Estimated reading time: 3 minutes
Die veeboere in die Noord-Kaap was aan die begin van hierdie jaar nog bekommerd oor die dreigende droogte in die provinsie en georganiseerde landbou het al met opnames begin om te bepaal watter gebiede gehelp moet word. Sowat drie maande gelede het die Noord-Kaap egter lieflike reën begin kry met goeie tussenposes en die weiding het drasties verbeter.
Tydens die RPO Noord-Kaap kongres het Brand du Toit, herkose voorsitter van die RPO Noord-Kaap, in sy voorsittersrede gesê dié goeie weidingstoestande het veroorsaak dat minder slagvee aangebied is, met gevolglike toename in pryse.
“A2-lammers het van R86/kg na R110/kg gestyg en speenkalfpryse het van 32/kg tot R36/kg gestyg. Die nasionale slaggetalle van beesvleis het ook op 2,8 miljoen slagtings gedraai. In 2016 was die rekord aantal slagtings 3 miljoen.
Dieselfde het met skaapslagtings gebeur. In 2016 was die rekord aantal slagtings 5,4 miljoen en sedertdien het dit baie gedaal. Die afgelope jaar het dit egter weer by 5,1 miljoen slagtings gaan draai,” gesels Du Toit.
Bek-en-klouseer
Hy het egter ook sy kommer oor die sporadiese bek-en-klouseer (BEK)-gevalle uitgespreek wat tot gevolg het dat die uitvoere van rooivleis na China verminder. Dit kan weer ’n groter aanbod op die plaaslike mark tot gevolg hê, wat tot verlaagde pryse kan lei.
Du Toit het ook die belangrikheid van naspeurbaarheid beklemtoon en telers aangemoedig om betrokke te raak en hul biosekuriteit op te skerp. Hy het verder ook sy kommer oor die tekort aan veeartse in die provinsie uitgespreek en gesê die Nasionale Department van Landbou se begrotingstekortkominge veroorsaak dat personeel nie by die nodige inspeksiepunte uitkom nie.
Hy sê die RPO Noord-Kaap het verskeie probleme wat veetelers in die Noord-Kaap ervaar, aangespreek en is steeds besig om dit aan te spreek.
SKA en landboutegnologie
Een daarvan is die Square Kilometre Array (SKA)-projek wat produsente verhoed om tegnologie te gebruik. “Die gebrek aan selfoonsein kan met laeband-satelliettegnologie soos Starlink aangevul word, maar SKA wil verhoed dat hierdie tegnologie oor die Noord-Kaap ontplooi word omdat dit in die dieselfde frekwensie bandwydte as die SKA-projek gebruik word. Dit is vir RPO Noord-Kaap ’n ernstige saak om op te los.
Ongediertebeheer
Ongediertebeheer bly ’n probleem in die Noord-Kaap. Vyf kursusse is oor die afgelope jaar aangebied met baie goeie bywoning. RPO Noord-Kaap hou ook tans statistiek van produsente se veeverliese en die aantal ongediertes wat uitgeroei is.
Veediefstal
’n Verdere knelpunt wat aangespreek is, is veediefstal. Dit is ’n wesenlike probleem in die Noord-Kaap en Du Toit het boere aangemoedig om die WhatsApp-rapporteringstelsel te gebruik om sake aan te meld. Die doel is om die Suid-Afrika Polisiediens (SAPD) te oortuig om hul mannekrag in die Noord-Kaap te verhoog.
Afname in verbruik van rooivleis
Die afname in die verbruik van rooivleis in Suid-Afrika is ook ’n bekommernis wat produsente in die gesig staar. Weens finansiële redes het al hoe meer Suid-Afrikaners begin om minder rooivleis te verbruik. In 2024 was die verbruik van skaapvleis slegs 3kg per persoon per jaar, terwyl die gebruik van beesvleis 24kg per persoon per jaar was.
Vir die produsente is dit ’n terugslag en hier het die RPO ook hande met ander rolspelers gevat om verbruikers meer bewus te maak van skaapvleis. Een so ’n projek waarby RPO Noord-Kaap ingeskakel het, is die Lamb champs-inisiatief van SAAI wat tydens die RPO Noord-Kaap se Vleisfees aangebied gaan word. Du Toit sê daar moet baie meer gedoen word om verbruikers van veral skaapvleis bewus te maak en daarom word daar na ’n bemarkingsfonds gekyk om gereelde bemarking te doen.
Die RPO Noord-Kaap het die afgelope jaar hard gewerk om hul mandaat te vergroot en kan met ’n 22% toename in ledegetalle spog. Du Toit het ten slotte alle lede en ander rolspelers in die rooivleisbedryf bedank vir hul volgehoue werk om produsente op die plase te hou. – Koos du Pisanie, Plaas Media