Tuesday, December 16, 2025

Voedingsriglyne vir braai- en lêhoenders

Estimated reading time: 4 minutes

  • In Suid-Afrika word sowat 70% van die koste verbonde aan pluimveeproduksie aan voer bestee.
  • Om die beste resultate te kry, moet voermaatskappye se instruksies dus noukeurig gevolg word.
  • Dit is belangrik dat die rantsoen by die produksiestelsel aangepas word.
  • Vitamiene moet in hul daaglikse behoeftes voldoen.
  • Ouer henne benodig meer kalsium vir sterker doppe, maar minder proteïen aangesien hul liggaamsgewig stabiliseer en eiergrootte afneem.

In Suid-Afrika word sowat 70% van die koste verbonde aan pluimveeproduksie aan voer bestee. Daarom is dit belangrik om hoë-gehalte, gebalanseerde voer van betroubare verskaffers te gebruik. Michel Bradford, vark- en pluimveeprojekbestuurder by De Heus, sê die samestelling en doel van voerrantsoene vir braai- en lêhoenders verskil. Om die beste resultate te kry, moet voermaatskappye se instruksies dus noukeurig gevolg word.

Pluimvee benodig skoon water, genoeg voerspasie en deurlopende toegang tot voer. Bradford sê die beste resultate word verkry deur goeie voeding met goeie bestuur te ondersteun.  

Braaihoender-riglyne

Die voerspesifikasies van Suid-Afrika se vernaamste braaihoenderprodusente bied ’n goeie riglyn, maar dit is belangrik dat die rantsoen by die produksiestelsel aangepas word. Kleinskaalse of bestaansboere wat dikwels lewende pluimvee by plaaslike markte verkoop, kan baat by ’n eenvoudige, drie-fase voedingsplan:

  • Aanvangsrantsoen (krummels): dag 0 tot 10/12, proteïenvlak 21 tot 22,5%.
  • Groeirantsoen (korrels): dag 10/12 tot 24/25, proteïenvlak 20,5 tot 21,5%.
  • Afrondingsrantsoen (korrels): dag 25 tot 34/35, proteïenvlak 18%.

Proteïene, verduidelik hy, word gemeet deur die stikstofinhoud te bepaal en dit te gebruik om die proteïenwaarde te bereken. Dit word van aminosure gemaak; verskillende liggaamsdele benodig verskillende aminosuurprofiele en die rantsoen moet dus aan die voël se aminosuurbehoeftes voldoen. Enige wanbalans sal prestasie affekteer.

Braaihoenders in geslote behuising is totaal afhanklik van voer en ‘n volledige rantsoen is dus nodig. Telershandleidings verskaf riglyne oor aminosuurbehoeftes wat met voëls se toenemende energievlakke ooreenstem. Energie help met liggaamsonderhoud en die doeltreffende gebruik van proteïene.

Minerale is ook belangrik. Kalsium en fosfaat ondersteun hul bene terwyl koper, sink, yster en selenium noodsaaklike spoorminerale is. Vitamiene moet in hul daaglikse behoeftes voldoen. Afhangend van die groeiteiken, kan braaihoenders binne 34 tot 36 dae 2kg weeg.  

Grootskaalse ondernemings

Anders as kleiner ondernemings wat lewende voëls verkoop, maak grootskaalse hoenderprodusente die voëls groot om geslag te word en verwerkte vleis aan kleinhandelaars te verskaf. Hulle mik dus vir maksimum voerdoeltreffendheid en die vinnige bereiking van teikengewigte.

’n Vier- tot vyf-fase voerprogram word algemeen gebruik en pas die voedingswaarde by die groeifase aan. Hierdie fases behels voor-aanvang (dag 0 tot 6/7), aanvang (tot dag tien tot 12), groeier (tot dag 20), eerste afronding (tot dag 27 tot 28), en finale afronding (laaste drie tot vier dae voor slag op ongeveer dag 32). Hierdie rantsoene is hoër in proteïen en energie as dié wat in kleiner ondernemings gebruik word.

Proteïene begin by 23% in die voor-aanvangsfase en daal tot 18% in die finale afrondingsfase. Energievlakke is tien tot 15% hoër ten einde vinnige groei te ondersteun. Die mineraal- en vitamienbehoeftes is soortgelyk aan kleinskaalse rantsoene, maar presisie is hier belangrik omdat ‘n wanbalans prestasie kan verhinder wanneer vinnige, doeltreffende groei vereis word.

Voer vir lêhenne

Bradford sê kommersiële eierprodusente kan óf hennetjies grootmaak of punt-van-lê henne op ongeveer 17 weke aankoop wanneer hulle tussen 1,5 en 1,6kg weeg. Goeie eierproduksie hang af van goeie gesondheid, inentings en goeie voeding.

Henne begin teen ongeveer 18 weke lê en produseer tot tussen 80 en 90 weke. Die algehele lêtydperk is sowat 65 weke. Nuwe hennetjies lê nie dadelik nie, maar begin geleidelik gedurende die pre-piekfase lê. Omdat individuele voëls biologies verskil, sal hulle nie altyd op dieselfde tye begin lê nie. Sodra hulle 20 weke oud is, behoort 50% in lê te wees en tussen 21 en 22 weke behoort sowat 95 tot 96% daagliks te lê. Hierdie piektydperk duur sowat tien weke en verlangsaam dan geleidelik tot sowat 80% teen uitskotouderdom van tussen 85 en 90 weke.

Henne groei nog tussen punt-van-lê en 30 weke en benodig dus ‘n rantsoen wat groei en eierproduksie sal ondersteun. Jong henne eet minder en daarom moet die rantsoen baie nutriënte en 16 tot 18% proteïen bevat.

Kleiner ondernemings gebruik soms net een tipe voer, terwyl groter produksie-eenhede rantsoene op grond van verskillende produksievlakke sal aanpas. Energie-inhoud sal dieselfde wees teen sowat 11,2 en 11,7MJ/kg afhangend van die voerbron. Groter ondernemings kan moontlik effens meer energie insluit en ‘n kleiner opset minder. Lae energie beteken die voëls vreet meer, en hoë energie minder.

Lêer 1-voer moet gebalanseerde aminosure, kalsium, fosfaat en minerale insluit. Eierdoppe verlang kalsium, fosfaat, magnesium en vitamien D. Kalsiuminsluitingsvlakke begin by 3,5% wat voldoende is vir jong henne wat dit goed absorbeer. Vanaf 30 tot tussen 50 en 55 weke kry henne Lêer 2-kos. Soos die henne ouer word en minder kalsium absorbeer, daal die proteïenvlakke tot 16% en kalsium styg tot 3,8%.

Vanaf 50 weke tot uitskot ontvang hulle Lêer 3-voer. Ouer henne benodig meer kalsium vir sterker doppe, maar minder proteïen aangesien hul liggaamsgewig stabiliseer en eiergrootte afneem. Henne word gewoonlik teen rondom 85 weke uitgeskot. In Suid-Afrika kan uitskotvoëls verkoop word om waarde tot die onderneming toe te voeg. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan Michel Bradford by mbradford@deheus.com.

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...