Karoo-diversiteit en nuwe spesies na die reën

Estimated reading time: 8 minutes

  • Praat jy met veeboere van die Karoo en vertel almal graag van die reën en die weiding wat hulle het, maar sien nie noodwendig die klein goedjies raak nie. Dit is juis die klein diertjies wat die natuur in stand hou en sorg dat elke ekosisteem klopdisselboom loop.
  • Ryan Tippett is ‘n produsent, navorser en veldgids in die Carnarvon distrik en ’n man met ’n passie vir die biodiversiteit van die omgewing. Hy glo lewe soos insekte, spinnekoppe en voëls word totaal in die Karoo onderskat.
  • Ryan meen egter produsente kyk eintlik net met meer aandag na die veld en sien spesies raak wat hulle nog nooit opgemerk het nie.
  • Die beskerming van biodiversiteit is ’n langtermyn plan om volhoubaar te boer. Produsente boer nie net met skape of beeste nie – hulle boer met veld en dit is juis biodiversiteit wat die veld bymekaarhou.

Wanneer ons praat van die wonder van die natuur, dink ons onmiddellik aan die Groot Vyf of die grasie van die eland, koedoe en die swartwitpens. Praat jy met veeboere vertel almal graag van die reën en die weiding wat hulle het, maar sien nie noodwendig die klein goedjies raak nie. Dit is juis die klein diertjies wat die natuur in stand hou en sorg dat elke ekosisteem klopdisselboom loop.

So gesels Ryan Tippett, produsent, navorser en veldgids in die Carnarvon distrik en ’n man met ’n passie vir die biodiversiteit van die omgewing. Hy glo lewe soos insekte, spinnekoppe en voëls word totaal in die Karoo onderskat. As ’n mens hul waarde besef, sal jy met ander oë na die veld om jou kyk.

Ryan het in KwaZulu-Natal grootgeword. Sy oupa het hom geleer hoe klein diertjies onverpoosd werk om die natuur se ratte te laat draai. Dit is juis hierdie klein ‘ratte’ wat sy belangstelling geprikkel het. Na skool het sy ouers na Botswana verhuis en hy het by ’n oord as ’n gids werk gekry. Hy is vir meer as 21 jaar al ’n veldgids wat mense gereeld op begeleide toere neem.

Na ’n paar jaar se ondervinding het hy besluit om terug te keer na Suid-Afrika en hier het hy heelwat ervaring opgedoen deur toeriste op visvangtogte, staptoere en voëlkykuitstappies te neem. Later het die gedagte posgevat om sy eie besigheid te begin om toeriste op interessante ekotoere te neem.

Ryan en sy vrou, Jana, het later besluit om terug te keer na Jana se heimat en dit is hoe hulle in die droë Karoo beland het.

Lees meer oor intensiewe Merino- en Angoraboerdery in die Karoo.

Die wonder van die natuur

Ryan het vir die eerste keer op die internet kennis gemaak met prof Les Underhill van die Universiteit van Kaapstad wat die Instituut vir Biodiversiteit en Ontwikkeling, asook ’n virtuele museum begin het. Sy doel is om te bepaal watter diere oral in die land voorkom. Ryan sê dit was waar hy besef het die Karoo is baie swak opgeskryf. Daarom het hy dit sy taak gemaak om betrokke te raak en het hy ander produsente se belangstelling hierin begin prikkel.

Hy en ’n vriend in die Carnarvon-gebied het ’n WhatsApp-groep gestig waar hulle foto’s van vreemde spesies met mekaar deel en mekaar met die identifisering daarvan help. Baie produsente sê hulle het sedert die goeie reëns van die afgelope jaar of twee heelwat nuwe insekte gesien wat nog nie voorheen in die Karoo was nie.

Ryan meen egter produsente kyk eintlik net met meer aandag na die veld en sien spesies raak wat hulle nog nooit opgemerk het nie. Die Karoo het wisselvallige weerpatrone en heelwat spesies trek agter voedsel aan. Met die erge droogte is heelwat van hulle vort op soek na beter weiplek. Noudat dit weer gereën het, keer hulle terug na hul oorspronklike blyplek. Dit is ook ’n rede waarom meer spesies gesien word.

Ken jou biodiversiteit

Baie produsente sê hulle boer met veld; as jy nie die biodiversiteit en elke dier en plant se rol in daardie ekosisteem ken nie, kan jy eintlik meer skade aanrig as om goed te doen.

Daar is produsente wat die droogte vir alles blameer, maar die plase waar die biodiversiteit in die goeie jare beskerm en bewaar is, kan ’n droogte baie langer hanteer as een waar dit nie gedoen is nie.

“Die beskerming van biodiversiteit is ’n langtermyn plan om volhoubaar te boer. Produsente boer nie net met skape of beeste nie – hulle boer met veld en dit is juis biodiversiteit wat die veld bymekaarhou. Hoe beter jou biodiversiteit, hoe gesonder is jou veld. Plante is die basis van die voedselketting in die natuur en as jou plantegroei op die plaas goed is, is die voedselvoorsiening ook goed. Elke insek, voël, spinnekop of diertjie het ’n rol om te speel in die volhoubaarheid van die veld. As jy dit uithaal, verswak jy jou veld,” meen Ryan.

Sprinkane en erdvarke het ’n rol

Volgens hom is daar twee elemente in die Karoo wat eintlik die hoekstene van die omgewing is: die erdvark en die sprinkaan. Sprinkane word deur die meeste mense verkeerd verstaan, meen hy. Hulle is net so ’n deel van die natuur se ekosisteem en speel eintlik ’n geweldige belangrike biodiversiteitsrol. Ryan gee toe dat te veel insekte soos sprinkane ook nie altyd goed is nie.

Verlede jaar het swerms sprinkane van tot 50km lank oor hulle plaas gekom. As hulle gaan sit, vreet hulle alles kaal maar in hulle vlug, doen hulle die veld eintlik ook ‘n guns deur bossies te ‘snoei’ en skoon te maak. Hulle is ook ’n goeie bron van proteïen vir die voëls wat inkom. Daar is selfs opgemerk dat die skape sprinkane gevreet het. Die verhoogde beskikbaarheid van proteïene het meer voëls en ander klein diere weer in die Carnarvon-omgewing laat vestig.

Vir die veeboere in die Karoo is die sprinkane dus nie so ’n groot probleem nie, maar dit moet beveg word om te verhoed dat die groot swerms nie in die saaigebiede van die Vrystaat intrek nie.

Die natuur is so saamgestel, sê hy, dat die plantegroei voedsel aan baie insekte voorsien en hulle voorsien weer voedsel vir die volgende groep diere wat groter is. “Dit is ’n kringloop en as jou plantegroei goed is, is die biodiversiteit goed.”

Erdvarke word ook maklik uitgeroei, maar hulle is bloot net insekvreters en kan nie skade aan ’n skaapkudde doen nie. Die voordeel van erdvarke is dat hulle gate grawe. Hulle kan tot tien gate in een nag grawe en hierdie gate is weer die ideale opvangsplekke vir water en waar saad kans kry om te ontkiem. In die Karoo wat baie droog is, is dit die ideale plekke vir saadontkieming en nuwe groei, wat op die lang duur weer ’n klein ekosisteem vorm wat die veld versorg. Dieselfde geld ook vir meerkatte se gate.

Met die droogte het baie boere gekla dat die skape vrek as gevolg van die vermeerbos en ander giftige plante, maar skape vreet oor die algemeen nie vermeerbos nie. Hulle vreet dit slegs as daar niks meer oor is nie. As ’n produsent sy veld oppas, vat dit soveel langer om by die stadium te kom waar ‘n skaap vermeerbos sal vreet.

Kennis bied bewaringsmag

“Daar is baie faktore wat deur die droogte veroorsaak word, maar die droogte is nie totaal en al vir die negatiewe dinge verantwoordelik nie. Swak bestuur kan net soveel skade aan ’n plaas aanrig as ‘n droogte.”

Ryan glo daar is ’n tekort aan kennis oor biodiversiteit. Die veld is die sleutelfaktor in ‘n goeie boerdery en die balans in die veld hou dit gesond. Hoe meer biodiversiteit jy op die veld het, hoe meer sal jou veld kan aanpas by omstandighede. Gevolge soos erosie, verwydering van die bogrond, indringerplante, bosverdigting en oorbeweiding is alles negatiewe impakte wat die mens op die veld het. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting of om betrokke te raak by die biodiversiteits-WhatsApp-groep, kontak Ryan Tippett by 079 016 7231.

Must read

Meet the expert speakers at the 2024 LRF Stockman School

Estimated reading time: 12 minutes If you are a serious commercial or stud farmer who bases your farming enterprise on scientific principles and the latest technology, then be sure to be at Aldam in the...
AECI Plant Health

RSG Landbou: 22 Julie 2024 – geborg deur AECI Plant Health

Wetgewing en regulasie met betrekking tot die gebruik van landbouchemie verander gereeld. Hoe kan die produsent aanpas? SB Coetzee van AECI Plant Health beantwoord hierdie en ander vrae oor dié onderwerp. Volgens Jannie Strydom van...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get the...

Shifting seasons lead to fire hazards

Estimated reading time: 4 minutes It is fire season. Several intense veld fires have been reported in various parts of the country, causing loss of winter forage and stored hay bales, but more tragically, have...
Cilo Cybin noteer op JSE

Landbougeleenthede bly belangrik – Plaas TV vertel meer

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: 'n Mediese-kannabis-beleggingsmaatskappy genaamd Cilo Cybin Holdings Limited het onlangs op...