Estimated reading time: 4 minutes
Na maandelange samewerking tussen die NGEAC (Nasionale Genetika Uitvoeradvieskomitee, ‘n subkomitee van die Rooivleisprodusente-organisasie of RPO) en die Direktoraat Dieregesondheid by die Nasionale Departement van Landbou (NDA), heers daar groot opgewondenheid in stoetveekringe oor die onlangse suksesvolle uitvoer van in vivo bees-embrio’s na Paraguay.
Invoerprotokolle vir die uitvoer van hoogs gesogte Suid-Afrikaanse genetiese materiaal van verskeie groot- en kleinveerasse, is ná die landswye uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) in 2021, deur die meeste lande teruggetrek. Suid-Afrikaanse beestelers is egter nou weer positief nadat die NDA daarin geslaag het om dieregesondheidsertifikate vir die uitvoer van bees-embrio’s na Paraguay, suksesvol met hul eweknieë in Paraguay, SENACSA, kon onderhandel. SENACSA is dié land se nasionale diens vir dieregesondheid en -gehalte.
Lees meer hier oor elkeen se BEK-pligstaat.
Verkennende besoek
In Mei 2023 het ‘n groep Bonsmaratelers van Paraguay, in samewerking met Bella Allianza Agronecocios, verskeie Bonsmaratelers en embriosentrums in Suid-Afrika besoek. Die besoekers het moeite gedoen met die seleksie van skenkerkoeie vir die verbetering van hul eie kuddes in Paraguay. Elke skenkerkoeie en bul is ná intensiewe evaluering van hul prestasiedata, stambome en fenotipiese voorkoms, individueel geselekteer.
Die skenkerkoeie is met manlike geslagsbepaalde semen gespoel, aangesien die hoofmotivering vir die projek was om meerderwaardige bullyne in hul stoeterye te vestig. Altesame 326 in vivo-embrio’s is op 17 Junie 2025 suksesvol na Asunción in Paraguay uitgevoer en daar heers groot optimisme, noudat die protokol en prosedure vir uitvoer in geheel in plek is, dat meer uitvoere sal volg.
Volgens dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die RPO, is die organisasie baie tevrede met die uitkoms van die werk wat deur die NGEAC gedoen word. “Alhoewel die finalisering van hierdie prosesse lank neem, begin ons die vrugte daarvan te pluk weens die komitee se harde werk onder leiding van dr Pierre Van Rooyen.”
Lees hierdie persverklaring in Engels.
SA-genetika in aanvraag
Volgens dr Van Rooyen, voorsitter van die NGEAC en voormalige hoofbestuurder van SA Stamboek, is Suid-Afrikaanse veetelers wêreldwyd bekend vir die uitstekende genetiese materiaal wat hulle produseer. Redes hiervoor, glo hy, sluit hul kundigheid en deeglikheid in, maar ook die goeie stelsels wat hulle gebruik.
“Genetiese materiaal van veral ons inheemse rasse is in groot aanvraag. Van ons buurlande is afhanklik van ons meerderwaardige genetika, maar daar is ook groot belangstelling uit Oos-Europa, Suid-Amerika, Australië en Nieu-Seeland. Bek-en-klouseer, en die gevolglike herroeping van invoerprotokolle, het egter enige sprake van uitvoere tot stilstand gedwing.”
Die NGEAC is deur die RPO in die lewe geroep om die staat behulpsaam te wees met die formulering van nuwe protokolle om die uitvoer van genetiese materiaal weer moontlik te maak. Hierdie is ‘n uiters omvattende en moeisame proses, beklemtoon dr Van Rooyen.
“Op hierdie stadium fokus ons net daarop om die uitvoer van semen en embrio’s goedgekeur te kry. Die invoerland bepaal sy eie dieregesondheidsvereistes en ons Direktoraat Dieregesondheid moet dan bewys lewer dat Suid-Afrika daaraan kan voldoen.”
Die hele proses, sê hy, kos natuurlik geld, en die bedryf finansier dit. Die RPO hanteer die operasionele aspekte, terwyl Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) die finansies hanteer.
Die weg is gebaan
Toe die NGEAC in 2023 saamgestel is, het hulle besluit om eerste te fokus op lande wat reeds invoerprotokolle in plek gehad het. Dit sluit lande soos Namibië, Botswana, Kazakstan, Paraguay, Armenië, Brasilië en Argentinië in. Sedertdien, sê hy, het ander lande bygekom, maar dis hierdie eersgenoemde lande waarop hulle eerste konsentreer.
“Beesprodusente in Paraguay is van mening dat veral die Bonsmara die ideale ras is om die produksiepotensiaal hulle eie beeste te verbeter, en hulle het toe druk begin plaas op hul eie regering om die proses te versnel, sodat hulle ons genetiese materiaal kan begin invoer. Dit is waarom Paraguay die eerste land is waarheen ons nou weer genetiese materiaal kon begin uitvoer. Ons hoop en glo dat hierdie deurbraak die eerste van verskeie sulke suksesverhale sal wees.”
Die implikasies van hierdie deurbraak, wys dr Van Rooyen daarop, lê wyd. “In die eerste plek is dit goeie besigheid vir die stoettelers en dit bring buitelandse valuta die land in. Boonop hou dit ons plaaslike stoettelers op hulle tone sodat hulle sal voortgaan met die goeie werk wat gedoen word om hierdie gesogte, meerderwaardige genetika wat ons in Suid-Afrika het, volhoubaar te bly verbeter en voorsien.” – Nasionale RPO persverklaring deur Izak Hofmeyr



