Stormhoek se dubbeldoelskaapboerdery

Share This Post

Estimated reading time: 6 minutes

Mark en Marizanne Schmidt boer op die plaas Stormhoek in die Memel-omgewing van die Noordoos-Vrystaat met beeste, skape en gesaaides. Mark boer sedert 2008 saam met sy pa, Freddie, en bedryf vandag die Kromspruit Dohne Merino-stoet en Kromspruit Bovelders.

Mark en Marizanne Schmidt hou die wiele van die Kromspruit Dohne Merino-stoet aan die rol.

Die laaste paar jaar het Freddie stelselmatig die leisels begin oorgee en Mark behartig nou die boerdery op sy eie. “My oupa, Johan Schmidt, het Stormhoek in die vyftigerjare gekoop toe hy uit die Senekal-omgewing hierheen getrek het. Hy was nog altyd ’n Merino-teler, maar het lank terug besluit hy wou meer vleis op sy skape hê. Hy het Vleismerino-ramme in sy teelprogram gebruik en het daarmee, eintlik onwetend, die resep gevolg wat uiteindelik tot die Dohne Merino gelei het. My pa en ma, Selma, het die boerdery by hom oorgeneem, en vandag hou ek en Marizanne die stoetwiele aan die rol.”

As dubbeldoelskaap is die Dohne se wol-tot-vleis inkomsteverhouding sowat 30:70. Speenlammers se vleisinkomste oortref die ooie se wolinkomste, maar volgens Mark behoort die wolinkomste die koste te dek, sodat die vleisinkomste hoofsaaklik wins kan lewer. Daar is wel ’n paar faktore wat ’n balans tussen bestuur en genetika handhaaf, en waaraan ’n mens aandag kan gee om die wolinkomste te optimaliseer.

Wol versus vleis

Die doel van hulle teelprogram is om ’n skaap te teel wat maklik is om mee te boer, en in ’n ekstensiewe stelsel kan produseer en reproduseer om maksimum wins te verseker. ’n Belangrike stap is om die wolkomponent van die skaapinkomste ten volle te benut. Die een helfte hiervan berus op ’n genetiese vlak, naamlik by vagmassa en wolgehalte, terwyl die ander helfte meer op ’n bestuursvlak fokus om die skoonopbrengs te maksimeer. Skoonopbrengs word bepaal deur die hoeveelheid vreemde materiaal en stof in die vag, asook deur die persentasie olie in die wol en die digtheid van die vag. Dit verwys weer terug na genetika.

Die gemiddelde vagmassa van hul ooie is 4,7kg. Volgens Mark dui dit op ’n digte vag wat op sigself die skoonopbrengs bevoordeel, omdat dit die indringing van stof en ander vreemde materiaal beperk. “Ons skoonopbrengs tydens ons laaste skeersel was 73,9%. Die feit dat ons ’n nat seisoen gehad het en daar dus minder stof was, het waarskynlik saam met ander faktore ’n rol gespeel.”

Plantmateriaal in die wol het ook ’n beduidende invloed. Waar stokkies en grashalms maklik uitgekam kan word, kan onkruidsade soos boetebos en kankerroos die vesels tydens die verwyderingsproses beskadig. Hierdie soort wol sal ongetwyfeld laer pryse behaal as wol wat nie besoedel of beskadig is nie. “Doeltreffende onkruidbeheer op jou lande is dus noodsaaklik, aangesien dit die gehalte van jou skeersel bepaal.”

As mens na die vleisgedeelte kyk, het ’n gemiddelde gewigsverskil van 3kg/lam by speen ’n baie groot invloed op jou inkomste, veral as jy ’n speenlamprodusent is. Optimale groei is dus ’n belangrike eienskap om tydens seleksie in ag te neem. “Dit bied natuurlik nie ’n uitnodiging om net voortdurend vir groei te selekteer nie, want elke omgewing bepaal sy eie grense vir ’n optimale skaap in terme van liggaamsbou en -massa. Soos met wol wil ‘n mens wegbly van uiterstes.”

Die Schmidts poog om elke agt maande te skeer, maar in praktyk wissel dit tussen agt en tien maande. Dit is dan wanneer hulle die optimale wollengte verkry: tussen AM (80 tot 100mm) en BBM (70 tot 80mm). “Ons wol word nie in bins gestoor nie. Elke vag word direk vanaf die sorteertafel in die wolsak gesit en wanneer dit vol is, word dit saamgepers en gemerk. Teen die tyd dat ons klaar geskeer het, is die wol dus reeds in bale verpak. Dit sny arbeid uit en verminder die risiko van verdere kontaminasie.”

Die vag word afgerand, die Loks3 (wol wat ligweg met urine en mis bevlek is) word verwyder en indien die nek vuil is, word die nek en rug uitgehaal. Die vag word dan direk in die sak op die pers gegooi.

Mark spog met ’n vyfling in sy stoet, waarvan al vyf lammers – twee rammetjies en drie ooitjies – meer as 30kg by speen geweeg het.

Streng seleksie

Seleksie vir vervangingsooie en teelramme begin by speen, op sowat 100 dae, wanneer die lammers die eerste keer geweeg word. Op ouderdom 12 maande word hulle weer geweeg en geskeer. Wolmonsters word na die Woltoetsburo gestuur vir ontleding, waarna seleksie gebaseer word op wolgehalte en bouvorm. Mark verkies ’n groot, sterk ooi met ’n reguit rug, effens prominente kuif en digte vag van goeie gehalte.

Van die ongeveer 300 ooie wat jaarliks op grond van minimumstandaarde vir vervanging teruggehou word, word slegs sewe ramme uit ’n groep van ongeveer 600 geselekteer vir gebruik in die stoet. Die Schmidts gebruik laparoskopie met hierdie ramme se semen en gebruik ’n ram ook net vir een seisoen, waarna hulle op hul veiling bemark word. “As dit egter ’n uitsonderlike ram is, sal ons van sy saad hou om hom nog een keer te gebruik. As ’n ram regtig goed is, behoort sy nageslag nóg beter te wees. Genetiese vooruitgang word egter beperk as ’n ram te lank gebruik word.”

Ramseleksie verg ’n fyn balans tussen syfers en bouvorm, waaronder genotipe en fenotipe. Mark sê hulle belangrikste seleksiekriteria sluit wolgehalte en reproduksie in. “Ons hou van wol en dit is belangrik dat ons die wolinkomste so optimaal as moontlik benut. Aan die ander kant is die eerste beginsel van veeboerdery sekerlik dat elke ooi jaarliks sonder uitsonderlike insette moet reproduseer. Om daarin te slaag, moet sy by ons ekstensiewe omstandighede aangepas wees.”

Strategiese lamseisoen

Die stoetooie lam in Maart en die kommersiële ooie in Augustus. Met die hoeveelheid kontrakteurs wat kuilvoer in die omgewing maak, kan hy eintlik enige tyd van die jaar lam. Augustus is volgens hom egter beter, omdat die lammers teen die tyd dat die groot somerreëns aanbreek, al mooi groot en sterk is. Hulle word vroeg in Januarie gespeen, wanneer min ander produsente lammers vir bemarking gereed het.

Maart is die ideale tyd vir lam, omdat die groot reëns teen daardie tyd gewoonlik al verby is en die soja- en mielie-oesreste kort daarna, wanneer die veld begin afneem, steeds goeie weiding bied. Die stoetooie met tweelinge lam in lamhokke in die lamskuur, waar hulle ongeveer drie dae bly voordat hulle in groter groepe na kikoejoe-kampe verskuif word. Die enkeling-stoetooie lam buite in kikoejoe-kampe, vanwaar hulle na die veld verskuif word sodra die lammers sterk genoeg is. Die kommersiële ooie lam almal buite in klein kikoejoe-kampies.

Die groot voordeel van ’n dubbeldoelskaap met uitstekende wolgehalte, sluit Mark af, is die beduidende inkomste wat uit die wol gegenereer word en die koste van die vleiskomponent tot ’n groot mate subsidieer. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Mark Schmidt by 084 746 6616.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 10 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...