Estimated reading time: 2 minutes
Die Varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF) het Piet de Jager as sy nuwe uitvoerende hoof aangestel. Hy volg Anton Kruger op.
Kruger, wat op 68-jarige ouderdom aftree, het dié pos byna 14 jaar beklee. Hy het in ’n persverklaring sy dank teenoor die forum se raadslede uitgespreek vir hul ondersteuning gedurende sy ampstermyn.
De Jager bring uitgebreide ervaring in die landbou- en sakebedryf na die forum. Hy het voorheen seniorbestuursrolle by Agrimall Africa, Agri SA Enterprises, Ecofarma Southern Africa, en Afrilogic vervul.
Waardevolle ondervinding in die sektor
Sy loopbaan het as geoktrooieerde rekenmeester by PricewaterhouseCoopers begin, waarna hy by sy familie se boerdery in Hluhluwe betrokke geraak het. Daar het hy onder meer pynappels vir uitvoer geproduseer, ’n Brangus-stoetery bestuur, en ’n toerisme-onderneming bedryf. Sy betrokkenheid by georganiseerde landbou het later tot ’n rol as projekbestuurder by Deloitte Consulting gelei, waar hy aan landbou-ontwikkelingsprojekte in Afrika gewerk het.
Volgens Mark Jensen, voorsitter van die FPEF, sal De Jager se kundigheid in strategiese verhoudingsbou en die ontwikkeling van geteikende strategieë waarde tot die forum toevoeg. Na meer as twee dekades in die sektor, beskik hy oor insig in handel, markontwikkeling, transformasie, en innovasie.
De Jager het sy voorneme uitgespreek om op die forum se bestaande grondslag van integriteit en impak voort te bou, en om die organisasie se rol in die bevordering van mededingendheid te versterk.
Om ’n gladde oorgang te verseker, sal Kruger tot die einde van 2025 saam met De Jager werk. Die FPEF-raad het Kruger vir sy leierskap bedank en sien uit na samewerking met De Jager. – FPEF-persverklaring geredigeer deur Plaas Media


