Om ’n voerkraal winsgewend te bedryf sit nie in elke man se broek nie. Die kort en die lank daarvan is dat die massa van speenkalwers binne ’n kwessie van 120 dae verdubbel moet word. Die diere moet dus baie vinnig en doeltreffend groei, sodat die voerkraal ’n wins daaruit kan maak. Vir dié doel word groeistimulante saam met ’n gekoördineerde dieregesondheids- en voedingsplan ingespan om die regte resultate te kry.

Die gebruik van groeistimulante word dikwels veroordeel omdat dit allerlei negatiewe effekte kan hê. Daar word byvoorbeeld aangevoer dat dit sekere soorte kanker bevorder, dat dit ’n radikale invloed op die omgewing kan hê en dat dit watergehalte kan beïnvloed.

Daar is al talle artikels hieroor geskryf en wetenskaplikes het al verskeie studies gedoen. Feitlik elke keer kom navorsers tot dieselfde gevolgtrekking: Hormone kan wel deur middel van vleis en melk oorgedra word, maar dit is so gering dat dit nie werklik gevare vir mense, diere of die omgewing inhou nie.

Sukses met groeistimulante

Die ideaal is om die speenkalwers se massa binne twee maande te verdubbel. Om dié doel te bereik moet groeistimulante aangewend word.

Groeistimulante en hormone word al vir meer as 50 jaar met groot sukses in vleisproduksie gebruik. Daar is talle regulasies en gesondheidsmaatreëls in plek waaraan voerkrale en verskaffers van veemedisyne en -aanvullings moet voldoen en wat elke produk beheer, dat daar nie meer ’n onveilige stimulant op die mark behoort te wees nie.

Volgens Willem Wethmar, hoof uitvoerende beampte van Chalmar Beef, werk wetenskaplikes uit verskillende dissiplines wêreldwyd saam om die veiligheid van verskeie produksiemiddels in die voedselstelsel op ’n konstante basis te meet en te herevalueer. Hy glo dat daar politici en drukgroepe is wat verskuilde agendas volg en fopnuus oor voedselproduksiestelsels versprei. Sodoende word onsekerheid en agterdog by die verbruiker gekweek.

’n Leefstylkwessie

Rudi van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic), sê die redenasie dat stimulante en hormone wat beeste inkry nadelig is vir mense, het nog nooit werklik water gehou nie. Volgens hom sal ’n mens massas vleis moet eet voordat die hormone in die vleis enige invloed op jou gesondheid sal hê. Dit kan wel ’n invloed op die smaak van die vleis hê, maar nie op gesondheid nie.

In ’n tegniese artikel sê dr Walter Willett, voorsitter van die Departement van Voeding aan die Harvard Skool vir Openbare Gesondheid in Boston, dat alles eintlik gaan oor leefstyl. Die inname van hormone en stimulante deur vleis of melk is so laag, dat dit nie werklik ’n faktor behoort te wees nie.

Volgens hom bevat 100g beesvleis ’n skamele 1,9 nanogram hormone. Hy voeg ook by dat aktiviste graag beweer dat groeistimulante verskeie soorte kanker bevorder, maar daar is baie ander faktore wat ’n groter invloed het op die bevordering van kanker, soos bloeddruk, genetika, rook en vetinname, om maar ’n paar te noem. In plaas daarvan om die boer of die voerkraal se produksie te wysig, kan die verbruiker eerder net sy leefstyl verander.

Hoe werk groeistimulante?

Willem sê groeistimulante maak die produksie van meer vleis met minder water, voer en tyd moontlik. “Dit is ook voordelig vir die omgewing, omdat daar nou meer vleis van ’n enkele dier verkry kan word en meer melk van minder koeie. Op dié manier word daar minder druk op die natuur geplaas. Vir dieselfde rede slaag voerkrale wat van groeistimulante gebruik maak, daarin om vleis meer bekostigbaar vir die eindverbruiker te maak.”

Dr Francois de Villiers, ’n veeartsenykonsultant, verduidelik dat hormone by diere net so noodsaaklik is as by mense. Soos by mense, word die produksie van hormone vertraag tot ná puberteit. Hy het egter bygevoeg dat groeistimulante nie ’n wondermiddel is wat die dier vinniger laat groei nie; dit skep eerder die kapasiteit om addisionele voer hoogs doeltreffend om te skep in karkasmassa.

Die meeste voerkrale gebruik die dienste van veeartse en voedingkundiges om te sorg dat groeihormone korrek aangewend word.

Hy sê verder dat sekere groeistimulante op ’n sekere tyd in die dier se lewe groot voordele inhou. Dit is die voerkraal se ideaal dat die dier binne ’n kort tydjie swaar genoeg moet wees om te slag. Met behulp van dié stimulante kan die dier op ’n vroeër ouderdom groter en swaarder wees as in die veld, en kan hy dus vroeër bemark word.

Die stimulant spoor die dier se kliere aan om ’n groter hoeveelheid van sekere hormone af te skei. Sy bene groei vinniger, met die gevolg dat hy ’n groter raam ontwikkel. Dit stimuleer ook die dier se aptyt, sodat hy meer vreet en vinniger groei. Verder stimuleer dit ook die dier se metabolisme, sodat meer spiere geproduseer word, wat weer die uitslagpersentasie verbeter. Dit verseker dat die energie wat die dier inneem eerder vir spierproduksie as vir vetproduksie gebruik word. Op dié manier kan die voerkraal seker maak daar is ’n volhoubare vloei van gesonde vleis na die mark teen ’n bekostigbare prys vir die eindverbruiker.

Veilige, gereguleerde produkte

Volgens Willem moet groeistimulante, soos enige ander farmaseutiese produk wat vir produksiediere aangewend word, deur ’n registrasieproses gaan om goedkeuring te kry vir aanwending.

“Tydens die registrasieproses moet daar onder andere bewys word dat die produk werk, dat dit veilig is vir mens en dier, asook hoe die produk aangewend moet word. Dit is ’n wetenskaplike proses wat die riglyne vir gebruik daarstel en dit mag tussen produkte verskil. Daarom moet die produsent, in samewerking met ’n geregistreerde konsultant, verseker dat hy of sy die produk korrek aanwend.

“Die meeste voerkrale stel beide ’n voedingkundige en veearts as konsultante aan. Hulle werk saam met die voerkraal om die produkte volgens registrasieriglyne aan te wend.”

Daar is baie mense wat poog om organies te werk en organiese produkte op die tafel te besorg, maar dit is nie altyd volhoubaar nie. Die ideaal is natuurlik om sover moontlik organies te werk, maar om massaproduksie op grond van só ’n stelsel volhoubaar en bekostigbaar te maak, is nie altyd prakties moontlik nie.

Die hulp van die wetenskap moet eerder ingeroep word en die geheim lê daarin om die produkte wat jy aanskaf om vinniger groei te bevorder, korrek te gebruik.

Vir meer inligting, kontak dr Francois de Villiers by francois@capevet.com of Rudi van der Westhuizen by 082 900 3005 of rudivdw@samic.co.za. – Koos du Pisanie, Veeplaas