Estimated reading time: 3 minutes
SA Stamboek en die LRF het die strydbyl begrawe vir ‘n groter saak: Die oorlewing van die Suid-Afrikaanse stoetbedryf.
Die Suid-Afrikaanse Stamboek en Diereverbeteringsvereniging (Stamboek) en die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) het kragte saamgesnoer om die Stud Breeders Federation (SBF) in die lewe te roep.
Die doel van dié federasie is om op die hoogste vlakke van gespreksvoering ’n stem vir die bedryf te wees oor knelpunte wat die hele stoetbedryf raak. Tipiese voorbeelde sluit strategiese prioriteite rondom bek-en-klouseer (BEK)-beleid, naspeurbaarheid, vleisgraderings en plaaslike markte in.
Kobus Bester, voorsitter van die SBF en direkteur van die LRF, sê dit is noodsaaklik dat die twee organisasies oor sekere sake moet saamwerk. “Die primêre mandaat is om die belange van lede en stoettelers, asook produsente wat van geregistreerde diere en/of genetika gebruik maak, te bevorder en te beskerm.”
Die SBF is ’n nie-winsgewende entiteit wat by aangeleenthede regdeur die totale vleis-, melk-, wol- en ander waardekettings betrokke sal raak. Die klem val op volhoubare teling wat winsgewende, veilige, gesonde produksie en bemarking van genetika en ander diereprodukte bevorder.
Leierskap
Die SBF word tans deur direksielede bestuur. Hulle is Bester, Basie Bezuidenhout, president van SA Stamboek, Dr Bobbie van der Westhuizen, hoof uitvoerende beampte van SA Stamboek en Thys Meyer, ondervoorsitter van die LRF.
Bester sê die SBF is verbind tot samewerking met alle rolspelers binne alle waardekettings waarby stoetdiere en produkte daarvan betrokke is. “Die SBF ondersteun etiese, verantwoordelike praktyke en ondersteun ook die rooivleisbedryf se visie vir 2030 soos ontwikkel deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) en Rooivleisbedryfsdienste (RMIS).”
Prioriteite
Die SBF ondersteun voorwaardelik die idee dat diere voorkomend teen BEK ingeënt kan word om te sorg dat hulle sal lewe. Die voorwaarde vir hierdie steun is dat elke dier éérs volledig naspeurbaar en uniek identifiseerbaar moet wees op ’n RMIS-geïntegreerde naspeurbaarheidsplatform.
“Sterk naspeurbaarheid is noodsaaklik om BEK en ander siekte-uitdagings soos brusellose en Slenkdalkoors effektief te kan bestuur. Ons doen dus ’n beroep op alle lede van SA Stamboek en LRF om hul produksie-eenhede op die RMIS-platform te registreer om sodoende ’n GLN-nommer te verkry,” sê Bester.
Hoewel daar verskeie RMIS-geïntegreerde sagtewareprogramme bestaan, moedig SBF alle stoetboere aan om www.idtrax.co.za te oorweeg. “Die program bied ’n oplossing wat deur die stoetbedryf ontwikkel is, maar vir beide kommersiële en stoetkuddes beskikbaar is,” sê Bester. Hy moedig produsente verder aan om ICAR-goedgekeurde oorplaatjies, met ’n unieke nommer vir elke dier, te gebruik.
Boere moet ook aan kritieke protokolle voldoen, soos om oorplaatjies minstens 90 dae voor ’n dier verskuif word, te registreer. Die SBF is verbind tot verantwoordelike hantering van alle data en inligting.
Wat vleisgradering betref ondersteun die SBF die ontwikkeling en implementering van ’n alternatiewe vleisgraderingstelsel waar gehalte beloon word. “Die doel van die SBF is om te poog om verbruikers van die nodige inligting te voorsien sodat hulle met vertroue veilige, gehalte-produkte van uit die stoetbedryf kan koop,” voeg Bester by.
Nog ’n voorkeursaak sal internasionale handel wees. Die SBF sal die handel van genetika en ander produkte oor internasionale grense aktief bevorder, gegewe dat ’n volledige naspeurbaarheidrekord beskikbaar is. “Ons sal werk om bedryfstandaarde vir goeie, volhoubare praktyke in diereverbetering en produksie te vestig, in ooreenstemming met ICAR-riglyne.”
Enige tersaaklike kommunikasie sal deur die gevestigde kanale van SA Stamboek en LRF gekommunikeer word, deur die onderskeie telersgenootskappe en in sommige gevalle ook direk aan telers. – Susan Marais, Plaas Media