Estimated reading time: 5 minutes
- Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika getaak om misdaad te voorkom, bestry en ondersoek.
- Nasionale Instruksie 3 van 2011 gee spesifieke en uitdruklike opdragte rondom die aanmeld van misdaad by polisiekantore of ander dienspunte.
- Waar beamptes versuim om op te tree, kan dit neerkom op wangedrag en kan die interne dissiplinêre prosesse van die SAPD gebruik word om individue persoonlik aanspreeklik te hou.
- Die stap dwing ’n tweede blik op die saak deur ’n meer ervare aanklaer in die Vervolgingsgesag en lei dikwels tot ’n meer objektiewe benadering tot die ondersoek.
- In die stryd teen misdaad in Suid-Afrika moet die twee funksies mekaar aanvul en saamwerk.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika getaak om misdaad te voorkom, bestry en ondersoek. Vir hierdie doel het die SAPD statutêre magte om die taak in die openbare belang en vir die veiligheid van Suid-Afrikaners uit te voer.
Ongelukkig is daar toenemend gevalle waar die SAPD onwillig is om klagtes te registreer of waar ondersoeke nie vorder nie. Hierdie probleem vereis reaksie, omdat dit meestal ongehoord kan wees en aan magsmisbruik en pligsversuim toegeskryf kan word. Die keersy is dat dit onder andere toegeskryf kan word aan die inherente moontlikheid van botsende belange in klein gemeenskappe of plaaslike dinamika en politiek.
Lees meer oor Ernstige landelike misdaad begin by oortreding.
Nasionale instruksies
Die SAPD dwing eenvormige optrede in sy eie geledere af met nasionale instruksies. Nasionale Instruksie 3 van 2011 gee spesifieke en uitdruklike opdragte rondom die aanmeld van misdaad by polisiekantore of ander dienspunte. In die instruksie word onder meer uitdruklik bepaal dat klagtes met besonderhede waar aan al die elemente van ’n bepaalde misdaad voldoen word, geregistreer moet word en nie geweier mag word nie. Die instruksie gee uitdruklike opdragte oor standaarde rondom optrede wat deur spesifieke polisiebeamptes gehandhaaf moet word en bepaal dat afwykings van die vereistes as wangedrag, wat tot interne dissipline kan lei, beskou kan word.
Die SAPD is ’n groot organisasie wat Suid-Afrika landswyd bedien. Waar ’n gebrek aan vereiste optrede bestaan, is dit noodsaaklik dat hierdie vorm van wangedrag skriftelik by hoër strukture aanhangig gemaak word en dat verwys word na tye, name en saaknommers.
Skriftelike klagtes pleks van ’n oproep is ’n onbetwisbare rekord van kommunikasie en verander die mate waarop druk toegepas kan word indien daar geen reaksie is nie. WhatsApp-boodskappe of eposse is goed genoeg, maar dit is nodig dat die korrekte en opgedateerde kontakbesonderhede van die mense in bevelstrukture wat in ’n posisie is om op te tree indien gebrekkige hulp verleen word, gebruik word. Hierdie kommunikasiebewyse van fisiese versending of per-hand aflewering moet bewaar word as bewyse van kommunikasie indien daar ’n gebrek aan optrede is.
Kommunikeer op skrif
Kommunikasie kan begin deur op skrif met die stasiebevelvoerder te kommunikeer, en as die reaksie nie na wense is nie, dit op te volg met korrespondensie met die hoof van die provinsiale en nasionale kantore van die SAPD. Waar beamptes versuim om op te tree, kan dit neerkom op wangedrag en kan die interne dissiplinêre prosesse van die SAPD gebruik word om individue persoonlik aanspreeklik te hou.
Waar bestaande sake nie vervolg word of vorder nie en geen terugvoer ontvang word nie, is dit ook goed om direk met die provinsiale hoof van die Direktoraat van Openbare Vervolging te kommunikeer om ’n sertifikaat van geen-vervolging van ’n verdagte of ’n beskuldigde aan te vra. Die betrokke kantoor sal nie die sertifikaat verskaf sonder dat die dossier aangevra is en sonder om seker te maak dat die ondersoek behoorlik gedoen is nie.
Die stap dwing ’n tweede blik op die saak deur ’n meer ervare aanklaer in die Vervolgingsgesag en het dikwels tot gevolg dat spesifieke opdragte vanaf ’n hoër vlak aan die ondersoekbeampte gegee word. Dit skakel ook dikwels botsende belange uit en lei daartoe dat ’n meer objektiewe benadering tot die ondersoek en voortsetting van die betrokke saak van stapel gestuur word.
Bekwame aanklaers
Daar is baie bekwame aanklaers in van ons landelike gebiede. Hulle lei ondersoeke as regsgeleerdes en sien nie net dossiere na nie. Ongelukkig is daar ook aanklaers wat, in plaas daarvan om leiding te verskaf in ’n misdaadondersoek, hulle slegs bepaal by dit wat die ondersoekbeampte in die dossier skryf. In baie van hierdie sake word vervolgings as gevolg van ’n gebrek aan ywer verkeerdelik geweier.
Dit wat in die gebrek aan samewerking tussen die polisie en aanklaers verlore gaan, is wat die destydse Skerpioene suksesvol gemaak het. Die spesiale ondersoekeenheid het onder andere groot sukses behaal met vervolgings omdat die aanklaers aktief saam met die ondersoekspanne gewerk het om dossiere saam te stel, alle inligting te bekom en strafsake hofgereed te kry.
In die stryd teen misdaad in Suid-Afrika moet die twee funksies mekaar aanvul en saamwerk. Dit is net so belangrik dat landsburgers en slagoffers van misdaad op hul regte aandring en seker maak dat die mense wat met hierdie groot taak toevertrou word, hul werk met uitnemendheid verrig.
Laai die Minimumstandaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad by hierdie skakel af om oor die regte van slagoffers van misdaad te lees: www.ocj.gov.za/vc/docs/vcms/2007%20MIN%20STAND%20AFR_v3.pdf. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 033 032 0241.