Estimated reading time: 4 minutes
Dieregesondheid, biosekuriteit en die ekonomiese gevolge van plaaslike siekte-uitbrekings op rooivleisuitvoere het die gesprek tydens vanjaar se Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Oos-Kaap-kongres op 7 Augustus oorheers.
Frik van Rooyen, voorsitter van die RPO Oos-Kaap, het gesê dat siektebeheer op hierdie stadium die organisasie se grootste bekommernis is. Hy het ’n pleidooi aan die Oos-Kaapse rooivleisprodusente gelewer om enige verskille ter syde te stel en ’n bydra tot ’n volhoubare toekoms vir die bedryf te lewer deur deel van die RPO as ’n georganiseerde landbou-instansie te word. Hy het alle rooivleisprodusente ook aangemoedig om ’n verteenwoordiger by hul landbou-verenigings te identifiseer wat daarop ingestel sal wees om ’n verhouding met die RPO te bou sodat hulle knelpunte in hul omgewing kan deurgee.
Boere kry gratis naspeurstelsel
Eben du Plessis, vise-president van Agri Oos-Kaap, is ’n veeprodusent wat dit self ook aan sy sak voel wanneer die pryse op die mark nie te waffers is nie.
“As georganiseerde landbou maak ons seker dat die regulasies en toestande in ons provinsie en regoor die land reg is vir die bemarking van plaaslike produkte, sowel as uitvoerprodukte. Een van die belangrikste aspekte daarvan is naspeurbaarheid van produkte, en mense se sienswyse daaromtrent sal moet verander omdat dit as ’n stuk gereedskap deur produsente gebruik kan word om die bestuur van hul produk te verbeter.”
Agri Oos-Kaap het ’n produk genaamd Aims (Animal Identification Movement System) ontwikkel wat gratis beskikbaar is vir produsente in die Oos-Kaap. Du Plessis sê dit is ’n baie eenvoudige naspeurbaarheid-platform waarop produsente kan registreer en deur hierdie stelsel kan hulle oorplaatjies vir hul vee laat maak. Agri Oos-Kaap wou graag ’n basiese stelsel vir produsente daarstel om eenvoudige naspeurbaarheid in plek te sit en seker te maak dat dit met die nodige regulasies ooreenstem. “Ek dink dit is regtig belangrik dat produsente dit gebruik,” het hy gesê.
Een van die realiteite van die dag is dat produsente binne die afsienbare toekoms ’n GLN-nommer (oftewel ‘n global location number) sal moet verkry indien hulle nie in die toekoms wil sukkel om diere aan voerkrale te verkoop nie. Produsente word aangemoedig om GLN-geregistreerd te wees, omdat dit in die toekoms noodsaaklik sal wees om ’n nommer te hê indien hulle vee wil verkoop. Om meer hiervan te wete te kom, kan lesers die Rooivleisbedryfdienste (RMIS)-webtuiste besoek.
Wees betrokke in die veld
Een van die gassprekers, Louw van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep, het met die produsente gesels oor moontlike nuwe markte vir die rooivleismark en uitvoere. Hy het produsente aangemoedig om ook vir beter markte te soek en deel te word van die naspeurbaarheidstelsel en die bemarking van hul produk.
Oor produksie in ander lande, het hy die volgende gesê. “In Noord-Amerika is daar byvoorbeeld ’n tekort aan arbeid en beperkte volumes produkte. Daarteenoor ervaar die Ooste ’n groot aanvraag wat gedryf word deur ’n groter bevolking en hoër inkomste-groepe wat ’n mark skep, en ek glo Suid-Afrika is in ’n baie goeie posisie om voordeel daaruit te trek.”
Om uitvoergereed te wees
Die lewendehawe-uitvoerder en -verskaffer, Al Mawashi, het verlede jaar in April ’n skip van Oos-Londen na Koeweit in die Midde-Ooste gestuur en sedertdien het bek-en-klouseer die uitvoere van lewendige vee vanaf Suid-Afrika heeltemal tot stilstand gedwing. Hul uitvoerende hoof in Suid-Afrika, Sake van der Wal, het in die verlede gemiddeld vier uitvoere per jaar behartig. Van der Wal het hieroor uitgebrei en gesê die Oos-Kaap het ’n groot finansiële verlies gely in terme van die hoeveelheid skape, voer, en medisyne wat Al Mawashi sou aangekoop het. Werksgeleenthede is ook verbeur, omdat hierdie arbeidsgeleentheid vir veehanteerders ook weggeval het.
“Van Al Mawashi se kant af wil ons graag kyk na ’n program waar ons moontlik vier vragte per jaar kan laai,” het Van der Wal gesê. “As ons daardie versekering kan kry, kan ons die kommunale produsente in die Oos-Kaap en georganiseerde landbou by ons program betrek, om te verseker dat die diere uitvoergereed sal wees.” – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting oor Aims, kontak Anro Klopper van Agri Oos-Kaap by 041 363 1890 of infrastructure@agriec.co.za.



