Friday, December 13, 2024
HomeMagazinesRambestuur en winsgewendheid (Deel 3): Ramondersoek en dekbehendigheid

Rambestuur en winsgewendheid (Deel 3): Ramondersoek en dekbehendigheid

In die reeks wat handel oor goeie rambestuur, het ons verlede maand gekyk na waarom jy jou ramme minstens twee tot drie maande voor die paarseisoen op ’n goeie voedingsvlak moet kry. In hierdie artikel kom die ramme weer onder die vergrootglas in ondersoeke om vas te stel of jou manlike dierasies paargereed en dekbehendig is.

Lees meer oor deel 1 van rambestuur hier.

Met hierdie ondersoeke is die ideaal dat ’n veearts die ramtrop vier tot ses weke voor paartyd volledig ondersoek. Die tweedebeste praktyk is dat alle nuwe ramme volledig ondersoek word en dat die res van die trop vinnig deurgekyk en geklas word, sonder om weer saad te tap. Die derde-beste opsie is om die hele ramtrop, insluitend koggelramme, saam met die veearts vinnig deur te voel en te klas. Die absolute minimum is ’n behoorlike ondersoek deur die skaapboer.

Roetine-ondersoek van kop tot tone

Die hele ram is betrokke tydens die dekseisoen en daarom moet sy anatomie geheel en al nagegaan word. Die volgende vrae moet beantwoord word:

  • Wat is die kleur van die oogslymvlies? (Famacha-ondersoek).
  • Hoe lyk sy tande en lippe?
  • Is sy neus skoon en oop?
  • Is sy oë helder, melkerig of tranerig? Maak seker sy ooglede is nie ingedraai of loshangend nie. Is daar letsels waar die ooglede reggesny is?
  • Is die ooglede pienk of gepigmenteer? Pienk ooglede is meer vatbaar vir kanker.
  • Is die kliere onder die oor in die nekgedeelte geswel?
  • Is daar bosluise of afskeidings in die ore? Hang die ore gelyk, of is die ore dalk geswel?
  • Is daar ’n effense sakkie onder die keel? Moenie bloot aanvaar dat dit die gevolg van parasiete is nie – dit kan ook weens plantvergiftiging of ’n tekort aan proteïene wees.
  • Let op na die pote en beweging.
  • Is daar bosluise rondom die anus, skede of aan die pote?
  • Is die ram pers rondom sy anus en in sy lieste? Hoe perser hoe beter, want dit is ’n teken dat hy gereed is vir die ooie.
  • Is daar tekens van diarree?
  • Kan die ram gewig dra op sy heupe?
  • Wat is sy liggaamskondisietelling? Die ideale telling is 2,5.

Die skrotum

  • Is die skrotum vry van bosluise, steekgrassade, doringtakke en lokswol?
  • Is die vel sag of verdik?
  • Wat is sy skrotumomvang?
  • Wat is die kleur van die ram se lieste? Wit en bleek is ongewens. Pienk is beter.
  • ’n Groot pers area, wat effens egalig geswel is, is wenslik.

Saadgehalte en testes

  • Die testes moet langwerpig en ferm wees. Ronde testes produseer minder saad.
  • Die testes se oppervlakte moet glad wees en die testes moet vrylik op en af kan beweeg.
  • Die stringe moet egalig en sonder verdikkings of knoppe wees.
  • Die twee onderste knoppe van die epididimis (bybal) moet ewe groot en glad wees.
  • Die ram se saad moet soos kondensmelk lyk en streperig vertoon teen die lig wanneer dit in ’n glasbotteltjie gerol word.
  • Die ander eienskappe van die saad moet deur ’n veearts bepaal word.
rambestuur
Peester en skede: Laat die ram sit, sodat die peester uitsteek. Is dit pienk of donkerrooi? Is die
uitsteeksel daar of afgesny? Geen stukkende plekke of etterigheid nie? Hoe ver steek die peester uit?
Is die peester vol mis? Is die skede te nou of te groot? Is dit gesond of is daar bosluise, rowe of rou
plekke aan die peester?

Lees deel 2 van rambestuur hier.

Dekbehendigheid van ramme

Fiksheid: Die praktyk om ramme op stal te hou, is baie nadelig vir natuurlike dekking. Dit lei tot verlaagde saadproduksie en libido. Ramme ondergaan geweldige spanning wanneer hulle skielik kilometers ver moet stap agter ooie, kos en water aan. Indien die ramkamp te klein is, moet die ramme ten minste 2 tot 3km per dag stap, sommer met die pad langs.

’n Ram kan, sonder om te dek, ’n verkleining van sy testes ondergaan as hy onfiks is en skielik ruwe terrein moet aandurf. Goedgevoerde veilingsramme het al soveel as ’n 25% krimping van hul testes binne 21 dae in die veld ondergaan.

Pote: Knip elke drie maande die ramme se voete kort en ondersoek die ramme individueel terwyl hulle sit. ’n Voetbad van kopersulfaat (5%) of sinksulfaat (10%) en ’n handvol wasgoedseeppoeier, behoort gereeld gebruik te word indien die ramme op hok staan en daar mis en urine aan hul pote opbou. ’n Draagbare voetbad is ’n bate op die plaas, want dit maak behandeling in die kampe moontlik, sodat die vrotpootjiekieme nie na die dipkraal of hanteringsgeriewe oorgedra word nie.

Voet- en bosluise aan die voete kan erge kreupelheid en selfs vrotpootjie veroorsaak. Let goed hierna op tydens inspeksie van die voete. Opgietmiddels sal die probleem gewoonlik oplos, maar die voetbad kan ook as voetdip ingespan word.

Heupe: Sommige ramme het swak heupe. ’n Volgroeide ram behoort ’n gemiddelde plaaswerker op sy heupe te kan dra – toets die ramme hiervoor. Soos ramme ouer word, kan die heupe verswak en sal hulle ingee onder die gewig. ’n Kortgeskeerde ram se heupknoppe steek soms uit as gevolg van die verkleining van spiere in daardie gedeelte van sy lyf. Dit is dikwels ’n teken van heuppyn en so ’n ram sal nie dek nie.

rambestuur
Die testes moet ewe groot wees. Soms is jong ramme se testes nie ewe groot nie, maar dit kom later reg.

Toets vir dekbehendigheid

’n Ram met normale libido en dekbehendigheid sal ’n stilstaande ooi twee tot ses keer binne 20 minute suksesvol dek. Die ooi hoef nie op hitte te wees nie en kan slegs vasgemaak word. Soms is ’n kalmeermiddel vir die ooi nodig.

’n Ram het soms ’n bietjie kompetisie nodig om te dek en ’n ander ram kan dan nader gebring word. Pas egter op dat die ram nie ’n ander ram probeer dek nie. So ’n ram belemmer die kanse van die ramme wat wil werk, en moet eerder geprul word. Een van die grootste foute wat produsente soms maak, is om ’n ram wat nie wil dek nie te tap en dan kunsmatige inseminasie te doen. Dit kan katastrofies wees vir die trop se vrugbaarheid.

Hoeveel ooie per ram?

’n Ram kan baie maklik ses ooie per dag dek indien sy dekbehendigheid, testesmassa en libido voldoende is. ’n Ses- tot agt-tand ram met ’n skrotumomvang van 38 tot 40cm, donkerpers lieste en goeie fiksheid, kan 150 tot 200 ooie binne 35 dae dek. Moderne, vroegryp Merino’s wat vir testesgrootte geselekteer is, kan met gemak 70 tot 100 ooie binne 35 dae dek.

’n Goeie metode, as ons aanvaar dat al die ramme hoogs vrugbaar en dekbehendig is, is om soos volg te werk te gaan: Die ramtrop behoort uit gelyke hoeveelhede van elk van die vier ouderdomsgroepe te bestaan. Neem byvoorbeeld ’n trop van twaalf ramme wat by 400 ooie gesit moet word. Neem dan een ram van elke ouderdomsgroep en deel die ramme in drie troppe in. Verdeel die ooie gelykop in drie groepe van 133 ooie, met die jongooitjies eweredig verdeel, en sit die ramme by.

’n Meer wetenskaplike metode is om die ramme te laat ondersoek vir geslagsgeskiktheid en dan op grond van die bevindinge vir elke ram ’n aantal ooie toe te ken. Die ram se skrotumomvang, voedingstatus, dekbehendigheid, ouderdom en vlak van gereedheid (pers in lieste, of reuk in bokke) word in ag geneem.

Voorbereiding van jong ramme

Om homoseksuele gedrag en swak dekbehendigheid te voorkom, is dit goed om jong rammetjies saam met ’n klompie ou ramme tussen die uitskot ou ooie te laat loop, sodat hulle kan leer dek. Hulle sal moontlik ’n bietjie kondisie verloor en die ou ooie terroriseer, maar dit is slegs vir twee of drie weke nodig. In die volgende aflewering van hierdie reeks kyk ons na die doel van koggelramme en die nut van paringsbestuur. – Dr Johan van Rooyen, Steynsburg-dierehospitaal

Lees deel 4 oor koggelramme.

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.

Must Read

Brommers kan ‘n skaap lewendig opvreet

Estimated reading time: 4 minutes Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op. Groenbrommers is die grootste probleem op wolskaapplase en is verantwoordelik vir...