Prikkelvoeding vir jou ooie

Estimated reading time: 4 minutes

  • Dit is enige skaapboer se ideaal om sy lammeroes te vergroot en een van die metodes om dit te vermag, is prikkelvoeding.
  • Daar is meer wetenskap betrokke by prikkelvoeding as wat ‘n mens verwag. Die wyle dr Jasper Coetzee was bekend vir sy kennis oor skaapboerdery. Sy bevinding was dat hoogs vrugbare ooie meer responsief is en die beste op prikkelvoeding reageer.
  • Daar is bewys dat ’n 7% verhoging in die lampersentasie verkry word met prikkelvoeding.
  • Ooie wat kunsmatig met sponse of CIDR’e (controlled internal drug release) gesinkroniseer word, moet reeds 14 dae voordat hulle kunsmatig geïnsemineer of gepaar word prikkelvoeding ontvang en dit moet tot een week na die tyd aan hulle gegee word.
  • Dit is al dikwels bewys dat prikkelvoeding ’n wetenskap is wat goed werk. Tog is daar sekere bestuursaspekte wat altyd in gedagte gehou moet word.

Dit is enige skaapboer se ideaal om sy lammeroes te vergroot en een van die metodes om dit te vermag, is prikkelvoeding.

Volgens Jan Louis Venter, ’n produksie-adviseur van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), behels dit addisionele voeding wat kort voor paartyd aan die ooie gevoer word om hul libido te verhoog. Dit kan verskeie voere insluit, maar is meestal styselprodukte wat saam met deurvloeiproteïen in ’n spaarkamp met uitstekende weiding gevoer word.

“Dit is dus ’n stimulus wat deur voeding veroorsaak word en help dat die ooi die ram aktief sal opsoek en ook dekking meer geredelik sal toelaat.”

Lees meer oor hoe om jou ooie vir die teelseisoen voor te berei.

Die ooie dra die koste

Daar is meer wetenskap betrokke by prikkelvoeding as wat ‘n mens verwag. Die wyle dr Jasper Coetzee was bekend vir sy kennis oor skaapboerdery. Sy bevinding was dat hoogs vrugbare ooie meer responsief is en die beste op prikkelvoeding reageer. Hy het ook bevind dat die gelykbreekpunt in terme van die koste van die prikkelkkorrels, slegs ses ekstra lammers per 100 ooie is.

Venter sê sy ervaring het ook getoon dat die koste van prikkelvoeding met gemak deur die ooitrop in terme van ekstra lammers gedra word.

“Daar is bewys dat ’n 7% verhoging in die lampersentasie verkry word met prikkelvoeding. Dit is ook bewys dat ooie wat as meerlinge gebore is ’n hoër respons op prikkelvoeding toon (10%), maar diere wat die vorige jaar meerlinge gehad het, se respons was tot soveel as 26% hoër,” gesels hy verder.

Lees hierdie wenke oor ooie tydens lamtyd.

Die regte tyd

Prikkelvoeding kan egter nie lukraak gegee word nie. Dit is ’n duur uitgawe en moet met oorleg geskied.

Dr Coetzee het bevind dat prikkelvoeding die beste werk as dit soos volg gegee word:

  • Dit is bekend dat ooie wat met paring in massa toeneem, meer geneig is om tweelinge en meerlinge te produseer as dié wat hul massa handhaaf of verloor. Ooie moet ’n kondisiepunt van 3,5 handhaaf met die aanvang van die paarseisoen. Die beste resultate word verkry deur hulle twee maande voor die paarseisoen in spaarkampe te plaas, sodat hulle hul kondisie op natuurlike weiding kan verbeter, waarna die prikkelvoeding gegee word.
  • Ooie wat kunsmatig met sponse of CIDR’e (controlled internal drug release) gesinkroniseer word, moet reeds 14 dae voordat hulle kunsmatig geïnsemineer of gepaar word prikkelvoeding ontvang en dit moet tot een week na die tyd aan hulle gegee word.
  • Ooie wat met koggelramme gesinkroniseer word, moet ook vanaf 14 dae voor die ramme bykom prikkelvoeding kry. Hulle moet dié voeding ontvang tot twee weke nadat die koggelramme uitgehaal is.
  • Ooie wat nie gesinkroniseer word nie, moet ook 14 dae voordat die ramme bykom prikkelvoeding ontvang, maar hulle moet vir ’n verdere vier weke nadat die ramme bygesit is prikkelvoeding kry.
  • Ooie wat die vorige jaar tweelinge gelam het, reageer die beste op prikkelvoeding. Gee prikkelvoeding slegs aan dié ooie wat bekend is daarvoor dat hulle meerlinge lam en wat self een van ’n meerling was.
  • Ooie wat die eerste keer by die ram kom, moet almal prikkelvoeding kry.

Lees meer oor die versorging van ooie en hulle lammers.

Bestuur jou ooie reg

Venter stem saam met dr Coetzee se bevindinge en voeg by dat dit belangrik is om die ooie na die paringstyd steeds prikkelvoeding te gee, in ’n poging om hul kondisie konstant te hou tydens vroeë dragtigheid.

Dit is al dikwels bewys dat prikkelvoeding ’n wetenskap is wat goed werk, sê hy. Daar is wel sekere bestuursaspekte wat altyd in gedagte gehou moet word.

“Eerstens sal prikkelvoeding nie onvrugbare diere vrugbaar maak nie. Maak seker die onvrugbares word vroegtydig uit die trop gehaal. Prikkelvoeding kan ook nie foute regstel nie. As ooie 180 dae voor paring baie maer was, gaan prikkelvoeding nie wonderwerke verrig nie. Ooie met ’n baie goeie kondisiepunt van 4 tot 4,5 sal waarskynlik nie ’n respons op prikkelvoeding wys nie. Pasop vir oorvet ooie voor paring; dit kan negatiewe gevolge vir reproduksie hê,” sluit hy af. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Jan Louis Venter van NWKV by 083 650 1131.

Voorbereiding vir ’n dissiplinêre verhoor

Estimated reading time: 4 minutes Werkgewers moet seker maak wat van hulle verwag word voor...

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg...

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en...

Cover crop mixes: Composition and species for summer

Estimated reading time: 7 minutes Soil health is a key objective when designing a cover...