Estimated reading time: 6 minutes
Uitskotkoeie word eerder as ’n verlies aan melkinkomste gesien en hul slagwaarde is weliswaar die laaste bron van inkomste uit ’n melkkoei. Dikwels kan weinig gedoen word om die vleiswaarde van uitskotkoeie te verhoog. Daarom word hulle gewoonlik so vinnig as moontlik van die plaas verwyder om verdere koste te beperk.
Inkomste uit bulkalwers
’n Ander moontlike bron van vleisproduksie uit ’n melkkudde, is bulkalwers wat aankom. Meestal word net enkele bulkawers van uitstaande koeie grootgemaak vir eie gebruik. Dié kuddebulle word dan ná ’n paar jaar vervang met ‘nuwe bloed’. Sommige melkboere koop eerder melkras-bulkalwers met goeie genetiese potensiaal om self groot te maak vir latere eie gebruik.
Omdat sowat 50% van kalwings bulkalwers oplewer, is daar altyd baie te koop. Baie van dié kalwers word deur kalfgrootmakers vir die vleismark gekoop. Dikwels wanneer iemand met ’n klein boerdery wil begin, word die grootmaak van bulkalwers oorweeg. Dit is veral gewild onder nuwe toetreders en afgetredenes.
Dit is egter nie ’n maklike bedryf nie en winsgrense is wisselvallig omdat dit eintlik ’n spesialisbedryf is met spesifieke markte wat nie noodwendig plaaslik goed ontwikkel is nie. ’n Paar beginsels moet in gedagte gehou word om in hierdie nisbedryf suksesvol te wees.
Bulkalfvrektes
Vrektes onder bulkalwers wat gekoop en na ’n ander plaas vervoer word, is dikwels hoog. Gevalle is aangemeld waar 50% en meer van die aangekoopte bulkalwers gevrek het. Een van die moontlike redes hiervoor is dat minder aandag aan die inname van kolostrum gegee word wanneer dit ’n bulkalf is.
Voldoende kolostrum (biesmelk) moet binne die eerste drie tot ses ure ná geboorte ingeneem word om kalwers ’n passiewe immuniteit te gee. Kalwers behoort kolostrum te ontvang vir so lank as wat die moeder dit produseer, want dit is ’n goeie voedingsbron met hoër energie- en proteïenpeile as volroommelk. Die teenliggaampies in kolostrum beskerm ook teen patogene in die spysverteringskanaal.
Daarom moet bulkalwers eerder op ’n latere as vroeëre ouderdom gekoop word, verkieslik sowat ’n week ná geboorte. Dit kan ’n hoër prys beteken, maar minder vrektes sal hiervoor vergoed.
Kalfbehuising
Pasgebore kalfies moet goed versorg word. Kalfhokkies moet skoon en gereed wees wanneer die kalwers op die plaas aankom. Hokke is gewoonlik sowat 1m breed en 1,8m lank, met afskortings van sowat 1m hoog. Die vloere moet van beton wees, met ’n helling van voor na agter.
’n Dik laag droë strooi moet dien as beddegoed en nat beddegoed moet elke dag verwyder en met vars strooi aangevul word. ’n Kalfhuis met hierdie tipe hokke moet oop wees na die ooste of noordooste, sodat die son soggens kan inskyn. Sonlig laat die vloer vinnig droog word en is ’n natuurlike ontsmettingsmiddel as gevolg van die ultravioletstrale.
Kalwers bly in dié hokke tot hulle sowat twee tot drie maande oud is, waarna hulle in groepe aangehou kan word.
Voeding vir bulkalwers
Kalwers moet twee maal per dag – soggens en saans – volroommelk of goeie gehalte melkvervanger kry. Gee vars melk van die laaste melking teen 10% van liggaamsgewig (sowat 4ℓ/dag). Ná twee weke kan meer melk voorsien word. Verhoog die hoeveelheid melk elke week met 2ℓ/dag tot sowat 8ℓ/dag. Ontsmet die melkhouers ná elke melkvoeding en gebruik dieselfde houer vir elke kalf om siekteverspreiding te voorkom.
’n Kalfaanvangsmeel (of -pille) kan vanaf ouderdom sewe dae voorsien word. ’n Klein hoeveelheid meel – sowat 100 tot 150g – word elke dag gevoer. Voorsien dit in ’n voerbak op dieselfde plek waar die melk gevoer word. Die kalf moet leer om die meel te vreet. Smeer daarvan aan sy neus nadat hy melk gedrink het.
Voorsien elke dag vars meel en verwyder die vorige dag se meel. Dit raak vinnig suur, onsmaaklik en muwwerig weens kwyl. Verhoog die hoeveelheid meel daagliks indien alles opgevreet word. Voorsien ook daagliks vars drinkwater. Hou melk vir ’n uur voor en ná melkvoeding weg om te voorkom dat kalwers te veel water drink.
Hoe vinniger kalwers meel begin vreet, hoe vinniger kan hulle van die melk gespeen word, gewoonlik rondom twee tot drie maande, maar kleiner kalwers kan vir langer melk kry.
Voeding vir vleisproduksie
Bulkalwers word grootliks op dieselfde manier as verskalwers grootgemaak. Die uitsondering is wanneer wit kalfsvleis geproduseer word. Dit is ’n klein nismark wat dikwels self ontwikkel moet word. Dié kalwers word net op volroommelk of melkvervanger grootgemaak. Die vleis is wit of romerig pienk.
Vir rooi kalfsvleis word ’n kalfaanvangsmeel saam met melk gevoer en ná speen kry kalwers ’n groeimeel. In Suid-Afrika moet die karkas van bulkalwers wat as kalfsvleis bemark word, nie meer as 100kg weeg nie. Afhangend van die melkrastipe, bereik bulkawers dié gewig wanneer hulle sowat 200 tot 220kg op sowat ses tot sewe maande weeg.
Vleisproduksie-infrastruktuur
Vir beesvleisproduksie word bulkalwers ná speen in groepe aangehou en word volvoerrantsoene, wat volgens die kalwers se behoeftes saamgestel is, ad lib gevoer. Die koste van grondstowwe, groeitempo en oorlewingsvermoë van kalwers tot en met bemarking, bepaal die sukses van hierdie produksiestelsel.
Hiervoor benodig produsente toerusting soos mengwaens asook ’n oopkampstelsel met voer- en waterkrippe. Die uitleg moet sodanig wees dat bulkalwers maklik kan vreet. Die ouderdom (en gewig) van die kalwers bepaal die vreetspasie by voerkrippe en kompetisie neem toe wanneer vreetspasie beperk is.
Bulkalwers op aangeplante weiding is ’n goedkoper stelsel, maar die bemarkingsouderdom kan later wees. Uitslagpersentasie en vetbedekking kan ook laer wees.
Rasse om te oorweeg
Plaaslik is min navorsing gedoen oor die potensiaal van vleisproduksie uit ’n melkkudde. In vroeë studies is Simmentalerkalwers deur Jerseykoeie grootgemaak. Latere navorsing het gevind dat Holstein- en Fleckvieh- (’n melktipe Simmentaler) x Holstein-ossies op ouderdom 18 maande onderskeidelik 445 en 473kg geweeg het.
Die bemarkingsouderdom vir kalfsvleisproduksie van albei rasse was gemiddeld 5,8 maande. Hierteenoor was Jersey- en Fleckvieh- x Jerseybulkalwers op onderskeidelik 7,3 en 6,2 maande gereed om as kalfsvleis bemark te word.
Die groeitempo van Jerseybulkawers is stadiger as ander rasse, maar hul vleis het ’n fyn snit en kan moontlik beter pryse haal. ’n Nismark sal egter hiervoor ontwikkel moet word.
Bulkalwers van vleisrasbulle op melkkoeie is meer gewild by voerkrale, omdat hul groei vergelykbaar is met dié van suiwer vleisrasse. In Ierland word ’n gedeelte van die melkkudde met verskillende vleisrasbulle gedek en intensief grootgemaak.
In Europa maak vleisproduksie uit die melkstal meer as 50% van alle vleis uit, waarskynlik weens die groot aantal dubbeldoelrasse soos Fleckvieh, Montbéliarde en Normandie wat vir melkproduksie gebruik word. In Suid-Afrika is die bydrae van melkkuddes tot vleisproduksie waarskynlik slegs sowat 10%. Veral Jerseykuddes hou groot waarde in.
Algemene riglyne
Vleisproduksie uit die melkstal is ’n natuurlike proses, maar vir maksimum doeltreffendheid moet dit planmatig bedryf word.
Beperk koeiverliese weens siektes en behandelings wat vleis onbruikbaar maak. Gebruik vleisrasbulle op die onderste derde (gebaseer op genetiese meriete) van koeie in die kudde. Dit is gewoonlik die ouer koeie en sal kalwingsprobleme beperk. Dié bestuursopsie moet egter net oorweeg word as die kudde maksimum grootte bereik het, die uitskotkoers van koeie laag is en versoorlewing van geboorte tot eerstekalf hoog is.
Koop by produsente wat moeite doen met die biesmelkinname van pasgebore kalwers. Koop en vervoer kalwers later (ná tien-dae ouderdom) om die risiko van vrektes te verminder. Beperk die vervoer van verskillende groepe kalwers oor groot afstande en maak vooraf seker dat hul nuwe omgewing skoon is.
Voorsien ’n goeie kommersiële elektrolietbehandeling voor en na vervoer. Moet verkieslik nie melkvervangers met plantproteïene gebruik nie en vermy veselinname, aangesien kalwers se rumens nog nie voldoende ontwikkel is om dit te benut nie. Goeie kommersiële produkte is reeds ontwikkel om kalwers te beskerm – behandel volgens die gegewe voorskrifte. – dr Carel Muller, navorsingsgenoot, veekundige wetenskappe, Universiteit van Stellenbosch
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan
dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com.