Die boublokke van ’n lêhen-onderneming

Estimated reading time: 7 minutes

  • Alan Saunders, voormalige president van die Suider-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), het ’n gids saamgestel om produsente te help om ’n sinvolle lêhenstrategie saam te stel.
  • Dit is baie belangrik om ’n ras met optimale eierproduksiepotensiaal te kies. Kleiner eierproduksie-eenhede sal normaalweg lêhoenders vanaf gespesialiseerde henplase aankoop, terwyl groter ondernemings hul eie groeierplaas vir lêhenne sal hê.
  • Lêhen-infrastruktuur het oor dekades ontwikkel van eenvoudiger enkelvoëlhokke met ’n voer- en waterkrip, tot moderne kolonies waarin voer, water en eierinsameling ten volle geoutomatiseer word.
  • Lêhenne moet altyd vrye toegang tot vars, skoon voer hê. Hou in gedagte dat, sodra die voëls geslagsryp is en produksie begin, hulle voerverbruik vinnig sal toeneem. Water is ook ’n noodsaaklike element van hoenders se daaglikse behoefte.
  • Met siektes soos voëlgriep (HPAI) wat troppe geheel en al kan uitwis, is dit belangriker as ooit om gesondheid, higiëne en biosekuriteit op pluimveeplase doeltreffend te bestuur.

Die eierbedryf word in die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP) uitgelig as ’n landbousubsektor wat bestem is vir groot toekomstige groei. Trouens, die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se jongste basislynvoorspelling dui daarop dat eierproduksie bestendig sal groei teen ’n jaarlikse koers van 2% vanaf 486 000 ton (ongeveer 8,1 miljard eiers) in 2023 tot 569 000 ton (ongeveer 9,48 miljard eiers) in 2032.

Alan Saunders, voormalige president van die Suider-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), het ’n gids saamgestel om produsente te help om ’n sinvolle lêhenstrategie saam te stel. Die suksesvolle bestuur van lêhen-infrastruktuur is daarop gemik om te verseker dat voëls se genetiese potensiaal bereik word deur so min as moontlik voer te gebruik, en dat eiers van die vereiste graad en gehalte geproduseer word.

Lees meer oor die uiteensetting van produsentemarges vir braaikuikens hier.

Keuse van ’n ras

Dit is baie belangrik om ’n ras met optimale eierproduksiepotensiaal te kies. Kleiner eierproduksie-eenhede sal normaalweg lêhoenders vanaf gespesialiseerde henplase aankoop, terwyl groter ondernemings hul eie groeierplaas vir lêhenne sal hê.

In Suid-Afrika gebruik die kommersiële lêhenbedryf hoofsaaklik Dekalb (Amberlink), Hy-Line (silwerbruin en bruin) en Lohmann (lig) hoenders. ’n Handjievol produsente gebruik Hy-Line W36, ’n Leghorn-tipe voël, om eiers met wit doppe vir ’n nismark te produseer. Produsente kan egter ook besluit om ’n veelsydige en meer geharde ras te gebruik, soos die Potch Koekoek, Bosvelder of Venda.

Behuising en toerusting

Lêhen-infrastruktuur het oor dekades ontwikkel van eenvoudiger enkelvoëlhokke met ’n voer- en waterkrip, tot moderne kolonies waarin voer, water en eierinsameling ten volle geoutomatiseer word.

“Watter behuising- of produksiestelsel jy ook al op besluit, moenie dat laekostestelsels die produksiepotensiaal van die voëls in gedrang bring nie,” sê Saunders. Die ontwerp van individuele huise moet sodanig beplan en geplaas word, dat alle voëls gelyktydig volgens ’n siklus uitgehaal en vervang kan word. Dit verseker dat produsente die henhuis heeltemal kan skoonmaak en herstel voordat die volgende siklus voëls daarin geplaas word.

Verkeerde temperature kan ’n groot uitwerking hê op aspekte soos voerdoeltreffendheid en eierdopgehalte, en kan selfs tot vrektes lei.

Saunders sê die plaasuitleg moet sodanig wees, dat pluimveehuise goed van mekaar geskei is (die duimreël is 1,5 tot twee keer die breedte van die geboue). Die lengte van oop geboue moet van wes na oos lê om hitte te verminder en direkte sonlig op die voëls te voorkom.

Behoorlike ventilasie is nodig om uiterste hitte of koue te beheer (Tabel 1). Verkeerde temperature kan ’n groot uitwerking hê op aspekte soos voerdoeltreffendheid en eierdopgehalte, en kan selfs tot vrektes lei.

Kyk Plaas TV se insetsel oor beurtkrag se effek op die pluimveebedryf hier.

Tabel 1: Temperatuurvereistes vir broeihokke- en lêhenhuise. (Bron: Sapa/Alan Saunders)

OuderdomHele broeikas (°C)Binne 2m van broeikas (°C)
Eerste twee tot drie dae31 – 3232 – 34
3 tot 7 dae30 – 3131 – 32
8 tot 21 dae28 – 3029 – 31
21 tot 28 dae25 – 2825 – 28
29 tot 35 dae22 – 2522 – 25
36 dae en ouer20 – 2520 – 25

Die meeste kommersiële lêhenne word in hokke gehou. Saunders sê die voordeel van grootmaak in hokke teenoor vloere is dat die vertikale hoogte van die gebou in meervlakkige hokstelsels benut kan word; met goeie ventilasie en verhitting word die gebou dan doeltreffender benut as met vloerstelsels. Minder parasietbeheer is nodig, en die afname in aktiwiteit beteken die voëls het minder voer en water nodig.

Sapa het spesifieke riglyne vir aanvaarbare beladings in hokke (Tabel 2). Meervlakkige hokke kan in ’n A-raam of as gestapelde hokke gebou word. In die A-raam word die hokke in ’n A-formasie bo-op mekaar geplaas. By gestapelde hokke word die hokke direk bokant mekaar geplaas en kan hoër as die A-raamhokke gestapel word.

Tabel 2: Ruimtevereistes vir kommersiële lêhenne. (Bron: 2012 Sapa-praktykkode)

Ouderdom (weke)Gewig (g)Cm2 per voëlVoerkrip (cm/voël)Watertepels (voëls/tepel)
0 – 65001502,2515
7 – 181 4503004,58

Lêhenbestuur

Die moderne lêhen het geneties die potensiaal om meer as 320 eiers in haar leeftyd te produseer, met ’n voeromset van 2,2kg voer/kg eiers of 1,6kg/dosyn. Die meeste moderne rasse is vroegryp en produksie begin op ongeveer 19 weke oud. Voëls moet ten minste ’n week voordat produksie ’n aanvang neem, na die henhuis geskuif word. Afhangend van die beligtingsprogram wat in die groeiskuur toegepas word, sal hulle normaalweg tussen 119 en 128 dae oud wees (in week 18, maar nog nie 18 weke oud nie).

Lêhenne moet altyd vrye toegang tot vars, skoon voer hê. Hou in gedagte dat, sodra die voëls geslagsryp is en produksie begin, hulle voerverbruik vinnig sal toeneem. Water is ook ’n noodsaaklike element van hoenders se daaglikse behoefte. By normale temperature sal hulle ongeveer 1,8 tot twee keer die hoeveelheid water in mm/dag verbruik, vergeleke met die syfer vir voerverbruik uitgedruk as g/voël. Hierdie verhouding sal verander soos temperature daal of styg.

‘n Suksesvolle lêhen-onderneming is een waarin produksieprestasie gemeet word. So ’n aantekenstelsel moet plasingstatistieke, vrektes, hoeveelheid voer en afleweringsdatums, daaglikse waterverbruik, veranderinge in liggaamsgewig, eierproduksie, eiergewig, voeromsetverhouding, inentings, omgewingsfaktore soos minimum- en maksimumtemperature, en tropprestasie insluit.

Gesondheid en higiëne

Met siektes soos voëlgriep (HPAI) wat troppe geheel en al kan uitwis, is dit belangriker as ooit om gesondheid, higiëne en biosekuriteit op pluimveeplase doeltreffend te bestuur. In hierdie verband, sê Saunders, is dit nodig om die verskil tussen gesonde en siek voëls te herken en verstaan (Tabel 3).

Tabel 3: Verskille tussen gesonde en siek voëls. (Bron: Sapa/Alan Saunders)

 Gesonde voëlSiek voël
StaandeRegop, stert regop.Stert en vlerke hang, kop na aan die lyf gehou, agteroor gedraai of tussen bene.
KopSkoon, pienkerige rooi kam en belle, helder en wakker oë, en skoon neusgate. Oë ronder.Verkleurde, verkrimpte kam en belle, oë dof en waterig, gekoek om neusgate, gesig geswel, ooglede toe en geswel. Oë meer ovaalvormig.
Bene en poteSkoon, wasagtige skubbe, gladde gewrigte wat koel is by aanraking.Ontwater met prominente senings, vergrote gewrigte wat warm is by aanraking, en pote geswel en gekraak.
VereGlad en netjies.Deurmekaar en gevlek.
Dors en eetlusEet en drink gereeld.Verlies aan eetlus. Voëls dikwels dorser as aan die begin.
MisGrys/bruin met wit punte, definitiewe vorm. Sekale uitskeiding kan skuimerig wees.Verkleur, waterig of taai, erge reuk en kan bloederig wees.
AsemhalingStil, bek toe en normale temperatuur.Stresbelaaide, hoesende, grynsende en sigbare hygbewegings.

Die erns van ’n siekte hang van verswarende en versagtende faktore af. Siekteveroorsakende organismes soos virusse, bakterieë, protosoë of gifstowwe is gewoonlik teenwoordig by ’n sigbare siekte. Faktore soos stres, lae voerinname, ondervoede en ondergewig voëls, en swak omgewingstoestande is voorbeelde van verswarende faktore wat deur swak bestuur veroorsaak word.

Behoorlike biosekuriteitsmaatreëls is nodig om die siekterisiko te verminder. Voorkoming is beter as genesing, want dit is baie moeilik om van ’n siekte ontslae te raak as dit eers sigbaar geword het. Die pilare van biosekuriteit bestaan uit die skei van troppe, toegangsbeheer van mense en verkeer, sanitasie, insekbeheer, misverwydering en skoonmaak. Dit behels ook ’n goeie immuunstatus.

Plaagbeheer is ook van groot belang in die versekering van ’n gesonde trop. Beheer van rotte en muise in pluimveebehuising is veral belangrik. Hulle is intelligente diere, raak vinnig sku vir aas, en bou selfs weerstand teen gifstowwe op. Daarom moet aanbieding, plasing, ligging en tipes gif gereeld afgewissel word. Maak ook baie seker dat die hoenders se voer en water nie met gif besmet word nie.- Susan Marais, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Abongile Balarane, hoofbestuurder van Sapa se lêhen-afdeling by abo@sapoultry.co.za, of Alan Saunders by saunders.alanjohn@gmail.com.