’n Rustige en gesonde groep diere in die voerkraal. Diere wat geneties in staat is om beter in voerkrale te presteer, gaan ál hoe meer gesog raak.

Goeie groei en voerdoeltreffendheid is die vernaamste eienskappe van speenkalwers wat die winsgewendheid van voerkrale beïnvloed. Die ouderdom en gewig van die kalwers sal waarskynlik in ’n groter mate bepaal word deur die hulpbronne wat vir die voerkraal beskikbaar is en die bestuurstelsel wat gevolg word.

speenkalwers
Goeie groei en voerdoeltreffendheid is die vernaamste vee-eienskappe wat die winsgewendheid van ’n voerkraal beïnvloed.

Voerkrale wat die bronne en vermoë het om die speenkalwers vir die voerkraal op natuurlike weiding met byvoeding voor te berei (backgrounding), kan ligter kalwers aanskaf. Diere wat regstreeks in die voerkraal ingaan, behoort swaarder (minstens 220kg) te wees om uit die staanspoor genoeg te kan vreet om voldoende te groei.

Lees meer oor die vroegspeen van kalwers.

Speenkalwers is ’n voerkraal se grootste koste, naamlik 60%, terwyl die koste van voer en infrastruktuur elk sowat 20% uitmaak. Daarom is dit belangrik dat kalwers oordeelkundig gekoop word.

Swaarder speenkalwers is beter

Internasionale navorsing dui daarop dat kalwers wat (binne perke) swaarder weeg wanneer hulle in die voerkraal ingaan, meer winsgewend vir die voerkraal as ligter kalwers is.

Tom Brink, voormalige senior ondervoorsitter en risikobestuurder van Five Rivers Cattle Feeding in Amerika – die grootste voerkraal in die wêreld – is in die tydskrif Beef aangehaal dat Five Rivers die voordeel het van die gegewens van meer as 1,5 miljoen beeste wat hulle jaarliks bemark.

Kry die jongste vleispryse.

Daaruit kon hy aflei dat swaarder kalwers meer vreet en 1,5kg/dag groei, terwyl die ligter kalwers teen 1,33kg/dag groei. Met koste in ag geneem, is die gelykbreekpunt vir die swaarder kalwers sowat R50/kg laer as dié van die ligter kalwers. Die groter kalwers groei vinniger en doeltreffender as die ligter kalwers, sê hy.

Lukas Eksteen.

Lukas Eksteen van die Bufland-voerkraal se ondervinding strook hiermee. Hy sê omdat ’n kalf sowat 3% van sy lewendige gewig kan vreet, kan ligter kalwers eenvoudig net nie genoeg voer inneem om voldoende te groei nie.

Voorbereiding van speenkalwers

Dit is waarom die voorbereiding van kalwers vir die voerkraal belangrik is. Dit is ook ’n stelsel wat speenkalfprodusente ernstig kan oorweeg indien hulle die hulpbronne het om speenkalwers op hul plaas vir die voerkraal gereed te kry. Sulke kalwers kan beter pryse realiseer omdat hulle swaarder is, en as hulle daarby ook hul nodige inentings gekry het, is dié diere gesog onder aankopers van voerkrale.

Burger Marais.

Burger Marais van die Kameeldrift-voerkraal sê omdat hulle genoeg aangeplante weidings het, koop hulle die ligste kalwers moontlik, berei hulle op die weidings vir die voerkraal voor en neem die diere in die voerkraal in wanneer hulle die minimum vereiste gewig van sowat 230kg bereik het.

Groei en voerdoeltreffendheid

Hulle verkies diere met minstens twee derdes Bos Taurus- en een derde Bos Indicus-bloed in hul are. Hy voeg egter by dat die ernstige stoet- en kommersiële telers deur streng seleksie vir ekonomies belangrike genetiese eienskappe daarin slaag om diere van ander samestellings te teel, wat net so doeltreffend in die voerkraal vaar.

Die naspeurbaarheidstelsel van dié onderneming stel hom in staat om sulke telers te identifiseer en van hulle diere te koop. Die bekende Bovelder-studiegroep uit die Oos-Vrystaat gebruik ook die inligting om raad aan produsente te gee oor die samestelling van hul kuddes.

Burger sê hulle probeer om ’n premieprys te betaal vir die kalwers van produsente wat volhoubaar diere lewer wat bogemiddeld groei en voer goed kan benut. Dit duur jare en baie gegewens is nodig om wedersydse vertroue op te bou en ’n duidelike beeld te kry van waarheen ’n teler met sy kudde op pad is.

Daarom kommunikeer hulle voortdurend met sulke produsente om hulle met inligting en raad te bedien, sodat hulle makliker en vinniger na hul teeldoelwit kan vorder. Groei, voerdoeltreffendheid en voorbereiding, wat siektebeheer insluit, is die belangrikste eienskappe vir hul voerkraal.

Ander voorkeure by voerkrale

Burger sê hulle verkies bulkalwers vir die voerkraal, maar dit is ook nodig om verse te koop om voldoende diere te hê. Sy ondervinding is dat bulkalwers sowat 10% beter as verse groei, maar verse is normaalweg goedkoper as bulkalwers.

Lukas sê Bufland-voerkraal verkies swaarder kalwers, maar waarsku dat dit belangrik is dat die diere nie hul tande moet wissel in die tyd voor hulle geslag word nie. As diere wissel, vreet hulle normaalweg swakker en behaal die karkasse ’n laer gradering, wat laer karkaspryse beteken.

Biosekuriteit is ononderhandelbaar. Hulle moet weet waar die diere vandaan kom, hoe siektes in die kudde beheer en bestuur word, en wat die gesondheidstatus van die mense is wat met die diere werk.

Prestasietoetsing

Teling speel vir Lucas ’n groot rol. Met die inligting wat hy in die Bufland-toetssentrum versamel, is dit duidelik dat die meeste vee-eienaars se teeldoelwit is om kalwers te teel wat goed in voerkrale aanpas en presteer.

Ten opsigte van genetiese eienskappe is daar soms groter verskille binne beesrasse as tussen die rasse. Dit lyk vir hom asof daar telers is van beesrasse wat tradisioneel nie hoog aangeslaan is ten opsigte van hul prestasie in die voerkrale nie, wat beslis besig is om die bordjies te verhang deur streng seleksie en doelgerigte teling.

Dit is vir hom baie interessant dat telers wat groot waarde aan skoue heg, se diere in die toetssentrum goed vaar ten opsigte van groei en doeltreffende voerbenutting.

Wetenskaplike toetsing van die prestasie van teeldiere gaan in die toekoms nóg belangriker word. Hy glo dat telers van alle vleisbeesrasse wat nie streng aan die hand van wetenskaplike gegewens vir veral groei en voerdoeltreffendheid selekteer nie, gaan agterbly.

Die ‘té-diere’ werk nie vir voerkrale nie. Diere wat binne hul ras te klein is, groei nie voldoende om voer doeltreffend te kan benut nie en dié wat te groot is, groei gewoonlik nie genoeg nie. Laasgenoemde is soos ’n V8-enjin – sterk, maar swaar op brandstof.

Hy meen dat mense nie altyd besef hoe belangrik die lengte en breedte van ’n bees is nie. Uit die gegewens van bulle wat in die toetssentrum geweeg en gemeet is, weeg ’n bul van dieselfde hoogte, maar wat 15cm langer is, tot soveel as 60kg swaarder as die korter bul.

Voordele van voorbereiding

Lukas sê die stelsel waarin diere vooraf op weidings met byvoeding vir die voerkraal voorberei word, het groot waarde vir voerkrale. Daar kan die diere wat swak aangepas en minder gehard is al geïdentifiseer, hul plek in die heterargie daar uitgespook en morbiditeit in die voerkraal beperk word.

Die diere kan ook in dié tyd daaraan gewoond raak om voer en water uit krippe te vreet en suip. Soos wat die diere hul teikengewig bereik, kan hulle dan in meer eenvormige groepe van naastenby dieselfde gewig in die voerkraal gesit word.

Omdat sowat 80% van die beeste in Suid-Afrika aan voerkrale bemark word, sal speenkalftelers wat volhoubaar wil boer, meer aandag aan ekonomies belangrike eienskappe moet gee. Produsente wat self wil voer, sal groter welslae behaal as hulle geneties meerderwaardige diere en ’n korrekte, gebalanseerde voerrantsoen van hoë gehalte gebruik, meen Lukas. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak
Lukas Eksteen by 082 458 7787 oflukas@bufland.co.za, of
dr At Viljoen by 082 440 7823 of atviljoen@vodamail.co.za.

speenkalwers