In die Julie-uitgawe van Veeplaas kyk ons na die uiteenlopende realiteite wat vandag se veeprodusente in die gesig staar, insluitend die naderende El Niño-verskynsel en roofdiere wat met moeite beheer moet word. Hierdie uitgawe dek elke aspek van veeproduksie, insluitend hoe ’n innoverende produsent rekordhouding in die veld baasraak, die beste strategieë vir minerale-aanvullings tydens die winter, en riglyne om knopvelsiekte te bestuur.
El Niño 2026/27: Wat wag op ons?
Die super-El Niño wat vir die 2026/27-seisoen voorspel word verteenwoordig die sesde verskynsel van sy soort in 70 jaar. Elke gebeurtenis het tot dusver met algemene droogtetoestande oor Suider-Afrika gepaard gegaan, met elke opeenvolgende El Niño wat feller as die vorige een was. Hoewel onsekerheid bestaan oor die finale impak van die 2026/27-gebeurtenis, waarsku wetenskaplikes dat die risiko van uiterste klimaatstoestande sal verhoog weens die kombinasie van ’n moontlike super-El Niño en voortdurende aardverwarming. Dr Louis du Pisanie vertel in hierdie uitgawe meer.
Hannes Esterhuyse: Dis produseer of padgee
Sommige produsente is gesteld op die administrasie en boekhouding van hul boerdery, terwyl ander teëskop wanneer dit by die papierwerk kom en eerder ander planne maak. Hannes Esterhuyse, ’n Witdorper-produsent van Williston, val in laasgenoemde kategorie. Pleks daarvan om alles op papier neer te skryf, merk hy eerder sy skape behoorlik. Sodoende kan Hannes die produktiwiteit van elke ooi op die plaas sommer so in die veld bepaal en sy boerdery daarvolgens bestuur. Hy verduidelik hoe sy stelsel werk.
Minerale-aanvullings vir die winter
Die produksie en reproduksie van beeskuddes word veral tydens die wintermaande onder druk geplaas, wanneer die veselryke gras lae vlakke van proteïen, energie, vitamiene en minerale bevat. Dit laat produsente dikwels kopkrap oor hoe hulle die regte voedingsaanpassings kan maak om hul kuddes deur die winter te kry. Hierdie aanpassings behels gewoonlik addisionele minerale en vitamiene. Veeplaas het by Alheit du Toit, veekundige by Feedtek, en dr Johann Stadler, veearts by Vlakte Veeartsenydienste, gaan kers opsteek om te hoor hoe dit gedoen moet word.
Roofdiergewoontes: Bestuursmetodes
In sommige lande het predasie reeds ’n groot tol op kleinveeboerderye geëis en Suid-Afrika ervaar soortgelyke druk. Predasiespesialis, Niël Viljoen, verduidelik in hierdie tweede aflewering oor roofdiergewoontes hoe doeltreffend verskillende beheermaatreëls werklik is, waarom sommige metodes eties en ekologies onaanvaarbaar is, en hoe geïntegreerde bestuur steeds die beste kans op langtermyn sukses bied.
Tem knopvelsiekte met goeie bestuur
In Oktober verlede jaar het dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, gewaarsku dat knopvelsiekte waarskynlik nog baie probleme gaan veroorsaak. Dié afleiding het berus op die buitengewone gevalle van die siekte wat tot so laat as Augustus en September in Noordwes voorgekom het. Die voorspelling is bewaarheid met wydverspreide uitbrekings van knopvelsiekte in groot dele van die land. Wat egter buitengewoon was, was die aantal vrektes as gevolg van die siekte, wat produsente laat wonder het of dit nie met bek-en-klouseer (BEK) te doen het nie. Verlaag die BEK-virus moontlik diere se immuniteit? Hy verduidelik.
Kry vandag nog jou eksemplaar by jou naaste kleinhandelaar of maak seker dat jy daarop inteken. Veeplaas is as ’n interaktiewe blaaiboek by https://digimags.agriorbit.com/books/Veeplaas-Julie-2026_digimag/ beskikbaar en kan ook by www.magzter.com


