Estimated reading time: 7 minutes

Weiding in die Noord-Kaap raak ál hoe minder en plase se drakrag word ingeperk. Die gebied kry nie genoeg reën om die veld aan te help nie en navorsers moet gereeld ’n haas uit die hoed ruk met aangepaste diere wat die droogte kan hanteer, ekstra byvoeding en nuwe boerderymetodes. Die deursnee-produsent weet hy moet dít verander wat hy kan beheer, maar die veld en reën is nie deel daarvan nie.

Lees jou veld en bestuur jou boerdery daarvolgens.

Daar is egter ’n handjievol boere wat glo ’n mens kan die veld verbeter as jy net genoeg geduld aan die dag lê. Een so ’n boer is Philippus Breyl, wat by die Smartt-sindikaatdam tussen Vosburg en Britstown boer. Hy is nie net ’n boer nie, maar ook ’n saad- en kunsmisagent, en hy glo dit is moontlik om die Karoo weer groen te kry.

Phillipus en sy vrou, Heide, het baie navorsing gedoen oor die natuur en die chemiese samestelling daarvan in hul omgewing, om antwoorde op hul vrae te kry. Hy vertel dat hy op sy eie grond en op ander plase besig is met proewe om die veld te verbeter en hulle sien ná drie jaar reeds goeie resultate, ten spyte van die droogte.

Grondbedekking die eerste stap

Volgens Philippus is die Karooveld oorbewei en sy ideaal is dat produsente weer hul veld moet omswaai en geleentheid gee vir goeie voeding om weer op die kaal kolle te vestig. “Ons moet die grond weer bedek. Dit neem tyd in beslag, maar dit kos nie baie nie.

“Ek wou in een van my kampe wat so kaal soos ’n stoepvloer was, ekstra weiding aanplant en het na beskikbare saadmengsels gekyk, maar niks was regtig geskik vir ons doel nie. Met Agricol se hulp is ’n Kalaharimengsel saamgestel uit bloubuffels- en borseltjiegras, wat voedsaam is en min water nodig het.”

Aanvanklik het hy die saad te vlak geplant en het dit nie gewerk nie. Toe begin hy om voortjies te trek en die saad dieper te plant. Dit was baie suksesvol.

Saai strategies

“Soos die meeste Karooplase het die plase waar ons proewe gedoen het, grondwalle waar die water bly staan en dit is dáár waar ons die saadjies plant. As die reën kom, sien jy hoe die gras opkom. Die geheim is om nie daardie dele te bewei nie. Die gras moet eers ’n pol vorm en weer saadskiet sodat die saad verder kan versprei. Dit gee ook die bossiesaad kans om daar in te waai en te vestig,” verduidelik Heide.

veld
Hier wys Phillipus hoe lyk die saadjies wat reeds geval het en op die eerste water wag sodat dit kan ontkiem.

Philippus se raad is om eers die grond te bedek en te sorg dat ’n groeiende wortel in die grond kom. Hy maak die grond los en berei dit voor vir nuwe gras en bossies om te vestig.

“Die mat wat gevorm het, keer dat die son direk op die grond skyn en só verlaag ons die grond se temperatuur. Wanneer daar ’n wortel in die grond is, wat moontlik dormant is, beteken dit dat ons die koolstof in die grond behou. So herskep ons weer ’n mikrobiologiekultuur in die grond, wat die gras en bossies weer kans gee om te vestig. Dit is juis daardie mikroörganismes wat die koolstof by die wortels bind. Ons kan dit nie self doen nie – dit is die natuur se werk.”

Geenbewerkingsboerdery is beter

Philippus en Heide glo ook aardverwarming het deels ontstaan omdat die grond oopgeploeg en oorbewei is. Met tyd het die grondoppervlakte kaal geraak en die koolstof kon nie meer vasgehou word nie. Die enigste manier om dit terug te kry is met groeiende wortels in die grond, sodat mikrobes die koolstof kan bind.

“Vir elke persentasiepunt wat ons die organiese koolstofinhoud in die grond verhoog,” sê Philippus, “hou ’n hektaar grond ongeveer 170 000ℓ water vas.”

Die doel van die geenbewerkingsmetode wat deesdae bepleit word, is om grond te herstel sodat reënwater nie wegspoel nie, maar beter benut word. Dieselfde beginsel geld in die Karoo. Wanneer dit reën, spoel die water vinnig weg, want daar is niks wat dit vashou en in die grond laat intrek nie.

“As jy hierdie grond ontleed, is die koolstofvlakke ver onder 1%. Ons grond het nie die vermoë om water te hou nie. Die enigste manier om die probleem op te los, is om die grond te bedek,” sê hy. 

Phillipus en Heide Breyl het baie navorsing gedoen oor maniere om die Karoo weer groen te kry. Volgens hulle is dit nie ’n onmoontlike taak nie – elke produsent moet net op sy plaas begin. Saam met hulle is hul jongste dogtertjie, Mireille.

Rome is nie in een dag gebou nie

“Dit het ons eeue geneem om die grond op te foeter en nou moet ons dit regmaak. Dit gaan egter nie oornag gebeur nie.” 

Phillipus sê dit klink na ’n onmoontlike taak om die Karoogrond te bedek, maar jy kan begin deur klein, halfmaan-grondwalle in die grond te skraap waar die pioniergras kan vestig. Die water versamel dan in die ‘dammetjies’ en hou die grond langer nat, sodat die saad kans kry om te ontkiem.

Die beste is om oop kolle op afdraandes te gebruik. Plant dan ’n grassoort wat aggressief groei, sodat die grond net eers bedek kan raak. Mettertyd kan jy ander soorte saad op dieselfde plek vestig. 

“Hoe meer soorte plantwortels jy in die grond het, hoe meer divers is die mikroörganismes wat hier vestig en hoe makliker kan die grond herstel. Dit verlaag die grondtemperatuur en meer plante vestig dan hier. Dit kan wel jare neem om die doelwit te bereik,” verduidelik hy.

“Hoe meer soorte plantwortels jy in die grond het, hoe meer divers is die mikroörganismes wat hier vestig en hoe makliker kan die grond herstel. Dit verlaag die grondtemperatuur en meer plante vestig dan hier. Dit kan wel jare neem om die doelwit te bereik,” verduidelik hy.

Wat van die volgende droogte?

Dit is goed en wel om hierdie metodes in die groen jare te volg, want dit reën en daar is genoeg ander weiding, maar wat van die droogtejare?

Volgens Phillipus moet ’n mens altyd ’n plan B in jou agterkop hê en sy raad is om in droogtetye jou vee vroeër te verminder, eerder as om jou veld te laat oorbewei. Dit is ’n beter belegging om jou veld te beskerm as om ’n kans te vat en langer te voer.

Drukbeweiding

Nog ’n faktor wat Philippus bepleit is drukbeweiding. Veewagters het vroeër die diere heeltyd verskuif en so drukbeweiding toegepas. Diere moet nie te lank op een plek bly nie, sodat die grond kan rus en plante weer kan uitgroei.

Daar is ook eintlik te min spesies diere op ’n plaas. Die meeste plase het net skape, maar daar moet meer soorte hoewe op die veld kom, omdat elkeen ’n ander doel het. 

Hy vertel dat daar byvoorbeeld op plase in die Oos-Kaap baie klein kampies is waar drukbeweiding toegepas word – eerste met bokke, waarna beeste die veld kaal vreet en gaatjies in die grond trap vir saad om te gaan lê, en laastens dolwe varke die grond om. 

Lees meer oor die bioversiteit wat in die Karoo ontluik wanneer reën wel kom.

“Dit is nie haalbaar om ’n hele plaas op een slag te probeer rehabiliteer nie. Begin eerder op ’n klein kolletjie en brei van daar af elke jaar uit. Dit is nie iets wat oornag gaan slaag nie, maar sal oor ’n lang tyd goeie dividende lewer.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Philippus Breyl by 081 433 7251.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom