Vinnige en radikale ontwikkeling is tans in die landbou aan die gang. Aan die een kant is daar die soeke na ’n volhoubare manier om ekstensief met skape te boer, en aan die ander kant is die sogenaamde regeneratiewe boerderykonsep op baie mense se lippe, waar een van die kernaspekte ultrahoëdrukbeweiding is.

In die Riemlandstreek van die Oos-Vrystaat is ’n klein plasie waar albei behoeftes op ’n vindingryke manier gekombineer word, en boonop ook ’n goeie voorbeeld stel van hoe ’n klein, ekstensiewe plasie winsgewend bedryf kan word.

Jaco Geldenhuys is ’n batebestuurder in die eiendomsbedryf in Pretoria, en hy het die plaas Maggie’s Rust in die Reitz-distrik sowat agt jaar gelede gekoop. Omdat die plaas slegs 150ha groot is, het hy vinnig besef dat ’n beesboerdery nie sal deug nie. Hy het toe begin soek na ’n stelsel om volhoubaar met skape te boer.

“Ek ry elke tweede Saterdag vyfuur die oggend plaas toe. Dan is ek agtuur hier en ek boer die hele Saterdag. Sondagoggend vyfuur vat ek weer die pad terug Pretoria toe en ek eet agtuur ontbyt saam met my vrou en twee dogters. Ek het nie baie vrye tyd nie, en dit dwing my om seker te maak dat ek slegs dinge in my boerdery toelaat waarvoor ek wel tyd het. Ek kan nie bekostig om rond te skarrel vir spesiale reëlings nie.”

Ultrahoëdrukbeweidingstelsel

Hy het dus begin soek na ’n stelsel wat by sy spesifieke behoeftes pas. “Ek wou ’n stelsel hê waar my persoonlike insette dieselfde kan bly, ongeag of ek 200 of 1 000 ooie aanhou. Dit impliseer ’n baie eenvoudige stelsel. Omdat ek vir lang tussenposes nie op die plaas is nie, moet dit ook ’n redelik robuuste stelsel wees waar min dinge fout kan gaan.”

Die feit dat die stelsel wat hy ontwikkel het ook ’n ideale ultrahoëdrukbeweidingstelsel is, was eintlik toevallig. Hy sê hy wou in die eerste plek net sy Dorpers uit die buurman se sojalande hou!

Sy oplossing was ysterhokke van 6m x 3m wat met ’n Veldspan-tipe heining dig gemaak is. Vier dikwielfietswiele sonder bande is aan elke hok gemonteer. ’n Waterkrippie en voerbakke is ook aan die raam gemonteer.

Beskerming teen natuurelemente

Die hokke is sowat 100mm bo die grond, maar Jaco reken hierdie hoogte sal dalk moet opskuif na 120mm namate sy weiding verbeter. In die winter word seile aan die kante vasgemaak vir beskerming teen die wind, en in die somer kry ’n derde van die hok skadunet vir koelte. Jaco het ook die waterpunte só geplaas dat die waterkrippe met swaartekrag deur bogrondse waterpype gevoed kan word.

Die hokke word aangeskuif soos die gras op ’n betrokke kol klaar gevreet word. Dit neem twee werkers ongeveer 20 minute om die 20 hokke wat hy op die oomblik het, te skuif.

“Aanvanklik het ons die hokke vyf keer per dag geskuif. Op veld wat egter reeds deur hierdie ultra-intensiewe weiding verbeter is, skuif ons die hokke deesdae slegs een keer in die oggend en dan weer een keer in die middag. Dis opmerklik dat ons die hokke meer dikwels moet skuif as ons na dele gaan waar ons nog nie tevore was nie. Die veld vorm ’n sagte, digte mat waar ons tevore dig bewei het.”

Hy sê dit het vir hom reg gevoel om sewe ooie in elke hok te hou. Dan skuif hy bloot die ramme elke maand na ’n nuwe hok, sodat sewe ooie per maand lam. Die ooie lam elke agt maande en hy speen die lammers op twee maande, nadat hulle sedert hul derde week kruipvoer ontvang het. Die gespeende lammers word in ’n afsonderlike hok gevoer wat ook saam met die res aanskuif, maar die beweidingsdruk is heelwat hoër in dié hok, omdat hulle ’n afrondingsrantsoen kry.

Grootte van hokke

“Ek eksperimenteer tans met die ideale grootte van die hokke. Daar is nou ’n paar van 6m x 6m waarin ek 20 ooie aanhou. Hierdie hokke is effens meer lomp om te skuif, maar ek sal sien watter grootte ideaal is.

“Ek reken my ooie bly deurentyd op ’n gemiddelde kondisiepunt van tussen 2,5 en 3. Byvoeding word in die oggend en smiddags gegee, en bestaan soggens uit 300g lamgroeipille per skaap en in die middag uit 200g van ’n klaar gemengde produksielek per skaap.

“Ons tel die aantal koppe in elke hok en elke skaap, hetsy lam of ooi, kry dieselfde hoeveelheid. Ons gebruik ’n blikbeker wat 300g groeipille of 200g lek neem as dit vol is. Dis vir my belangrik dat die ooie niks ekstra kry wat hulle uit die veld kan kry nie. Die lammers, aan die ander kant, eet min van hierdie lek omdat hulle in elk geval kruipvoer kry.”

Die kruipvoerbakke bestaan uit 150mm pyp, waarin hy gate van 110mm gesny het waardeur die lammers hulle koppe kan druk om te vreet. Met sy ma én die kosbak binne 6m van hom af, groei ‘n lammer baie goed.

Maklik om te bestuur

Hoewel daar baie roofdiere in die omgewing is, het hulle nog geen skade aan die diere in die hokke veroorsaak nie.

“Ek vind die bestuur van die stelsel baie maklik. Die hoeveelheid kos word per blikbeker afgemeet en die sakke kos word met ’n perd van die voerskuur af na die skape aangery. Elke hok het ’n vaste getal diere in, so dit is dadelik duidelik sigbaar as een kort. Daar is nooit ’n gesukkel om die skape te tel nie en hulle word só mak, dat dit baie maklik is om met hulle te werk.”

Jaco gebruik ’n paneel wat in die hok pas om die skape in ’n hoek teen die kant vas te druk as met hulle gewerk moet word. Aparte hanteringsgeriewe is dus nie nodig nie.

Hoewel hy elke skaap twee keer per dag na skoon weiding skuif, waar vir minstens ses maande geen skape op was nie, vind hy tog dat hy die skape in die somer moet ontwurm.

Die somme klop

Jaco sê die deel van sy plaas wat plat genoeg is vir die hokke, is sowat 100ha. Dit is dus een miljoen vierkante meter.

“As ek die veld sodanig kan opbou dat ek ’n hok van 6m net twee keer per dag hoef te skuif en ek laat bewei elke vierkante meter slegs twee keer per jaar wanneer dit vol in die saad staan, kan ek waarskynlik 1 000 ooie in hokke op 100ha aanhou,” sê hy.

Vir meer inligting, skakel Jaco Geldenhuys by 084 441 1181. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer