Estimated reading time: 5 minutes
Die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) het verlede week sy jaarkongres in Kempton Park gehou. Die tema vanjaar was “Leiers in kuddegesondheid en -produksie”.
Volgens dr Schabort Froneman, die voorsitter van die wetenskaplike komitee wat ook die kongres gereël het, is die primêre mikpunt van die kongres om ’n aktuele en wetenskaplike program aan te bied. Lede wat die kongres bywoon kry CPD-punte (voortgesette professionele ontwikkeling).
Afgesien van die wetenskaplike voorleggings, fokus die program ook op ander aspekte wat vir produksiedier-veeartse, wat gewoonlik op die platteland gebaseer is, van belang is. Voorbeelde hiervan is finansiële bestuur en beste praktyk, asook terugvoer uit die veld.
Dr Schabort het daarop gewys dat dit verblydend is dat daar jaarliks genoeg nuwe navorsingsresultate deurkom sodat hulle sonder te veel moeite die program met baie sterk en aktuele onderwerpe kon volmaak.
Produksiedier-veaartse se rol in biosekuriteit en siektebestuur
“Wat telkens in die kongres deurgekom het, is die noodsaaklike rol wat die landelike produksiedier-veearts in die bedryf speel. Vanweë sy opleiding en posisie is sy rol in biosekuriteit en siektebestuur in die rooivleiswaardeketting onontbeerlik. Verder het die veearts ook ’n beduidende rol op die punt waar vee-, mens-, en omgewingsgesondheid (die sogenaamde “One Health”-konsep) bymekaar kom of oorvleuel.” ’n Goeie voorbeeld hiervan, het hy gesê, is prof Jan Myburgh se lesing oor die verband tussen rumengesondheid en grondgesondheid.
Insiggewende onderwerpe
Die program was vanjaar weer stampvol en onderwerpe het ’n baie wye verskeidenheid fokuspunte verteenwoordig. Die program is met ’n praatjie oor leierskap ingelei deur die bekende entomoloog, prof Erik Holm, waarna dr Maryke Henton lesse wat sy oor die jare rondom veeartsenykundige bakteriologie geleer het, met haar kollegas gedeel het.
Ander sprekers op die eerste dag was dr Leon Prozesky wat oor ’n sistematiese benadering tot toksikologiese uitbrekings gepraat het, dr Raquel Teixeira wat ’n praktiese benadering tot beeslugwegsiektekompleks (BRD)-diagnose in die veld bespreek het, prof Jan Myburgh wat oor die verband tussen veegesondheid en grondgesondheid gesels het, dr Paul Reynolds wat die praktiese riglyne vir keisersnitte by koeie bespreek het, dr Hendrik Hansen wat die rol van privaat veeartse in in vitro-embrioprogramme onder die loep geneem het, dr Willem Schultheiss wat die voorkoming en bestuur van Rooiwater-uitbrekings bespreek het, dr Christine Tshibuayi Mwenge Kahinda wat oor Clostrivax B se doeltreffendheid in die voorkoming van klostridiale siektes gepraat het, prof Dietmar Holm wat oor teelgeskiktheid van bulle gesels het, dr David Pretorius wat oor die Buffalo Company-sertifiseringstelsel gepraat het, en dr Mackie Hobson wat gesondheidsbestuur van Angorabokke bespreek het.
’n Propvol tweede dag
Op die tweede dag was die fokus net so divers. Dr Maryke Henton het met ’n lesing oor BSD (bees respiratoriese siekte) in Suid-Afrika afgeskop, waarna dr Luther van der Mescht die groeiende weerstand van bosluise teen beheermiddels onder die loep geneem het. Hierna het die fokus na bek-en-klouseer (BEK) verskuif. Dr Rick Mapham het eers die praktiese implikasies in die vleisbeesbedryf bespreek, waarna dr Anthony Davis die ervaring in die suiwelbedryf aangeroer het. Uitvoersertifisering was daarna die onderwerp van bespreking deur dr Vincent Henwood.
Ander onderwerpe het ingesluit die voorkoms van mankheid in beeste deur dr Mark Chimes, bestuur van metaboliese siektes in oorgangskoeie deur dr Riaan Putter, die molekulêre beskrywing van Streptococcus uberis-stamme in kommersiële suiwelkuddes in Suid-Afrika deur dr Inge-Marie Petzer, tendense van mastitis-patogene en weerstand teen antibiotika in melkkuddes deur dr Joanne Krazis, welsynstendense vir melkbeeste deur dr Mark Chimes, ’n beoordelingstelsel vir vleisbees-verse se reproduksiestelsels deur prof Dietmar Holm, voëlgriep by melkbeeste in die VSA deur dr Barb Peterson, volhoubare bosluisbeheer deur dr Luther van der Mescht, die gebruik van mortaliteite as intreepunt in ’n voerkraal vir ’n algehele, geïntegreerde veeartesnykundige ondersteuningstelsel vir dieregesondheid deur dr Dirk Verwoerd, en beste praktyk in die neem van monsters vir laboratorium-diagnostiek deur prof Leon Prozesky.
Fokus op skape
Die program gedurende die finale dag het sterk op skape gefokus, en het afgeskop met ’n lesing deur Anri Strauss oor die rol van sink in die bekamping van virale infeksie en inflammasie. Sy is gevolg deur ’n uiteensetting van die uitdagings rondom imuunbeskerming teen bloutong in kleinvee deur dr Otto Koekemoer, en die bestuur van gesondheid en produksie in skaapvoerkrale deur dr Alnora le Riche. Steeds by skape het dr JG Nel faktore bespreek wat die sukses van geslagsbepaalde-semen by skape beïnvloed.
Dr Japhta Makoele het die behoorlike gebruik van oor-die-toonbank-medikasie deur opkomende en bestaansboere bespreek, waarna dr Chris Marufu die voorkoms van Fasciola (lewerslak)-spesies in skape in die Oos-Kaap onder die loep geneem het.
Ander onderwerpe het ingesluit die gebruik van draagbare tegnologie om trigomoniase in die Austaliese Outback te beveg deur dr Campbell Costello, besigheidsbeplanning vir die veeartspraktyk deur dr Andrew Christie, ’n moontlike instrument in die beheer van kriptosporidiose en diarree deur Stephan Durand, klamidiose in produksiediere deur dr Beate von Teichman, professionele aanspreeklikheid deur Dinamarie Stoltz, die status en toekoms van veterinêre opleiding deur prof Dietmar Holm, vergroting van veeartesnykundige dienste aan die lewendehawe-sektor deur dr Danie Odendaal, en ’n bespreking van alternatiewe middels en mengsels deur dr Louis Greeff.
Volgens die voorsitter van RuVASA, dr Paul Reynolds, is die vereniging baie tevrede met die bywoning van die kongres – sowat 160 mense oor die drie dae – en is hulle baie opgewonde oor die rol wat veeartse in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf speel.
“Suid-Afrikaanse probleme en siektes, en dan die oplossings daarvoor, is bespreek en ons hoop om ’n belangriker rol in die bedryf te speel en leiding te neem onder die huidige uitdagende omstandighede,” het hy gesê. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

