Estimated reading time: 3 minutes
Die BKB Merino Classic 2025 het tydens NAMPO Kaap op Bredasdorp Park plaasgevind. Altesame 27 telers het 327 diere vir die skou ingeskryf en 229 vagte is vir die BKB Nasionale Merino-vagskou ingeskryf.
Willie van Heerden, bestuurder van Merino SA, sê die BKB Merino Classic het die kollig op topgehalte-genetika geplaas. Dit gaan egter nie net oor die skou van die diere en hul vagte nie, dit gaan ook oor die interaksie tussen mense en die uitruil van gedagtes.
Spesiale kampioenskappe
Die BKB Merino Classic se vertoner met die meeste punte was Dirk Hanekom van Korenhof Merino’s, Klipdale. Hanekom het ook die grootkampioen-ram vertoon. Die vertoner van kampioene was Roelo van Heerden van die plaas Onderstetuin, Murraysburg. Die grootkampioen-ooi is deur Stefan Naudé van Geelbek Elite Merino’s, Hanover, vertoon. Naudé is ook as die teler van die beste paar van een ram en een ooi aangewys
Kampioenvagte aangewys
Die kampioenvag uit die 229 vagte wat vir die BKB Nasionale Merino-vagskou ingeskryf was, het ’n punt van 94 uit 100 behaal en die reserwe kampioenvag het ’n punt van 93 uit 100 behaal. Daar was ses vagte wat gesamentlik derde gekom het – al ses die vagte het ’n punt van 92 uit 100 behaal.
Die kampioen-Merinovag is deur Thinus du Plessis van Nu Poll Merino’s, Middelburg, geproduseer. Hy het die vag aan die Karel Theron Laerskool op Middelburg geskenk om aan die vagkompetisie deel te neem.

Streekkampioene se beste
Vir die eerste keer ooit is ’n SA Merino-kampioenram by NAMPO Kaap aangewys. Die ramme wat aan die kompetisie deelgeneem het, het nie aan die BKB Merino Classic deelgeneem nie. Die kampioen is gekies uit die Vrystaat, Noord-Kaap en die Suid-Kaap se kampioenramme wat vroeër vanjaar in die onderskeie streke aangewys is.
Die eerste SA kampioenram is die Vrystaat se kampioenram wat deur Eddie en Eduard Prinsloo van die Heuningkrans Merinostoet, Smithfield, geteel is. Die ram is deur Diederick Vermeulen van die plaas Vrede, Phillpstown, gekoop.

Merino SA vereer rolspelers
Buiten die skaap- en vagkampioene wat tydens die skou aangewys is, het Merino SA ook prominente Merino-telers en ander rolspelers by die skou en by die Merino Classic Gala-aand vereer vir hul bydrae tot die Merino-bedryf.
Die drie telers wat spesiale toekennings ontvang het, is Dirk Hanekom van Korenhof Merino’s, Bredasdorp; Manie Fourie van Oude Muragie Merino’s, Riversdal; en Dirkie Uys van Kommarsekraal Merino’s, Bredasdorp.
Robert Scott, verantwoordelik vir opleiding by BKB, het ’n toekenning gekry vir die rol wat hy oor baie jare gespeel het met die reël van Merino-vagskoue. Hy het weer vanjaar die BKB Nasionale Merino-vagskou gereël. – Hugo Lochner, Plaas Media




















