Tuesday, December 16, 2025

Namibië roep halt met invoer van genetiese materiaal

Estimated reading time: 3 minutes

Die Namibiese Departement van Landbou, Visserye, Water, en Grondhervorming het op Donderdag, 3 April 2025, die mat onder baie Suid-Afrikaanse stoetboere uitgeruk met die aangekondig dat alle vorige uitgereikte permitte om genetiese materiaal van gesplete hoefdiere vanaf Suid-Afrika in te voer, gekanselleer word tot verdere kennisgewing.

Dr Pierre Van Rooyen, voormalige hoofbestuurder van SA Stamboek en tans die voorsitter van die Genetiese Uitvoerkomitee in samewerking met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Rooivleisbedryfdienste (RMIS), sê dit was vir almal ’n skok.

Die grens was in 2021 gesluit weens die grootskaalse uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika. Daar is toe lank gestoei om in samewerking met die Nasionale Departement van Landbou se Direktoraat Dieregesondheid, die nodige protokolle in plek te kry om weer bulle vir teeldoeleindes, semen en embrio’s na Namibië te kan uitvoer.

Na baie vergaderings tussen die twee lande en die opstel van bepalings om invoere veilig te doen, is die grens stelselmatig oopgestel. Sedert Desember 2024 is die groenlig gegee om semen uit Suid-Afrika in te voer en sowat ’n maand gelede is ’n nuwe mylpaal bereik om ook embrio’s in te voer.  

Die Namibiese regering het egter sonder enige vooraf aanduiding nou besluit om die grens weer te sluit “ten einde hul nasionale kudde te beskerm teen bek-en-klouseer-uitbrekings”. Dit was nadat daar aangekondig is dat daar in KwaZulu-Natal nog uitbrekings voorgekom het.

Protokolle in plek

Dr Frikkie Maré, hoofbestuurder van die RPO Nasionaal, sê daar is baie moeite gedoen om alle protokolle in plek te kry en te sorg dat die maatreëls vir die uitvoer van embrio’s en semen in plek is. Hierdie maatreëls is reeds in plek en uitvoere word van enige oordraging van bek-en-klouseer gevrywaar.

Dr Van Rooyen sê die hoof uitvoerende beampte van die RMIS, Dewald Olivier, is tans besig om die nodige verslae so gou moontlik saam te stel, om te bewys dat hierdie maatreëls reeds in KwaZulu-Natal in plek is en uitvoere veilig gedoen kan word. Die plan is om dit met die hoofuitvoerende beampte van die Namibiese Landbou-Unie (NLU), Roelie Venter, te deel sodat hy dit aan die Namibiese Departement van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming kan voorlê.

Vir baie stoetboere en organisasies is dit ’n groot terugslag, veral in die lig van die hoeveelheid werk wat reeds ingesit is om volgens die korrekte riglyne te werk, soos deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) bepaal, wat vir die invoerder en die uitvoerder van waarde sal wees.

Dit is vir die Namibiese veebedryf ook ’n terugslag, want hulle benodig die genetika wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Hulle kan nie bekostig dat die grens vir die invoer van genetiese materiaal, hetsy semen, embrio’s of bulle vir teeldoeleindes, gesluit is nie. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic)...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...