Estimated reading time: 7 minutes
Wildboere en wetenskaplikes stem saam dat die verantwoordelike uitdunning van oortollige wild, ’n noodsaaklike hulpmiddel vir volhoubare natuurbewaring en wildboerdery is. Tog bly dit ’n netelige turksvy waarin emosie en onkunde dikwels ’n groot rol speel.
Nuwe planne vir ’n positiewe wildbedryf
Die uitdun van wild kan as ’n volhoubare oes van wilde diere beskryf word. Dit het ten doel om wildgetalle te beheer, om wildsvleis en ander wildprodukte op ’n gereelde grondslag te oes, of om wildgetalle te verminder ten einde die ekologie in balans te hou.
Wilduitdunning tydens Covid-19
Richard York, hoof uitvoerende beampte van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), sê dit is bemoedigend dat die Suid-Afrikaanse regering dit ook as ’n noodsaaklike hulpmiddel vir wildboere beskou, deurdat wilduitdunning tydens die ernstige Covid-19-inperkings as ’n noodsaaklike aksie geklassifiseer kon word, sodat wildboere gesonde en volhoubare bestuur op hul plase kon toepas en tot voedselsekerheid bydra.
Na aanleiding van dié besluit, het WRSA riglyne opgestel om wildboere leiding te gee oor optrede in dié tyd. Terwyl provinsiale grense gesluit was, het wildboere toestemming gekry om verblyf binne provinsies aan oesspanne en jagters beskikbaar te stel om wildgetalle, waar nodig, te verminder.
Wildboere is gewaarsku om die Covid-19-regulasies getrou na te kom asook ander maatreëls wat vir die bedryf geld met betrekking tot die uitdunning van oortollige wild. Wildboere is ook aangemoedig om ooreenkomste met wildsvleis-abattoirs te sluit vir die lewering of afhaal van wildsvleis.
Uitdunning hou troppe sterk
Richard sê die meeste wild in Suid-Afrika is nou in privaatbesit, en goed deurdagte en beplande uitdun- en oesprogramme speel ’n belangrike rol om wildgetalle te beheer en ’n volhoubare, gesonde wildbevolking te onderhou.
Wildtellings en die monitering van weigewasse maak dit moontlik om presies vas te stel hoeveel wild op ’n plaas aangehou kan word, sodat wildspesies sterk en die weiveld gesond kan bly. Tydens die oes konsentreer jagters op die ouer en swakker wild, asook diere wat nie van standaard gehalte is nie, ten einde wildtroppe geneties sterk te hou.
Uitdunning help dus om die oorblywende diere van ’n spesie gesond te hou. Net soos roofdiere, hou uitdunning die voedselketting gesond, deurdat siek, swak en ongewenste diere uit die troppe verwyder word. Só word die genepoel van die spesie versterk, omdat slegs die sterkstes behou word.
Verdere voordele
Volgens die Our Endangered World-organisasie, is daar besliste voor- en nadele verbonde aan die uitdun of oes van wild. Die voor- en nadele van enige uitdunningsprogram moet altyd deeglik vooraf oorweeg word, meen die organisasie. As die program deur die wetenskap ondersteun word, bied dit groot voordele vir mens en dier, maar daar moet ’n duidelike plan wees om die gewenste uitwerking te verseker en risiko’s te beperk.
Ekonomiese voordele is bo-aan die lys. Wilduitdunning kan duisende rande deur toerisme genereer en wildoesspanne is bereid om groot bedrae te bestee om aan uitdunningsjagte deel te neem.
Die uitdun van wild is ook voordelig vir die bewaring van ’n volhoubare ekostelsel. Dit help om die agteruitgang van die habitat teen te werk, spesiediversiteit te beskerm, en konflik tussen mens en dier tot ’n minimum te hou. As een spesie se getalle te veel raak, is hulle nie net ’n bedreiging vir hulself nie, maar ook vir ander spesies.
Die beperking van siektes is nog ’n voordeel van uitdunning. Wild en plaasdiere kan siektes opdoen as hulle met vreemde bakterieë in die grond, plante of water in aanraking kom. Dit kan ’n ernstige bedreiging vir diere én mense inhou. Miltsiekte is ’n goeie voorbeeld. As dié siekte opgemerk word, moet siek diere van kant gemaak word om verspreiding van die siekte te voorkom.
Diere wat ’n ernstige bedreiging vir mense inhou, kan uitgedun word. In Botswana en dele van Namibië hou olifante ’n groot bedreiging vir mense in. Hulle verwoes waterleweringspunte, damme en oeste, en beskadig selfs wonings in nedersettings. Die meeste diere wat wêreldwyd deur hul getalle ’n pes raak, het nie natuurlike vyande wat hul getalle onder beheer kan hou nie. Hulle moet dus uitgedun word.
Beperking van die nadele
Ongelukkig is daar ook nadele verbonde aan wilduitdunning. Daarom speel bestuur so ’n groot rol om die voordele optimaal te benut en die nadele sover moontlik te beperk. Die uitdunningsplan moet op wetenskaplike feite, akkurate gegewens en praktiese ervaring gegrond wees.
Swak-beplande uitdunning kan diversiteit vernietig en onverwante spesies skade berokken. So is die bloedsuiervlermuis, wat vir die verspreiding van hondsdolheid verantwoordelik is, in verskeie lande in Suid-Amerika uitgeroei. In die proses is metodes gevolg wat nie tussen die verskillende soorte vlermuise onderskei het nie, en is waardevolle vlermuise wat insekte vreet en produsente se oeste help beskerm, ook uitgeroei.
’n Poging in Australië om witdoodhaaie uit te roei nadat aanvalle op mense toegeneem het, het ook lelik skeefgeloop. Nette is in die see opgerig om die witdoodhaaie te vang. Altesaam 172 haaie is só doodgemaak, maar nie een was ’n witdoodhaai nie.
Daar kan ook onvoorsiene gevolge van uitdunning wees wat ’n ernstige ekologiese uitwerking kan hê. In 1949 is honderde Sjinese dood aan ’n siekte wat deur rotte, spreeus, vlieë en muskiete versprei is. Die peste is uitgeroei en miljarde is doodgemaak. Dit het wel die siekte onder beheer gebring, maar in die afwesigheid van spreeus, wat gehelp het om sprinkaangetalle te beheer, het ’n ongekende sprinkaanplaag uitgebreek en talle oeste vernietig.
Die etiek van uitdunning
Kommer oor die etiek van sulke optrede is beslis een van die groot nadele, en wêreldwyd maak dierewelsynsaktiviste dit al hoe moeiliker vir bedrywe om besigheid te doen.
Die uitdunning van diere kan ook die uitwissing van bedreigde spesies in die hand werk. Baie van die wêreld se groot diere, soos olifante, renosters en bere, word deur uitwissing bedreig. Dié diere het ’n lae aanwastempo en neem lank om volwassenheid te bereik. In Suider-Afrika word olifante nog uitgedun, terwyl sekere lande in Oos-Afrika sukkel om hul olifantgetalle te verhoog nadat olifanttroppe in die tagtigerjare daar uitgewis is.
’n Mark vir wildsvleis
Volgens ’n artikel deur prof Iain Gordon in Conservation Science and Practice, is daar ’n rooskleurige vooruitsig vir wildsvleis wat beskikbaar raak met sulke uitdunningsprogramme of met die oes van oortollige wild.
Namate die wêreldbevolking toeneem en meer welvarend raak, sê hy, styg die vraag na rooivleis. In die ontwikkelende wêreld raak wildsvleis al hoe gewilder weens die goeie voedingswaarde en geurigheid daarvan. Daar is ook ’n groeiende mark vir wildsvleis wat in troeteldierkos verwerk word.
Die rol van wildboerdery
Op die keersy word verwag dat meer grond vir landbouproduksie in die toekoms nodig kan wees. Dit sal die beskikbare oppervlakte vir wild beperk en dié diere sal op kleiner oppervlaktes aangehou moet word. Om dit volhoubaar te doen, sal dit volgens wetenskaplike beginsels en praktiese ervaring fyn bestuur moet word, en aanvaarbare metodes sal gebruik moet word sodat spesies steeds volhoubaar kan voortbestaan.
Leer ‘n bietjie meer van die die volstruisleerbedryf.
Richard sê dit is hoekom die Suid-Afrikaanse wildbedryf, wat spesies lank reeds doeltreffend aanhou, benut en bewaar, ’n leidende rol in die bewaring van die natuur gaan speel.
Vir meer inligting, kontak Richard York by 083 564 1839 of ceo@wrsa.co.za.