Estimated reading time: 5 minutes
Dr Carel Muller, een van Suid-Afrika se bekendste suiwelkenners, is op 25 Mei op die ouderdom van 74 oorlede. Hy is onlangs met longkanker gediagnoseer.
Dr Muller was 47 jaar in die landbou betrokke, waarvan hy 36 jaar by Elsenburg Landboukollege werksaam was. Van 1991 tot en met sy aftrede in 2016, was hy as ’n dierekunde- en suiwelnavorser aan Elsenburg verbonde. Na sy aftrede het hy by die landbou betrokke gebly deur konsultasiewerk vir suiwelprodusente en as ’n buitengewone dosent vir nagraadse opleiding in diereproduksie. Hy was ook ’n gerekende skrywer van tegniese en populêre artikels.
Die suiwelbedryf het ’n groot wetenskaplike met baie kennis verloor, sê Hendrik de Waal, ’n navorser by die Landbounavorsingsraad en oudkollega van dr Muller, wat van 1990 saam met hom gewerk het.
“Ek het Carel as ’n nederige mens ervaar. Hy was altyd bereid om te help en raad te gee. Met al sy kennis het ek baie by hom geleer. Carel was ’n man wat lief was vir die natuur, lief vir sy troeteldiere, en om kos vir die voëls in sy tuin te gee. Ons het altyd in sy tuin gesit en koffie drink, dan wys hy my die diere se streke,” sê De Waal. “Hy was ook ’n goeie sportman en het baie marathons, asook die Two Oceans en Comrades gehardloop. Hy was topfiks. Hy het ook in die Karoo saam met vriende fietstoere onderneem. Hy was baie lief vir stap.”
Jakkie du Toit, ’n afgetrede programbestuurder van die Nasionale Melkaantekening- en Verbeteringskema, wat ’n hele aantal jare saam met dr Muller gewerk het, sê dr Muller het intens in die produksie- en reproduksiedata van suiwelbeeste belanggestel. Hy het heelwat van die data uit die skema in sy navorsing gebruik. “Ek het hom deurentyd as iemand gesien wat uiters passievol oor sy werk was. Hy het baie tyd spandeer om seker te maak dat sy resultate korrek en akkuraat was. Buiten ons verbintenis in die suiwelbedryf, was ons ook baie goeie vriende in die werklike sin van die woord. Ek eer hom as ’n ware legende in die suiwelbedryf.”
’n Kind van die Noord-Kaap
Dr Muller is in 1951 op Upington gebore en het in die Noord-Kaap grootgeword. Hy het in 1972 ’n landboudiploma aan die Pretoria Technikon behaal en in 1978 sy BSc Agric-graad aan die Universiteit van Pretoria. Sy honneursgraad in 1980, meestersgraad in 1991, en doktorsgraad in 2005 het hy aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
Dr Muller het ook van 2009 tot 2018 op die raad van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekunde (SASAS) gedien en was ’n subredakteur van die Suid-Afrikaanse Joernaal vir Dierewetenskap (SAJAS).
De Waal sê dr Muller was wêreldwyd as navorser bekend en was na verskeie oorsese kongresse genooi. Ook in Suid-Afrika was hy bekend vir sy baanbreker-navorsingswerk. Hy het 50 wetenskaplike artikels, 126 konferensiebydraes, en 390 nuusbriewe, asook semi-wetenskaplike en populêre artikels gepubliseer. Die Handboek vir Melkboerdery is deur hom saamgestel en in 2017 deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou gepubliseer. Hy was ’n beoordelaar by die jaarlikse Meestersuiwelboerkompetisie en ’n gereelde bydraer tot Veeplaas.
Volgens De Waal was dr Muller die eerste in die Wes-Kaap om navorsing oor die invloed van hittestres op melkbeeste te doen. Hy was baie intelligent en het óf navorsing oor ’n probleem gedoen as hy nie 100% seker was wat die oplossing is nie, óf hy het uit sy jarelange ondervinding ’n artikel geskryf. Hy was baie daarop ingestel dat ’n artikel wetenskaplik reg geskryf moes word.
“Dit het hom baie frustreer as boere met ’n probleem na hom gekom het, maar dan nie die inligting gebruik het nadat hy die moeite gedoen het om probleme op te los nie.”
’n Motivering vir baie mense
Dr Muller het ook die Elsenburg-Holsteinkudde bestuur. As gevolg van die staat se beperkte fondse het hy ’n trust gestig wat dit vir boere moontlik gemaak het om koeie vir die kudde te skenk. Hy het al sy teoretiese suiwelkennis ingespan om die kudde te bestuur en ’n paringsprogram gebruik wat daartoe gelei het dat die kudde een van dié in die land was wat die beste genetiese vordering gemaak het. Die Elsenburgkudde se teelwaardes was ver bo die gemiddeld van die land. Dr Muller het ’n groot databasis opgebou wat vir verdere navorsing gebruik kan word, sê De Waal.
“Carel was ’n vriend wat jy enige tyd kon bel en hy sou jou help. Ek het baie by hom geleer. Ek is besig met my PhD en hy was my promotor. Hy het my baie gehelp, maar nou moet ek op eie stoom aangaan. Ek gaan hom vir seker mis en ek weet die bedryf sal ook. Hy was vir baie mense ’n motivering,” sê De Waal.
Lynette Louw, hoofbestuurder van Plaas Media wat Veeplaas uitgee, beaam die feit dat dr Muller ’n voorbeeld en motivering vir vele mense was. “Ekself het baie by hom geleer oor deursettingsvermoë, veral hierdie laaste tyd toe ons nog artikelonderwerpe bespreek het en hy sy kop wou besig hou, ten spyte van sy stryd en die moegheid wat daarmee saamgegaan het. Carel was ’n inspirasie en ek gaan sy ongelooflike insig en kennis, maar ook menswees mis. Hy het net nooit opgehou leer nie en nooit opgehou om sy skatkis van kennis met ander te deel nie. Sy afsterwe laat ’n enorme leemte en ek glo baie mense gaan hom mis, maar onthou vir die groot gees wat hy was.”
Dr Muller word deur sy vrou, Ronel, en hul drie dogters, Martina (39), Keren (37), en Andrea (36) oorleef. Sy eerste kleinkind, Zelda, is op 22 April vanjaar gebore. ’n Gedenkdiens vir dr Muller word Dinsdag, 3 Junie by die NG Gemeente Helderberg op Somerset-Wes gehou. – Hugo Lochner, Plaas Media


