Wednesday, December 17, 2025

RPO Oos-Kaap: Doelgerig en gereed vir aksie

Estimated reading time: 5 minutes

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) tree as die amptelike mondstuk van rooivleisprodusente in Suid-Afrika op. Soos in ander provinsies, is die RPO goed in die Oos-Kaap verteenwoordig waar die provinsiale tak deur sy bestuurder, Brent McNamara, gelei word, bygestaan deur die voorsitter, Frik van Rooyen, en ondervoorsitter, George Viljoen.

As die naasgrootste provinsie gemeet aan grondoppervlak, bestaan die Oos-Kaap uit ’n beduidende rooivleiswaardeketting – van veeproduksie tot die verwerking van vleis en verspreiding aan verbruikers. Die RPO Oos-Kaap, tesame met Agri Oos-Kaap, het doeltreffende kommunikasieplatforms gevestig deur middel van vergaderings en inligtingsessies reg deur die provinsie, om produsente op datum te bring en in te lig oor die werk wat agter die skerms gedoen word om die rooivleissektor te bevorder en te ondersteun.

Die voorsitter van die RPO Oos-Kaap, Frik van Rooyen, beoog om die organisasie op alle platforms binne die waardeketting te hervestig, terwyl hy maniere soek om die rooivleisbedryf se volhoubaarheid te verhoog.

Die volgende onderwerpe is tydens vanjaar se byeenkomste bespreek:

  • Veediefstal en suksesvolle operasies om veediefstal in die provinsie hok te slaan.
  • Die bekendstelling van die Nasionale Veediefstalrapporteringstelsel vroeër vanjaar deur Coert Jordaan, voorsitter van die Oos-Kaapse Veediefstalvoorkomingsforum, bygestaan deur Mornay Viljoen, Agri Oos-Kaap se bestuurder van landelike veiligheid en voorsitter van geïntegreerde natuurlewe-sone bestuur in die provinsie.
  • McNamara verteenwoordig die RPO Nasionaal op die bedryf se naspeurbaarheidstaakspan, wat die belangrikheid van naspeurbaarheid, soos die bedryf se naspeurbaarheidstelsel en die nuut-geïntegreerde globale liggingsnommers (GLN) om aktiwiteite te stroomlyn en data-akkuraatheid te verbeter, tydens hul vergadering bespreek het. Hy het ook oor die Oos-Kaap se huidige bek-en-klouseer (BEK)-status en die talle uitdagings wat biosekuriteit in die gesig staar, veral vir produsente wat aan munisipale meentgronde grens, gepraat.

“Hierdie vergaderings is ’n baie doeltreffende manier om die boodskap by produsente te kry, en om te verseker dat die korrekte inligting oorgedra en produsente op datum gehou word,” sê McNamara. “Dit stel hulle ook in staat om betrokke te raak en vrae te vra oor sake wat dalk verwarrend kan wees.”

Aksie teen veediefstal

Die Veediefstalvoorkomingseenheid is ’n kommunikasieplatform tussen die onderskeie veediefstaleenhede en die provinsiale kantoor, in samewerking met kommersiële en opkomende produsente, sowel as kleinvee-eienaars. Die RPO Oos-Kaap is ’n rolspeler in die Oos-Kaapse Veediefstalvoorkomingsforum. Eersgenoemde, bygestaan deur Agri Oos-Kaap, staan veediefstaleenhede regoor die provinsie by deur die Agri Ops-koördineringsentrum, wat ’n goed-gevestigde netwerk van kameras regoor die provinsie het.

Naspeurbaarheid deur AIMS EC

Die RPO Oos-Kaap het ’n baie suksesvolle naspeurbaarheidstelsel, AIMS (Animal Identification Movement System) EC, ontwikkel. Die AIMS EC-program voldoen aan al die naspeurbaarheidsvereistes wat in die Vee-identifikasie en naspeurbaarheidstelsel (LITS-SA 2018)-dokument uiteengesit word. Alle oorplaatjies wat deur die stelsel verskaf word, word deur die Internasionale Komitee vir Diere-aantekening (ICAR) goedgekeur.

Diere word met GPS-koördinate aan spesifieke plase/liggings toegewys en kan vanaf hul geboorteplek opgespoor word. AIMS genereer oordraggeskiedenis-verslae van elke dier wat van een plek na die volgende verskuif is, Artikel 6- en 8-dokumentasie, sowel as gesondheidsverklaringsdokumente. Veedata wat op AIMS EC gelaai word, kan aan ander plaasbestuurstelsels gekoppel word.

Siektebestuur

Die RPO Oos-Kaap bied samewerking aan die onderskeie departemente en veeartsenydienste oor talle aspekte wat dieresiektes en naspeurbaarheid raak en hulle staan hierdie instansies ook so ver as moontlik by. Deur die jare het die organisasie onder meer gehelp met die aanmelding, bestuur en beheer van siektes soos varkpes. Die RPO Oos-Kaap het onlangs, saam met Agri Oos-Kaap, ’n deurslaggewende rol gespeel in die aanmelding, bestuur en beheer van die mees onlangse BEK-uitbreking in die Oos-Kaap. Hulle het ’n permitkantoor namens die Nasionale Departement van Landbou en veeartsenydienste op die been gebring, wat ’n deurslaggewende maatreël in die beheer van BEK in die provinsie was.

RPO-konferensie

RPO Oos-Kaap bied op 7 Augustus ’n konferensie by Mentorskraal in Jeffreysbaai aan. Die doel van die konferensies is om sy lede oor belangrike ontwikkelings in die rooivleisbedryf nasionaal en plaaslik in te lig. McNamara, Van Rooyen en Viljoen sal die geleentheid bywoon.

’n Persoonlike siening

McNamara is ’n bees- en bokprodusent van die Alexandria-distrik in die Oos-Kaap. Hy is passievol oor landbou en glo dat georganiseerde landbou die toekomstige weg is. Nadat hy die georganiseerde landbou vir ’n klompie jare gedien het, en gegewe sy omvattende kennis van die sektor en rooivleisbedryf, is hy in Januarie 2021 as die uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap aangestel.

“Die Oos-Kaap is uiters geskik vir ekstensiewe rooivleisproduksie. Produsentepryse het die afgelope tien jaar tred gehou met inflasie en met ’n gemiddeld van 3,8% per jaar gestyg. Produsente se insetkoste, insluitend arbeidskoste, het egter inflasie en die markprys wat plaaslik gerealiseer kan word, ver oortref. Indien ons wil hê hierdie bedryf moet volhoubaar bly,” sê McNamara, “moet ons nuwe uitvoermarkte vind. Suid-Afrika is baie goed geposisioneer om prysgewys internasionaal mee te ding. Om dit te laat gebeur, moet die beheer van dieresiektes, biosekuriteit op die plaas en naspeurbaarheid die fokusareas bly.

“Die Suid-Afrikaanse verbruiker is onder geweldige finansiële druk en sal waarskynlik nie die styging in produsentepryse wat nodig is vir die bedryf om te oorleef, kan absorbeer nie. Om daarvoor te vergoed, sal sekere klasse en vleissnitte hoër internasionale pryse moet realiseer. As ons dieresiektes suksesvol kan beheer deur middel van streng biosekuriteitsmaatreëls en naspeurbaarheid, glo ek die rooivleisbedryf sal vorentoe positiewe groei toon.”

Vir meer inligting oor AIMS, die RPO Oos-Kaap se konferensie in Augustus, of enige ander navrae, kontak Agri Oos-Kaap se kantoor by 041 363 1890 of epos marketing@agriec.co.za.

Related

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic) is just about carcass competitions, think again. The company’s primary...

Elke happie tel: Presisievoeding vir optimale produksie

Estimated reading time: 6 minutes Elke produsent het die behoefte om meer winsgewend en volhoubaar te boer. Sou hy hierdie doelwit wil bereik, moet sy...

Flies and blowflies: A serious threat to cattle health

Estimated reading time: 4 minutes Several fly species negatively affect cattle productivity, including biting flies and non-biting flies. Face flies are also important disease vectors...