Estimated reading time: 2 minutes
Suid-Afrika het vroeër vanjaar lieflike reën gekry en volgens weervoorspellers kan dit tot in Februarie 2026 voortgaan. Saam met die goeie nuus is daar egter ook die vrees van sprinkaanuitbrekings wat kan volg.
Agri SA en die Nasionale Departement van Landbou (NDL) is egter vanjaar beter gerat vir sprinkaanuitbrekings en het onlangs ’n nasionale aanmeldplatform geskep waar boere sprinkaanswerms kan aanmeld. Op dié manier word sprinkaanbestrydingspanne landwyd ondersteun met die monitering van uitbrekings regoor Suid-Afrika.
Janine Byleveld, projekwoordvoeder van Agri SA, verduidelik dat hulle ’n WhatsApp-platform ontwikkel het waar die landbougemeenskap en lede van die publiek sprinkaanswerms kan aanmeld deur die WhatsApp-nommer, 079 467 0702, te gebruik. Gebruikers sal stapsgewys gelei word om die ligging en besonderhede van die sprinkaanswerms aan te teken.
“Hierdie platform stel boere, sprinkaanbeamptes en reaksiespanne se bestuur in staat om waarnemings aan te teken en swermbewegings makliker te bepaal sodat uitbreking vinnig geïdentifiseer en doeltreffend beheer kan word,” sê Byleveld.
Met die aanmeldplatform kan gebruikers:
- Sprinkaanwaarnemings aanmeld, en GPS-koördinate en foto’s verskaf.
- Die verspreiding en beweging van swerms volg.
- Provinsiale en nasionale spanne in staat stel om hoë risikogebiede te prioritiseer.
- Die toewysing van toerusting, hulpbronne en personeel beter ondersteun.
“Deur spanne op grondvlak met toepaslike inligting te bemagtig, kan ons hulpbronne vinniger mobiliseer en oesverliese beperk,” verduidelik Byleveld.
Swerms reeds aangemeld
Sy sê daar is reeds tekens dat die sprinkane hierdie reënseisoen weer hul opwagting gaan maak. In verskeie areas van die Noord-Kaap, soos Upington, Marydale, Prieska en Pofadder, is klein swerms reeds aangemeld en in die suide van Namibië, Botswana en Zambië word daar reeds groter swerms gespuit.
Dit is gewoonlik ’n aanduiding dat hierdie swerms aansienlik kan uitbrei sodra die volgende reën kom. Sprinkane kom hoofsaaklik in die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap voor, en brei soms ook na Noordwes en Vrystaat uit.
Sprinkaanbeamptes in die Noord-Kaap het reeds by die NDL geregistreer en in die meeste gebiede is almal op ’n gereedheidsgrondslag om ’n herhaling van die sprinkaankrisis van 2021 en 2022 te verhoed. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting oor die aanmeldplatform, kontak Janine Byleveld by 073 291 0557.