Estimated reading time: 3 minutes
Plaas Media het aan die begin van 2022 ’n nuwe projek van stapel gestuur, in samewerking met spesialis agri-konsultant, dr Louis du Pisani, ’n kundige op die gebied van veldweiding, lewendehawe en boerdery-ekonomie. Hierdie projek is vanjaar vir die tweede keer aangebied na ‘n suksesvolle aflewering waarin bekende vleisbeesboer en bedryfsrolspeler, James Faber, met die louere weggestap het.
Lees die persverklaring in Engels.
Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek het ten doel om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase implementeer en wat passievol is oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne. Dit is ook individue wat bereid is om hul kennis oor te dra en ander veeprodusente wat hierdie selfde passie vir hul omgewing deel, touwys te maak oor hoe hierdie praktyke ook op hul eie plase geïmplementeer kan word.
Beoordelingsproses
Die deelnemers moes ’n vraelys op www.agriorbit.com voltooi wat hul boerderypraktyke vanuit ses hoeke oorweeg het, naamlik veldbestuur, kuddebestuur, bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien beoordeel, die antwoorde sowel as die puntetellings is oorweeg, en op grond daarvan is die finaliste gekies. Dié vraelys is na die 2022-projek hersien en ‘n paar ekstra vrae is bygewerk vir ‘n groter fokus op weidingstelsels en veldbestuur.
Dr du Pisani sal binne die volgende paar weke die plase van die finaliste besoek vir kontrolering en om die deelnemers se klimaatslim boerderypraktyke van nader te beskou.
Lees meer oor die 2022 kuilvoerkompetisie-wenner.
Na afloop van die plaasbesoeke, sal die 2023 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aangewys word. Nie net is ’n handige kontantprys vir ons wenner beskore nie, maar hy of sy sal ook later vanjaar ’n boeredag op hul plaas aanbied, waartydens hulle hul kennis en praktyke met ander deelnemers en produsente wat meer oor hierdie praktyke wil leer, kan deel. Borge sal ook ’n kans kry om met die deelnemers en ander produsente te skakel, en hul passie vir klimaatslim boerdery te deel.
Vanjaar se trotse borge
Vanjaar se borge verdien applous vir hul toewyding aan klimaatslim boerdery in Suid-Afrika. Hou Plaas TV in die komende maande dop vir onderhoude met hierdie borge en om meer te leer oor hul rol in die projek, hul besigheidspraktyke en wat hulle doen om die stryd teen klimaatsverandering te veg. Ons borge vir 2023 is Nedbank, Zoetis en Elanco.
Ontmoet ons klimaatslim boere
Die projek het vanjaar nege inskrywings ontvang van boere wat almal klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas. Hierdie boere is Zippo Lamprecht, Casper Slabbert, Brendan Kingwill, Joe van Wyk, Pierre Thirion, Piet Roux, Lochner Eksteen, Gerrit van Zyl en Matthys Grobler.
Die drie finaliste in die tweede Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek, in geen spesifieke volgorde nie, is:
• Matthys Grobler van Soutpan.
• Gerrit van Zyl van Dewetsdorp.
• Piet Roux van Prieska.
Baie geluk aan ons drie finaliste en baie dankie vir die inskrywings wat vanjaar ontvang is. Maak seker jy hou Plaas TV, Plaas Media se YouTube-kanaal, dop vir ‘n terugvoer-onderhoud met dr du Pisani asook die drie finaliste. https://www.youtube.com/@PlaasTVFarmTV/featured
Vir meer inligting oor die kompetisie, 2024-inskrywings, 2023/2024-borgskappe of ander navrae, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of epos deidre@plaasmedia.co.za.