Estimated reading time: 7 minutes
Riversdal se 158ste skou met die tema “Eg Plattelands” en met Plaas Media as trotse mediaborg, het vanjaar van 18 tot 22 Februarie plaasgevind. Vanweë streng bek-en-klouseer (BEK) voorsorgmaatreëls in die Wes-Kaap kon daar egter nie vanjaar met gespletehoefdiere geskou word nie.
Volgens Pieter van Wyk, voorsitter van Riversdal-landbougenootskap, het die maatreëls beteken dat verskeie hoogtepunte – soos die Suid-Kaap Merino-streekkampioenskappe waar die Wes-Kaapse Merino-ram van die jaar aangewys word, die Wes-Kaap Boerbok- en Kalahari Red-kampioenskappe, die vleisbeesskou met sy uiteenlopende rasse en die gewilde spoedskeerkompetisie – vanjaar nie kon voortgaan nie.
“Gelukkig kon die skoubestuur ander aktiwiteite vir die jeug, plaaswerkers en boere reël om op te maak vir die afwesigheid van gespletehoefdiere. Die aktiwiteite was so gewild dat ons in die toekoms ernstig sal moet oorweeg om dit deel van die program te hou, selfs al kan ons weer met gespletehoefdiere skou,” sê Van Wyk.
Die afdelings wat wel met hul kampioenskappe kon voortgaan, was die perde- en pluimvee-afdelings, die Boerboel-hondeskou, die slaglamkompetisie, die jeugskou (sonder gespletehoefdiere) en die massa-atletiekaflos waaraan altesaam 17 skole, landbouverenigings en senior aflosspanne deelgeneem het.
Skou durf nuwe weë aan
Adriaan Geldenhuys, ondervoorsitter van die skou, verduidelik dat die skoubestuur vanjaar voor groot uitdagings te staan gekom het. Eers twee weke voor die skou het dit duidelik geword dat deelname van gespletehoefdiere nie moontlik sou wees nie. “Vir die veiligheid van die gemeenskap en die skou moes ons die moeilike besluit neem. Gelukkig het die bestuur positief gebly, nuwe aktiwiteite uitgedink en so gesorg dat die skou voortgaan.”
Een van die maniere waarop die bestuur die program aangepas het, was om die jeug te betrek. “Ons het by die kleintjies (pre-primêre kinders) begin, en die plaasaktiwiteite speels nageboots. Hulle kon maak asof hulle skaap skeer, eiers uit neste haal of ’n koei melk. Hoewel daar nie regte diere was nie, was dit bevredigend om hul reaksies te sien wanneer hulle deelneem,” vertel Geldenhuys.
’n Inligtingsessie oor verskillende skaaprasse is vir hoërskoolleerders aangebied. Daar is gewys hoe die verskillende rasse se wol verskil, watter prosesse die wol verder in die waardeketting volg, en ander interessante feite is gedeel. Vir die eerste keer is boeresport ook as deel van die jeugprogram aangebied.
Vir plaaswerkers is twee praktiese kursusse aangebied. Een oor veilige en korrekte gebruik van chemiese middels en ’n tweede oor dieregesondheid en biosekuriteit. Elke deelnemer het ’n sertifikaat as bewys van voltooiing ontvang.
“Die besoekergetalle wys dat ons trots kan wees op wat ons bereik het. Ons het die uitdagings oorkom en hard gewerk om die skou ’n lekker ervaring vir almal te maak. Besoekers besef nie altyd hoeveel moeite en tyd in die voorbereiding ingaan nie, veral wanneer dit by die onderhoud en verbeteringe aan die infrastruktuur kom. Sedert die Covid-pandemie is daar reeds miljoene rande teruggeploeg om die skou se infrastruktuur jaarliks op te gradeer,” voeg Geldenhuys by.
Landbou-oggend bly gewild
Pieter Rall, lid van die Riversdal-skou se uitvoerende komitee, sê die landbou-oggend was ’n groot sukses. Die sprekers, prof Abel Esterhuyse, professor by die Departement Strategiese Studies aan die Universiteit van Stellenbosch, en dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het die nuwe wêreldorde, BEK en die ekonomie bespreek.
Prof Esterhuyse het twee spanningslyne in Suid-Afrika uitgewys: tussen die ANC se belange en die nasionale belang, en tussen politieke en ekonomiese belange. Hy gebruik China as gevallestudie. Polities is sterk bande met China gebou, maar ekonomies is Suid-Afrika meer op Europa en Amerika gerig. Die land het gevolglik ’n negatiewe handelsbalans met China, wat bydra tot de-industrialisering en die sluiting van fabrieke.
Dr Meyer het produsente ingelig oor die Wes-Kaapse regering se 21-puntplan om BEK aggressief te beheer. Daar is onder andere ’n tolvrye noodnommer, ’n beheerkamer en gereelde padblokkades. Die belangrikste is egter dat almal moet saamwerk om BEK in die Wes-Kaap te beveg, aangesien die siekte ’n bedryf ter waarde van R13,5 miljard, waarin sowat 50 000 mense werksaam is, in gevaar stel. Biosekuriteit is dus van uiterste belang op kommersiële plase sowel as in informele landbougebiede.
Wenkarkas vir R23 000 verkoop
AJ van Wyk, ondervoorsitter van die skou, sê dat die skou gelukkig met vanjaar se karkaskompetisie kon voortgaan. Die kampioen en reserwe-kampioen-enkelkarkas aan die haak, sowel as die kampioengroep van drie lammers aan die haak, is tydens die skou vertoon en opgeveil.
Die kampioen-enkelkarkas aan die haak het die hoogste punt nog vir ’n slaglamkompetisie vanjaar behaal. Dié Dohne Merino-lam het ’n punt van 99,53 uit 100 behaal en is deur Lourence van der Colff van Overberg Meat op Bredasdorp ingeskryf. Die wenkarkas, wat 20,6 kg geweeg het, is opgeveil en vir R23 000 aan Gerbrandt Rademan van Nuweput, Riversdal, verkoop.
Van der Colff het ook die kampioengroep van drie karkasse aan die haak ingeskryf, asook die vierde plek in die enkelkarkas aan die haak met ‘n punt van 94,56. Die enkelkarkasse in die tweede (98,52), derde (98,24) en vyfde plek (94,44) is deur Vredesig Suffolk en Dormers van Darling in die Swartland ingeskryf.
Ten spyte van die BEK-krisis en die buitengewone uitdagings wat dit vir die skoubestuur ingehou het, het hul innovering tot ’n besonder suksesvolle skou gelei. – Hugo Lochner, Plaas Media
