om die water te drink beïnvloed. Chemiese faktore speel ook ’n belangrike rol. Die volgende waardes word as aanvaarbaar beskou:

  • ‘n pH-vlak tussen 6 en 9.
  • Soutinhoud tot ’n maksimum van 2 500dpm (dele per miljoen).
  • Sulfate tot 1 450 dpm.
  • Hardheid tot ‘n maksimum van 181dpm.
  • Nitrate tot 132dpm.

Hy beklemtoon dat water gereeld getoets moet word voordat dit vir veegebruik aangewend word. Selfs die gehalte van boorgatwater kan met verloop van tyd verander. Nog ‘n interessante aspek is ‘n lae elektriese stroom (stray voltage) wat dikwels as gevolg van foutiewe bedrading in water aangetref word. Dit kan waterinname verlaag. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak dr Ockert Einkamerer by 051 401 2389 of stuur ‘n e-pos na einkamererob@ufs.ac.za

Popular stories