Tuesday, February 4, 2025

Vergemaklik die lamseisoen deur ooie te sinkroniseer

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

  • Lamtyd op enige grootte skaapplaas is ’n bedrywige tyd.
  • Hendriëtte Stafford van Ramsem glo die sinkronisering van ooie as hulpmiddel tydens die beplanning van reproduksieprogramme is van onskatbare waarde vir kleinveetelers.
  • Hendriëtte sê ooisinkronisering, as deel van jou boerderyplan, hou enorme voordele vir die skaapprodusent in.
  • Navorsing toon dat ooie wat gesinkroniseer is, geneig is om meer twee- en drielinge te lam.
  • Die ideaal is om meerlinge te produseer, maar hoë eise word gestel aan dragtige ooie met meerlingfetusse en sogende ooie met meerlinglammers.

Lamtyd op enige grootte skaapplaas is ’n bedrywige tyd en daar is al baie geredeneer en geskryf oor hierdie tydperk. Gevolglik is daar ’n paar denkskole oor wat die regte metodes is om lamtyd makliker en vlotter te laat verloop. En natuurlik wil elkeen ’n noot in die psalm hê!

Sommige boere glo jy moet verkieslik nie inmeng met die natuur nie en elke ooi kans gee om te lam soos dit haar pas. Op dié manier doen die produsent moeite om elke dag tussen sy skape te kom en gereeld deur die plaas te ry wat natuurlik ’n tydsame proses is. Ander glo weer in die teendeel. ’n Skaapboer is besig en daar is nie tyd vir alles wat gedoen moet word nie. Dit is volgens hulle beter om al die lammers op een slag te verwag en te weet hulle gaan saam deur al die stadiums. Groot getalle lammers word dan ook almal saam bemark en die finansies kom georden in die bankrekening in.

Binne dié denkskool is daar al baie navorsing gedoen oor die proses van sinkronisering van ooie en om die proses vir produsente te vergemaklik. Dit is nou ’n maklike proses wat die produsent self kan toepas om die lewe vir hom en sy werkers op die plaas makliker en vaartbelyn te maak.

Lees meer oor speenlamversorging.

Sinkronisering van as hulpmiddel

Hendriëtte Stafford van Ramsem glo die sinkronisering van ooie as hulpmiddel tydens die beplanning van reproduksieprogramme is van onskatbare waarde vir kleinveetelers. Sy meen ook dat die proses ten volle benut moet word.

“Die proses het die toets van die tyd deurstaan. Dit is nie net baie suksesvol nie, maar ook bekostigbaar en danksy die huidige goeie vleis- en wolpryse is dit ook vir die kommersiële teler haalbaar,” gesels sy.

Deur gebruik te maak van die sinkronisasiemiddels wat reeds op die mark is, kan die ooie op die plaas gelyktydig op hitte gebring word en lamtye kan beter beplan en drasties verkort word.

Wat behels die proses?

Sy verduidelik dat dit ’n eenvoudige proses is wat die teler self kan toepas. Die hele proses neem 13 tot 15 dae om te voltooi. Om ooie te sinkroniseer word intravaginale sponse met ’n progesteroon geïmpregneer, in die ooie geplaas en by onttrekking word dragtige-merrieserum ingespuit. Indien die genetiese potensiaal van die ooi dit toelaat, is die proses baie doeltreffend om die estrussiklusse van die ooie te sinkroniseer. Dit kan ook die ooie se fekunditeit (die aantal lammers per ooi) verhoog.

Navorsing toon dat ooie wat gesinkroniseer is, geneig is om meer twee- en drielinge te lam, maar Hendriëtte beklemtoon dat sinkronisering van ooie alleen nie genoeg is om meer lammers te lewer nie. Hiervoor is goeie bestuur soos beplanning, voeding, seleksie vir meerlinge, inenting, dosering, skeer en speen absoluut noodsaaklik is. Indien meerlingooi- en -ramlammers as vervangingsdiere teruggehou word, word vrugbaarheid in ’n kudde verhoog wat lei tot meer lammers en meer geld in die sak.

Lees meer oor optimale lamvoeding.

Die voordele van sinkronisering

Hendriëtte sê ooisinkronisering, as deel van jou boerderyplan, hou enorme voordele vir die skaapprodusent in. Dit is die kapitaal wat uitgesit word vir die proses werd.

Hier is ’n paar van die voordele wat sinkronisering inhou:

  • Dit is uiters suksesvol in die praktyk.
  • Dit is koste-doeltreffend vir die skaapprodusent.
  • Die aanwending en proses wat gevolg word is eenvoudig. Die produsent kan dit maklik volg.
  • Die ooie is gelyktydig bronstig.
  • Die ooie wat beset raak met sinkronisering, lam gewoonlik almal binne vyf tot sewe dae – dit maak lamtyd vir die produsent makliker.
  • Lamtyd kan beter beplan word.
  • Die lammers is almal ewe oud en kan makliker gespeen en bemark word.
  • Ongediertebeheer kan makliker toegepas word.
  • Die gebruik van lamhokke kan optimaal deur die produsent benut word.
  • Beter bestuur kan toegepas word. Die produsent kan beter beplan, wat lei tot beter bestuur.
  • Ooie is in dieselfde stadium van dragtigheid; daarom kan voedingsprogramme makliker toegepas en selfs verkort word.
  • Sinkronisering vergemaklik ook dragtigheidstoetse.
  • Telers kan beter gehalte ramme meer optimaal gebruik.
  • Vinniger genetiese vordering raak moontlik.
  • Met goeie waarneming kan ramme met ’n swak libido en dekbehendigheid makliker geïdentifiseer word.
  • Sinkronisering vergemaklik ook rekordhouding. Dit is makliker om behoorlik rekord te hou van die lammers.

Die ideaal is om meerlinge te produseer, maar hoë eise word gestel aan dragtige ooie met meerlingfetusse en sogende ooie met meerlinglammers. Ongunstige voedingsbestuur kan ook groot verliese veroorsaak. Met sinkronisering, goeie bestuur en akkurate dragtigheidsondersoeke kan hierdie probleem oorbrug word. Die skaapprodusent kan beter beplan en lamtyd beter bestuur. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Hendriëtte Stafford by 082 900 3903/4.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 4 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ivermektien: Veilig vir dier én mens?

Estimated reading time: 4 minutes Die potensiaal van ivermektien...