Pasteurellose: Asemnood lei tot die dood

Estimated reading time: 4 minutes

Pasteurellose of ‘bontlong’ is ’n ernstige, aansteeklike respiratoriese siekte wat algemeen deur die organismes Mannheimia haemolytica of Pasteurella multocida veroorsaak word. Dit kom dikwels voor by diere wat spanning ervaar, vervoer word of onlangs gespeen is. Indien diere aan spanningsvolle toestande onderwerp word, kan die organisme baie vinnig vermeerder.

Gareth Bath, emeritusprofessor van die Fakulteit van Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, verduidelik dat die onvermoë van diere om suksesvol in ’n voerkraal aan te pas, dikwels tot Pasteurella-infeksies lei. Volgens hom is dit een van die grootste oorsake van sterftes in voerkrale.

Verskeie ander faktore dra egter tot die vatbaarheid van diere by, soos skielike temperatuurveranderinge, winderige toestande, swaar reën of koue, ’n stowwerige omgewing of skuur, en vervoer in swak-geventileerde vragmotors. Swak ventilasie veroorsaak dat die organisme vinniger versprei.

Kliniese tekens en kenmerke

Kenmerkende eienskappe van hierdie siektetoestand sluit longontsteking, hoë koors en nasale uitskeidings in. Kliniese tekens is onder meer geforseerde en vinnige asemhaling, hoesbuie, ‘n onwelriekende neusafskeiding, lusteloosheid en ’n gebrek aan eetlus. Prof Bath sê diere wat hierdie tekens toon val gewoonlik terug wanneer die trop beweeg.

Jong diere kan skielik en sonder enige siektetekens sterf – dit veroorsaak ’n enorme verlies vir produsente. Nadoodse patologiese ondersoeke bevestig oor die algemeen verdagte donkerrooi of pers massas, veral in die laer dele van die frontale lobbe in die longe.

Die longdele is swaar, voel soos lewerweefsel en kleef dikwels aan die ribbekas vas. In kroniese gevalle sal die longe grys vertoon en dikwels met jaagsiekte verwar word. (Jaagsiekte is ‘n aansteeklike, kroniese longkanker wat skape en soms ook bokke aantas.) Om dié raaiselagtige sterftes te verklaar, is dit raadsaam om longmonsters vir patologiese ondersoeke te stuur.

Die Pasteurella-organisme kom natuurlik in die boonste lugweg van diere voor. ‘n Nadoodse evaluasie van die longe deur ’n veearts is nodig om te bepaal of die dier weens pasteurellose gesterf het. Minstens ’n derde van die long moet geaffekteer wees voordat ’n diagnose gemaak kan word. Die diagnose steun gewoonlik op geskiedenis, kliniese tekens en nadoodse patologiese ondersoeke. In sommige gevalle word ’n bakteriologiese ondersoek benodig.

Lees meer: Boer goat management (Part 6): Diseases

Behandeling en voorkoming

Vroeë intervensie met geregistreerde, langwerkende antibiotika soos tetrasiklien, sulfonamiede en florfenikol, sowel as anti-inflammatoriese middels is noodsaaklik wanneer die eerste siektetekens verskyn. Vroeë optrede verminder sterftes en die diere kan volkome herstel. Herstel kan tot sewe dae na die eerste toediening van antibiotika neem. Alternatiewe antibiotiese behandeling behoort met jou kuddeveearts bespreek te word.

Die beste manier om pasteurellose uit die kudde te hou is deur voorkomend op te tree. Dit behels die vermindering van spanning in die kudde, vermyding van bydraende faktore en die korrekte immunisering van diere elke ses maande. Beskikbare, geregistreerde entstowwe sluit Mannheimia haemolytica tipe 1, 2 en 6, asook Pasteurella multocida tipe A en D in.

Volgens prof Bath is 15 stamme van M. haemolytica en vier van P. multocida in Suid-Afrika geïdentifiseer, en daarom kan sterftes weens pasteurellose steeds voorkom, selfs al immuniseer ’n produsent sy kudde elke ses maande. Dit gebeur omdat die stamme nie deur die betrokke entstowwe gedek word nie. In hierdie gevalle moet ’n deeglike bakteriologiese ondersoek gedoen word om die veroorsakende organisme en stam te bepaal.

Prof Bath verduidelik dat ’n uitsonderlike skokreaksie by diere kan voorkom. Hy raai produsente aan om eers enkele diere in te spuit voordat die hele kudde ingespuit word. Nes enige ander entstof, moet die produkte streng volgens die riglyne gebruik en by die korrekte temperatuur van tussen 4 en 20°C geberg word.

Pasteurella staan nie verniet in Engels as transit of shipping fever bekend nie; daarom word die volgende vervoer-verwante wenke aanbeveel om infeksie hok te slaan:

  • Voorsien gespeende lammers en bokke van ’n aanvullende dieet minstens twee weke voordat hulle die plaas verlaat.
  • Verkoop die diere in groepe en hou hulle verkieslik bymekaar op die nuwe plaas.
  • Vervoer die diere direk vanaf die oorspronklike plaas na die voerkrale.
  • Hou die vervoerafstand so kort as moontlik.
  • Behandel die diere met sorg sodat hulle tydens vervoer kalm bly.
  • Gebruik slegs betroubare en ervare vervoer.
  • Moenie siek, swak of beseerde diere vervoer nie.

Kortom: Die risiko van respiratoriese infeksies kan beperk word deur stresfaktore soos oorbevolking, swak ventilasie, stof, hittestres en slegte weersomstandighede te verminder. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Four agricultural labour law myths

Estimated reading time: 4 minutesWhen employers rely on incorrect assumptions rather than the law...

Sosiale media en die reg: Wees baie versigtig

Estimated reading time: 4 minutesOmdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of...

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar...

Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutesLantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by...