Estimated reading time: 4 minutes
Die koste van voer is dikwels afhanklik van die mielieprys en voerkrale het min beheer oor bewegings in dié prys.
Sowat 75% van die beesvleis wat in Suid-Afrika geproduseer word, word in voerkrale afgerond. Die meerderheid van hierdie vleis is afkomstig van afgeronde speenkalwers, oftewel jong diere, wat klas A-karkasse lewer. Om te verstaan hoe speenkalfpryse vasgestel word, moet die verskillende markkragte eerstens in ag geneem word.
Die mark vir enige kommoditeit of produk het ’n vraag- en ’n aanbodkurwe. Die aanbodkurwe bestaan uit die produsente of verkopers van ’n produk, terwyl die vraagkurwe die kopers of verbruikers verteenwoordig. Die markprys word vasgestel waar die twee kurwes ’n ekwilibrium bereik.
Die produk verhandel teen hierdie prys totdat een van die kurwes om een of ander rede verander en gevolglik die markpryse beïnvloed. Hierdie artikel kyk na die belangrike faktore wat die vraag en aanbod van speenkalwers beïnvloed en dus ’n impak op speenkalfpryse het.
Die aanbodkurwe
Speenkalfprodusente is die verkopers van speenkalwers en word as die aanbodkurwe in die speenkalfmark beskou. In Suid-Afrika wissel die bemarking van speenkalwers na gelang van seisoene.
Produsente in die somerreënvalgebiede se koeie kalf net voor die jaarlikse reën begin val. Sodoende stem die beskikbaarheid van groen gras met die melkproduksievereistes van die koeie en hul kalwers ooreen. Daarom bereik baie van die kalwers tussen April en Junie speenouderdom, en word dan bemark sodat net die koeie deur die winter gedra kan word. Die toename in aanbod kan gevolglik lei tot laer speenkalfpryse gedurende hierdie tyd.
Weersomstandighede het ook ’n beduidende effek op die speenkalfmark in Suid-Afrika. Produsente word byvoorbeeld tydens droogtejare genoop om voer in te koop, hul koeikuddes te verklein of vervangingsverse te verkoop. Die gevolg is dat, sodra die weerstoestande weer herstel, daar ’n tekort aan vroulike diere is en meer speenkalwers teruggehou moet word om kuddes te herbou.
In goeie reënvaljare met lae mieliepryse voer al hoe meer produsente, veral gemengde boerderye, hul eie kalwers. Derhalwe word minder diere bemark. Met die skryf van hierdie artikel was heelwat berig oor bek-en-klouseer (BEK) wat vrektes onder kalwers jonger as drie maande veroorsaak, terwyl ouer diere meer gehard blyk te wees. Vrektes onder die jong kalwers het tussen 5 en 20% gewissel.
Aangesien groot dele van die land onder die BEK-uitbreking gebuk gaan, is ’n laer kalweraanbod te wagte as gevolg van die vrektes. Dit kom op ’n tyd wanneer baie van die kalwers juis onder die ouderdom van drie maande is.
Oor die vraagkurwe
Die vraagkurwe, met ander woorde die vraag na speenkalwers, verteenwoordig al die potensiële kopers. Kommersiële voerkrale, plaasvoerkrale en graanprodusente wat kalwers koop om op hul reste te laat loop, is veral hier van belang. Elkeen van hierdie rolspelers het unieke faktore wat hul vraag na speenkalwers beïnvloed en gevolglik ’n uitwerking op die vraag na speenkalwers het.
Kommersiële voerkrale se besigheid behels om speenkalwers te koop, af te rond en dan hul vleis of karkasse te verkoop. Hulle voeg waarde tot die diere by deurdat die diere se gewig oor die tydperk ná aankoop toeneem.
Behalwe vir die koste van die kalf is voerkoste een van die grootste uitgawes wat deur voerkrale aangegaan word. Die prys waarteen afgeronde diere verkoop (karkasprys) word, word op sy beurt deur die beskikbaarheid (aanbod) en vraag na karkasse bepaal, wat in werklikheid ’n mark op sy eie is.
Voerkrale moet dus hul som maak tussen wat hulle per afgeronde dier kan verdien, teenoor wat hulle gaan spandeer (kalf- en voerkoste) om die dier af te rond. Die koste van voer is dikwels afhanklik van die mielieprys en voerkrale het min beheer oor bewegings in dié prys.
’n Sogenaamde negatiewe korrelasie kan tussen speenkalf- en mieliepryse getref word. Die vraag na speenkalwers sal daarom daal namate mieliepryse styg, en sal weer styg soos mieliepryse daal. Veranderings in die karkasprys veroorsaak gewoonlik ook skommelings in die speenkalfprys, met kopers wat bereid is om meer vir kalwers te betaal namate die karkasprys styg.
Graanprodusente met te min vee wat die boerdery se reste kan benut, is ook geneig om meer speenkalwers te koop in jare waarin goeie oeste voorkom. In jare waartydens die mielieprys baie laag is, ontstaan ‘n tendens onder sommige graanprodusente en gemengde boerderye om te probeer waarde toevoeg tot hul graan deur self hul diere op die plaas te voer. Die hoër vraag na speenkalwers ondersteun derhalwe ook die speenkalfprys gedurende hierdie tydperk.
Ten slotte
Dit mag dalk na ‘n eenvoudige som lyk as ‘n mens kyk na die faktore wat die speenkalfprys beïnvloed. Die feit is egter dat hierdie faktore gelyktydig op die speenkalfmark inwerk. Dit maak dit moeilik om prysveranderings akkuraat te voorspel. Dit bied nietemin ‘n verduideliking van hoe sekere faktore pryse kan beïnvloed. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by LombardWA@ufs.ac.za


