Tuesday, December 16, 2025

TLU SA se 2025 kongres bied PLAASlike Krag

Estimated reading time: 5 minutes

TLU SA se jaarlikse kongres het Woensdag, 10 September by die WNNR Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria plaasgevind. Vanjaar se kongrestema was “PLAASlike Krag = Globale Geleentheid,” met die fokus op die bemagtiging van landbouers om sterk te staan te midde van verandering en onsekerheid.

Boere word hulp beloof

Dipepeneneng Serage, adjunk-direkteur-generaal van die Nasionale Departement van Landbou (NDL), het namens die minister van landbou, John Steenhuisen, ’n boodskap aan kongresgangers oorgedra.

Adjunk-direkteur-generaal van die Nasionale Departement van Landbou, Dipepeneneng Serage, het namens die minister van landbou, John Steenhuisen, ’n boodskap by die kongres gelewer.

Minister Steenhuisen het aangedui dat die NDL kennis dra van TLU SA se kernbekommernis: dat boere bedingingsmag in die waardeketting verloor wat betref aan wie hulle verkoop, hoe dit geskied, en teen watter prys. “Julle stel nou ’n nuwe koöperatiewe model bekend om selfbeskikking te herwin. Ons verwelkom daardie ambisie. Koöperasies is nie ’n oorblyfsel van die verlede nie; hulle is ’n moderne instrument vir bedingingsmag, insetbesparings, logistieke optimalisering, markontwikkeling, en risikodeling – mits hulle goed bestuur, goed gekapitaliseer, en digitaal bemagtig is.”

Serage het namens Steenhuisen die ondersteuning van die bemagtiging van produsente verklaar. Die NDL wil op drie maniere hulp aan produsente bied: billike markte en prysdeursigtigheid; regulatoriese duidelikheid vir koöperasies; en digitale infrastruktuur.

Drie paneelgesprekke het tydens die kongres plaasgevind oor onderskeidelik veiligheid, ekonomiese volhoubaarheid, en omgewingsake.

Veiligheid in die kollig

Hugo Pretorius, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, het ’n paneelgesprek gelei met Francois Prinsloo, voorsitter van die TLU SA Oosstreek, en Hendrik Botha van die Potgietersrus-distrikslandbou-unie (DLU). Misdaad, plaasmoorde, en veediefstal is van die onderwerpe wat bespreek is.

“Hierdie paneelbespreking het duidelik gewys dat boere landwyd dieselfde krisis ervaar – dit is bloot net die aard en omvang wat wissel,” het Pretorius gesê. “Plaaswagstrukture moet binne wetgewing en veiligheidstrukture beskerm word. Die nasionale landelike veiligheidsplan moet deurgaans behoorlik implementeer word.” Landbouers se volgehoue betrokkenheid by plaaslike veiligheidstrukture, forums, en kommunikasiekanale is as noodsaaklik bestempel.

Ekonomiese volhoubaarheid

Wannie Scribante, adjunkpresident van die TLU SA, het ’n paneelgesprek oor ekonomiese volhoubaarheid gelei, met Pieter Welgemoed, voorsitter van die Thabazimbi-DLU, en Bennie van Zyl as paneelsprekers. Hulle het markte, die waardeketting, kollektiewe bedinging, en die beoogde nuwe internasionale koöperatiewe model bespreek.

Wannie Scribante, adjunk-president van TLU SA, lei ’n paneelgesprek met Pieter Welgemoed en hoofbestuurder Bennie van Zyl as paneellede.

“Die winsgewendheid van die boer moet op die einde van die dag die fokuspunt wees”, het van Zyl gesê. “Markkragte gaan bepaal of jy daar gaan wees (met verwysing na die boer se finansiële toekoms) of nie daar gaan wees nie.” Van Zyl het vroeër in ’n meningstuk aangedui dat die nuwe model vir boere groter beheer oor insetkoste en marktoegang kan gee.

Omgewingsake bespreek

Roné Hennop, voorsitter van Koedoesrand-DLU, het ’n paneelsgesprek oor omgewingsake gelei. Die betrokke paneelsprekers was Nick Knoetze, ’n bekende in waterbestuurskringe met 54 jaar ondervinding in landbou, waterverbruik, en besproeiing, en Adriaan Louw, professionele landbou-ingenieur wat breë wetenskaplike en tegniese kennis van landbou en besproeiing het.

Knoetze het landbouers aangeraai om deursigtig te wees met hul waterverbruik om sodoende die idee te bekamp dat landbouers water mors. Knoetze het boere verder aangemoedig om vir boorgat-besproeiing te registreer en watermeters te gebruik om data van hul watergebruik tot hul beskikking te hê.

Louw het beklemtoon dat ouer toerusting se waarde nie onderskat moet word nie. Hoewel daar so baie inligting en nuwe toerusting vandag beskikbaar is, is die gebruik van beproefde toerusting, soos vogmeters en drukmeters, belangrik. Louw het aanbeveel dat boere gebruik wat hulle tot hul beskikking het en hul bevindinge deel. Verder het hy gewaarsku dat oorbesproeiing ’n groot uitgawe is wat boere moet vermy.

Daar is ook aan besoedelingskwessies tydens die paneelgesprek geraak. Die paneellede het saamgestem dat boere dit op hulself moet neem om kennis van hul watergehalte te dra. 

Uitblinkers vereer

Verskeie toekennings is aan die einde van die kongres oorhandig aan die unies, verenigings, en individue wat uitgeblink het in terme van hul betrokkenheid by TLU SA.

Tiaan Barkhuizen, TLU SA Jongboer van die Jaar 2025, en sy vrou, Wilma. (Foto: Verskaf deur Caria van der Merwe.)
  • De Wildt-boerevereniging het die Willie Marais-trofee ontvang vir die vereniging wat die beste kommunikasiepoging geloods het met die doel om TLU SA se standpunt uit te dra.
  • Cullinan boere-unie het die Kiepersoltrofee ontvang vir die bewusmaking van die rol van landbou en georganiseerde landbou.
  • Die TLU SA/LWO Arbeid-wisseltrofee was aan Dewald Eksteen van Bufland Boerdery 2025 toegeken vir sy bevordering van gesonde arbeidspraktyke.
  • Die Presidentsbeker vir Jongboerbetrokkenheid is aan JC Kense oorhandig. 
  • Die Suikerbos-boere-unie het RF Camphor-trofee ontvang.
  • Die Commondale-trofee is aan Roedtan-Suid-boerevereniging toegeken.
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, oorhandig die presidentsbeker vir Jongboerbetrokkenheid aan JC Kense.

Later tydens die kongres se galadinee is nog toekennings oorhandig:

  • Tiaan Barkhuizen (33), ’n kleinveeboer van Garies in die Noord-Kaap, is as die TLU SA Jongboer van die Jaar aangewys.
  • Francois Prinsloo het met die toekenning vir Landboupersoonlikheid van die Jaar weggestap. – Milla Matthee, Plaas Media
Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, het ’n bedrag van R120 969 aan TLU SA-president, Henry Geldenhuys, oorhandig vir die TLU SA Traumafonds.

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic)...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...