Estimated reading time: 4 minutes
Die derde aflewering van Plaas Media se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur, wat in samewerking met dr Louis du Pisani aangebied word, is op ‘n einde en dit was weereens ‘n reuse-sukses. Hierdie projek is daarop gemik op erkenning te gee aan veeprodusente wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas. Die vorige wenners is James Faber (2022) en Piet Roux (2023). Hierdie produsente is nie net klimaatslim nie, maar ook bereid om hul unieke kennis met ander veeprodusente te deel.
Geen projek is moontlik sonder die ondersteuning van lojale en toegewyde borge nie. Vanjaar se borge, Nedbank, Zoetis, en Advanta Seeds, verdien applous vir hul toewyding aan klimaatslim boerdery in Suid-Afrika.
Kyk gerus na die Plaas TV YouTube-kanaal waar al die borge se onderhoude gevind kan word en waar hulle vertel waarom hulle juis by dié projek betrokke is: https://youtube.com/playlist?list=PLWJpN39Xw5Y5B_gR5JJQnruRry8SKn9-e&si=Lj0Jj7cBQeX7qo4s.
Lees hierdie persverklaring in Engels hier.
Die 2024-beoordelingsproses
Soos in vorige jare, moes die deelnemers ’n vraelys op www.agriorbit.com voltooi. Die vrae beskou hul boerderypraktyke vanuit ses hoeke. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien beoordeel, die antwoorde asook puntetellings is oorweeg, en die finaliste is op grond daarvan gekies. Lees meer oor hierdie proses op die AgriOrbit webtuiste: https://agriorbit.com/veeplaas-klimaatslim-ambassadeur-2024-finaliste/
Dr du Pisani het daarna besoek afgelê by elk van die drie finaliste, Charl Saunderson uit die Kenhardt-omgewing, Paul Collett wat by Cradock boer, en Hendrik Odendaal wie se plaas net buite Standerton geleë is. Hy was telkens deur Plaas Media-verteenwoordigers vergesel. Die doel van hierdie besoeke was om die finaliste se klimaatslim boerderypraktyke van nader te bestudeer en hulle aanvanklike vraelys-antwoorde te verifieer. Waar nodig was die punte op- of afwaarts aangepas en ‘n finale punt uit 100 is aan elke finalis toegeken. En uiteindelik, na baie kilometers en besoeke aan hierdie drie uitsonderlike produsente, is die wenner gekies …
… die 2024 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur is…
Charl Saunderson! Charl is ‘n bekende boer in sy omgewing en boer met ‘n Dorperstoet naby Kenhardt in die Noord-Kaap. Buiten dat hy in sy gemeenskap bekend is, is hy ook ‘n bekende gesig regoor Suid-Afrika en selfs op internasionale vlak.
Hy is tans die ondervoorsitter van die Noord-Kaapse tak van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), is die gasheer van ’n radioprogram op OFM genaamd “Boer dat dit bars met Charl Saunderson”, en is ook ‘n beoordelaar en voormalige raadslid in die Dorper-skaaptelersgenootskap van Suid-Afrika. En weens sy besonderse boerderypraktyke is Plaas Media trots om hom ook ons 2024 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur te noem.
Dr Louis du Pisani het talle goeie dinge oor Saunderson te sê asook waarom hy ‘n waardige wenner is. Kyk gerus hier na die aankondiging: https://youtu.be/33S_MM5ku0o?si=biAzvbWwaemTk32Q
2024 Veeplaas Klimaatslim Boeredag
Een wat die doelwitte van hierdie projek is om ander veeprodusente en landbourolspelers by te staan met praktiese kennis wat nodig is om hul boerderypraktyke te verbeter en sodoende die risiko’s van klimaatsverandering te mitigeer. Daarom kulmineer hierdie projek jaarliks in ‘n boeredag wat op die ambassadeur se plaas gehou word. Die vorige twee boeredae was baie gewild met meer as 100 mense wat elk van die dae bygewoon het.
Tydens die 2024-boeredag sal Saunderson teenwoordiges deur sy praktyke neem, dr Du Pisani sal ‘n klompie aspekte van klimaatslim boerderypraktyke bespreek (met betrekking to al drie vanjaar se finaliste), die projek se ankerborge sal elk ‘n praatjie oor ‘n toepaslike klimaatslim-onderwerp lewer, en ons sal hoor wat ander gassprekers te sê het. Die dag beloof om ‘n skatkis van kennis op te lewer, so moet nie hierdie gratis leerervaring misloop nie. Hou die pers en die Veeplaas Tydskrif Facebook-blad dop vir die aankondiging van die amptelike datum van vanjaar se boeredag.
Boeredag borgskap geleenthede
Hoewel die projek ankerborge het wat sekere eksklusiewe voordele geniet, is daar kleiner op-die-dag borgskappe beskikbaar. Vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak, kontak Deidré Louw op 066 231 2430 of stuur ‘n epos na deidre@plaasmedia.co.za.
Einde
Vir meer inligting oor die kompetisie, inskrywings of borgskappe, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of epos deidre@plaasmedia.co.za. – Persverklaring, Plaas Media