Estimated reading time: 3 minutes
Die bek-en-klouseer (BEK)-gevalle wat wyd verspreid in Suid-Afrika voorkom is deesdae op almal se lippe. Dis goed en wel om te filosofeer oor die siekte asook die redes waarom dit al hoe verder versprei, maar om dit te stuit verg samewerking.
Noordkaap Lewendehawe (NKLH), ’n bekende veilingshuis in Vryburg, het ’n lys vir al die rolspelers – van die produsent tot die veiling – opgestel sodat almal presies weet wat hulle te doen staan.
Verantwoordelikhede van die produsent
Die produsent is die eerste skakel in die ketting en ook gewoonlik die een wat die meeste skade ly tydens ’n BEK-uitbreking. Hulle dra die grootste verantwoordelikheid om BEK-vrye diere na ’n veiling te stuur en seker te maak dat die siekte nie verder versprei nie.
Die produsent se verantwoordelikhede:
- Verseker dat die diere deur ’n brandmerk of tatoeëermerk geïdentifiseer kan word.
- Verseker dat elke dier ’n oorplaatjie met ’n individuele nommer het.
- Verseker dat diere ten minste 28-dae op die plaas van oorsprong is voordat hulle na ’n veiling verskuif word.
- Versker dat die eienaar en/of veearts twee tot drie dae voor die veiling ’n kliniese ondersoek op al die diere doen.
- Stel ’n gesondheidsverklaring, sowel as ’n lys van die individuele oorplaatjies, minstens 48-uur voor die veiling aan die veilingshuis beskikbaar.
- Versker dat diere in ’n skoon, ontsmette voertuig vervoer word.
Verantwoordelikhede van die vervoerder
BEK versprei dikwels deur middel van voertuie wat diere vervoer. Die vervoerder speel ’n sleutelrol om nie gesonde diere aan die siekte bloot te stel tydens die reis na die veiling nie.
Die vervoerder se verantwoordelikhede:
- Verseker voertuie is skoon en ontsmet.
- Laai slegs diere wat op die amptelike gesondheidsverklaring verskyn.
- Neem die korrekte dokumente saam met die diere vir die reis.
Dokumente wat beskikbaar moet wees
Wanneer die diere die plaas verlaat, moet die volgende dokumente te alle tye beskikbaar wees:
- ’n Afskrif van die eienaar se brandmerksertifikaat.
- ’n Afskrif van die eienaar se ID-dokument.
- ’n Bewys van oorsprong, insluitend die naam van die plaas, GPS-ligging, en kontakbesonderhede.
- Die veearts of eienaar se gesondheidsverklaring.
- Dokumentasie rondom Artikel 6 en 8 van die Wet op Veediefstal, 1959 (Wet No. 57 van 1959).
- Volledige besonderhede van die vervoerder, insluitend die voertuig, bestuurder, en maatskappy.
Verantwoordelikhede van die biosekuriteitsbeampte
Die biosekuriteitsbeampte by ’n veiling moet by die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad geregistreer wees.
Die biosekuriteitsbeampte se verantwoordelikhede:
- Inspekteer alle diere by aankoms.
- Bevestig dat die identifikasie met die dokumentasie ooreenstem.
- Verifieer dat die voertuie vooraf ontsmet is.
- Bevestig dat die diere uit ’n skoon sone kom.
- Onderteken die finale bewegingsdokumente.
Verantwoordelikhede van die veilingshuis en agent
As laaste skakel in die ketting, moet die veilingshuis voorkom dat BEK vanaf die veiling na ander plase of abattoirs versprei.
Die agent en die veilingshuis moet:
- Gaan alle dokumente noukeurig na.
- Sorg dat geen diere afgelaai word voordat die biosekuriteitsondersoek afgehandel is nie.
- Stel voet- en wielbaddens met doeltreffend ontsmettingsmiddels beskikbaar.
- Verseker dat diere van ’n skoon sone afkomstig is én na ’n skoon sone gestuur word.
- Hou alle rekords vir minstens vyf jaar.
Die belangrikheid van BEK-voorsorgmaatreëls kan nie genoeg beklemtoon word nie. As elkeen sy deel doen, is die kans veel groter dat dit gestuit kan word. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Kontak gerus vir Gert Jordaan, uitvoerende hoof van Noordkaap Lewendehawe, by 053 927 3871.





