Strategiese voorkoming van DDS en knopvelsiekte

Estimated reading time: 5 minutes

Beeste in Suid-Afrika word veral in die somer en vroeë herfs ernstig bedreig deur drie-dae-stywesiekte (DDS) en knopvelsiekte. Hierdie virusverwante siektes, wat deur die byt van insekte oorgedra word, is van groot ekonomiese belang. Hoewel die vrektesyfer gewoonlik laag is, veroorsaak dit beduidende produksieverliese wat ’n direkte impak op produsente se winsgewendheid het.

Drie-dae-stywesiekte

Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, verduidelik dat groot uitbrekings van DDS kan voorkom wanneer bo-normale reënval in tradisioneel droër gebiede voorkom, aangesien kuddeimmuniteit laer is weens beperkte blootstelling tydens normale droër jare. Siekterapportering deur veeartse landswyd toon dat DDS selfs drie tot vier maande vroeër in die winterreënvalgebiede kan voorkom, weens nat en warm toestande in die lente en vroeë somer.

Die voorkoms van die siekte tydens die somerdekseisoen in somerreënvalgebiede lei tot ernstige reproduksieverliese en ’n skerp daling in melkproduksie, veral by melkkoeie. Knopvelsiekte by beeste is ook jaarliks ’n probleem. Alhoewel daar sekere jare is waarin dit nie voorkom nie, kan dit later weer opduik. Vir elke jaar wat daar nie teen knopvelsiekte ingeënt word nie, verhoog die risiko van uitbrekings in die daaropvolgende jaar. Vroeë reëns skep ideale toestande vir die herstel en voortplanting van insekte.

Behandeling en voorkoming

Aangesien beide DDS en knopvelsiekte deur virusse veroorsaak word, bestaan daar geen primêre behandeling daarteen nie. Simptomatiese behandeling is egter moontlik en sluit anti-inflammatoriese middels en kalsium in om pyn en inflammasie by DDS-besmette diere te verlig. Dr Odendaal beveel ook antibiotika aan om sekondêre bakteriële infeksies – veral in die longe – te voorkom. Hierdie behandeling moet altyd in oorleg met ’n veearts geskied.

In die geval van knopvelsiekte kan ondersteunende behandeling met antibiotika help om sekondêre bakteriële infeksies van wonde of letsels op die vel te voorkom.

Die knoppe wat op die vel van besmette diere verskyn, kan ook intern voorkom – onder andere in die lugweë, spysverteringskanaal en baarmoeder. Letsels kom dikwels in die slymvlies van die lugpyp en in die testikels voor, wat tot onvrugbaarheid kan lei. Buiten antibiotika kan addisionele behandeling met pynstillers en anti-inflammatoriese middels ook help om die dier se toestand te verbeter.

Volgens dr Odendaal is die mees doeltreffende manier om die verspreiding van DDS en knopvelsiekte te beheer, die tydige toediening van inentings. Deur diere betyds in te ent, word hul weerstand verhoog en blootstelling verminder. Hierdie siektes val in die tweede groep van dieresiektes – naas inenting teen dodelike bakteriese siektes – wat die basis van ’n inentingsplan vorm. Inentings teen insekoordraagbare virussiektes moet jaarliks geskied.

Jong diere wat nog nooit blootgestel is nie, veral verse, is meer vatbaar vir DDS en knopvelsiekte. Wanneer ’n inentingsprogram gevolg word, is ouer diere reeds ingeënt en val hulle nie in die hoogste risikogroep nie. Bulle wat met DDS besmet word, kan nie doeltreffend dek nie en is vir minstens ses weke nadat hulle siek was tydelik onvrugbaar. Alle vervangingsdiere moet na speen teen hierdie siektes ingeënt word. In kalwers wat gebore word uit koeie wat wel ingeënt is, sal die biesmelk (passiewe immuniteit) die kalf vir tot ses maande na geboorte beskerm.

Knopvelsiekte kan doeltreffend voorkom word deur die korrekte toediening van entstowwe.(Foto: David Wallace)

Inentings en immuniteit

Dit neem minstens twee weke na die eerste inenting voordat diere beskermende immuniteit opbou. Vir diere wat voorheen ingeënt is, neem dit twee dae om immuniteit na ’n skraaginenting op te bou, aangesien geheueselle teen die organisme reeds teenwoordig is en net weer geaktiveer moet word. Skraaginentings se beskerming is dus baie vinniger.

Wanneer ’n inentingsprogram teen DDS en knopvelsiekte vir verse en jong bulle beplan word, moet die entstowwe apart toegedien word sodat maksimum immuniteit kan ontwikkel. Wanneer diere vir die eerste keer ingeënt word, veral teen insekoordraagbare virussiektes, moet dit foutloos en korrek toegedien word om ’n goeie basisimmuniteit te verseker.

Skraaginentings kan gesamentlik toegedien word, omdat die liggaam se geheueselle daardeur geaktiveer word.

Indien uitbrekings in ’n gebied sou voorkom, kan diere wat voorheen ingeënt is ’n skraaginenting ontvang om hul immuniteit vinnig te heraktiveer. Aktiewe beskerming neem met tyd af, maar die geheueselle word behou. Inentings teen DDS moet voor of tydens die begin van die reënseisoen toegedien word, met die skraagdosis wanneer die eerste gevalle in die distrik opgemerk word.

Inenting teen knopvelsiekte is seisoenaal van aard en moet in September of op die laatste in Oktober, deel van die inentingsprogram vorm. Diere moet immuniteit ontwikkel voordat hulle blootgestel word.

Verse, jong bulle en dekbulle kan ingeënt word voor die aanvang van die nat seisoen. Inentings behoort ook aan melk- en voerkraalbeeste sowel as waardevolle teeldiere toegedien te word. Die gebruik van geïnaktiveerde entstowwe moet in samewerking met ’n veearts beplan word, sodat beide die eerste inenting en skraaginenting op presies die regte tyd toegedien word.

Dr Odendaal waarsku dat dit nutteloos is om diere net voor siekteblootstelling in te ent, aangesien dit ten minste twee weke neem om immuniteit op te bou, terwyl die inkubasietyd van die siektes korter is. Die gebruik van dipstowwe om oordrag deur insekte op die lang termyn te voorkom, is nie prakties of volhoubaar nie. Dipstowwe kan egter steeds as ’n noodmaatreël gebruik word aan die begin van ’n uitbreking om diere wat nie betyds ingeënt is nie, te beskerm.

Beskikbare entstowwe

Daar is vier verskillende entstowwe teen knopvelsiekte op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar. Die jongste toevoeging is Design Biologix se entstof vir beeste, Bovipox (registrasienommer G3861, Wet 36/1947). Ander beskikbare entstowwe sluit in MSD Animal Health se Lumpyvax (G3673, Wet 36/1947), Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) se Lumpy Skin Disease (G0110, Wet 36/1947) en Deltamune se Herbivac LS (G3955, Wet 36/1947).

Hoewel onsekerheid bestaan oor entstofbeskikbaarheid en -vervaardiging by OBP, sê dr Odendaal die privaatsektor sal altyd entstof beskikbaar hê. Daar is privaatmaatskappye wat doeltreffende entstowwe teen die siektes vervaardig, soos Design Biologix se Bef-Tect, wat strategiese voorkoming bied mits dit korrek op aanbeveling van ‘n kuddeveearts toegedien word. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan dr Danie Odendaal by vnet@absamail.co.za.

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...